Thursday, May 12, 2011

Wanneer dit 'n probleem raak om gelukkig en bly te wees. Oor die spiritualiteit van vreugde.


Een van die navorsingsgroepe in Engeland met wie ons saamwerk op die gebied van spiritualiteit, fokus spesifiek en sterk op geluk as ‘n belangrike aspek van spiritualiteit. Hulle lees die Bybel met die oog op wat dit met geluk te doen het. Dit was vir my altyd weer ‘n opvallende invalshoek, maar ‘n mens verstaan dit wanneer ‘n mens na die Engelse en miskien selfs Europese konteks kyk.

Ek het juis voorheen geblog oor Engelse media-berigte wat ek versamel het oor geluk (vreugde of “happiness”).  Hierdie belangstelling val nie sommer uit die lug nie. Dit hang onder andere saam met die amptelike staatsbeleid in Engeland om die geluk van inwoners van die land te bevorder.

Hoe prominent die motief in spiritualiteitskringe ook in Nederland is, blyk uit ‘n populêre tydskrif met die naam “Happinez” wat besonder gewild in Nederland is en wat oor spiritualiteit wil berig. Baie Nederlanders wat “spiritueel” wil wees, lees Happinez.

In ‘n proefskrif wat pas in Nederland oor geluk verskyn het, word vertel van ‘n wetenskapike vaktydskrif met die naam Journal of Happiness Studies. Die proefskrif self (geskryf deur Bergsma; kyk sy webwerf: http://grootstegeluk.nl), is ‘n teken van die prominente plek van geluk in die samelewing en die belangstelling daarin.

In ‘n tyd dat dit in ryk, eerste-wêreldse samelewings met mense baie goed gaan, vertel die proefskrif, is hierdie fokus ‘n teken dat geluk en vreugde nog in baie mense se lewens soek is. Mense skryf so baie daaroor omdat hulle ‘n behoefte daaraan het en nie altyd weet hoe om dit te verkry nie. Daar is dus genoeg ongelukkige mense dat baie boeke en tydskrifte oor geluk wil skryf.  

Die soeke na geluk vertel van die gebrek aan geluk!

Daar is egter ook ‘n duidelike sielkundige motivering vir die belangstelling in geluk: ‘n mens, word soms gesê, moet nie altyd op die teenslae en lyding van mense konsentreer nie. Help mense om na hul sterk punte te kyk en leer hulle om dit sterker te ontwikkel. Dan is geluk binne bereik Solank mense op die manier gehelp word, kan hulle deur hulle eie innerlike krag die negatiewe oorkom.  

Dus, skryf die proefskrif, sou ‘n mens van ‘n geluksideologie in ons tyd kon praat. Dit is ‘n tyd waarin mense geluk jaag en jag.

Maar, nou is dinge nie so maklik nie asof geluk die antwoord op die geestelike reis is. Waarom, dan, is daar meer selfmoord-gevalle in lande waar mense die gelukkigste is (bv. in Denemarke en Swede), soos uit onlangse navorsing duidelik blyk?

Hiervoor is daar baie verklarings. Een daarvan is dat mense wat nie in geluk deel nie, soms uiters desperaat en self-vernietigend kan optree as hulle dit nie ook ervaar nie.

Maar, vertel die proefskrif, dit kan wees dat die strewe na geluk mense verkeerd instel teenoor negatiwiteit. Binne ‘n geluksideologie word ervarings van hartseer, angs en woede as indringers beskou in ‘n bestaan wat seepglad en blink moet verloop. Geluk sou dan beteken dat ‘n mens nie aan negatiewe dinge in jou lewe ruimte gee nie. By vele mense word die soeke na geluk dus iets wat volmaak bereik moet word sodat daar geen ruimte in 'n mens se lewe is vir enige iets wat jou gevoelens van geluk kan belemmer.

‘n Mens moenie die probleem van hierdie instelling onderskat nie. Mense wat dink dat die lewe net seepglad en blink moet wees, het navorsing uitgewys, kan nie teenspoed hanteer nie. As hulle nie rekening hou met die feit dat dinge soms verkeerd loop nie en dat alles nie altyd bly en vrolik kan wees nie, het hulle nie raad met die donker kante in die lewe nie.

Vergelyk hiermee mense wat weet dat die lewe altyd sy donker kante en teenspoed gaan hê. Hulle ontwikkel vermoëns om sulke tye te hanteer. Dit bring groter selfvertroue, want hulle ontwikkel vaardighede om deur hulle teenspoed te werk. Om ongelukkig te wees, kan dus vir ‘n mens ook goed wees!

Daar is ‘n ander kant van die fokus op geluk: Dit is ook opvallend dat mense wat net op geluk ingestel is en die negatiewe volledig wil uitskakel, dikwels hulle eie moontlikhede oorskat. Hulle kry nie dinge gedoen nie, rond nie projekte af nie en is minder suksesvol. Dit is ook in navorsing bewys dat selfs mense wat in swak, benarde omstandighede leef geluk ervaar.

In die boekie The Secret wat ‘n tyd gelede so ‘n groot treffer was, kry ‘n mens iets van hierdie geluksideologie. Jy moet gelukkig voel, dan sal jy suksesvol wees. Geluk kom net na mense wat gelukkig is. As ‘n mens positief ingestel is, kom jou sterk kante nog sterker na vore en bou jy aan ‘n suksesvolle toekoms.

Die boodskap hier is eintlik belaglik: As ‘n mens ongelukkig is, is hulle antwoord dat die enigste oplossing dat jy gelukkig moet word. Dit is die vreemde gevolg van die geluksideologie.

By die lees van die berigte oor die proefskrif, is dit vir my duidelik hoe belangrik geluk is. ‘n Mens wil, ook binne die klassieke spiritualiteit, volwasse en heel word. Iemand wat omvorm word uit die donkerte tot die lig, ontvang uiteindelik daardie vrede wat volkome vreugde gee. Maar te veel onderskat ons dat hierdie heling en groei ‘n proses is. Geluk is inderdaad bereikbaar, maar dit is nooit ‘n kalmvrye, “happy” en goeie, aangename gevoel nie.

Geluk het ook te doen met so iets dat ‘n mens die stryd kan stry, dat die stryd nie verlore is nie, dat ‘n mens te midde van die stryd ook vrede kan hê. Meer nog, het geluk te doen met die feit dat mense om my gelukkig is. Om in voorspoed te leef in ‘n land vry van misdaad en vol reuse-winkels, is lekker. Maar dit gee nie innerlike vervulling nie. Dit het te doen daarmee dat baie van die grepe na geluk, die soeke na happiness self-gerig en selfsugtig is. Dit het ook te doen met die wilde individualisme waar die eie behoefte die belangrikste is. Ons dink, solank ek maar gelukkig is, is dinge reg.
 
Geluk vra nog om diep deurdink te word.....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive