Dit bly boeiend om te sien hoe mense in die vroegste tye God se wil vir hulle lewe herken het. Ons het gesien hoe God se wil in die Ou Testament deur die profete aan Israel en aan mense bekend gemaak is. God het die volk nooit in die duister gelaat nie, maar steeds weer die goddelike wil bekend gemaak en gesorg dat dit begryp en verstaan word. Die profete was die groep mense wat vir die volk begelei het in hul soeke om God te volg in die goddelike weg met hulle lewe.
Maar God het dit ook buite Israel gedoen. Josef het die wil van God in Farao se drome begryp en aan hom uitgelê. Hy is ‘n voorbeeld van die wyse manne wat ‘n rol speel in die onderskeiding van God se wil. God gebruik wysheid en insig om vir mense die pad aan te wys.
Maar in wysheid, het God ook ander maniere geskep waardeur mense kon verstaan wat die eindpunt van hul geestelike reis was. Die priesters, sou ‘n mens dink, is maar net daar om offers aan God in die tempel te bring. Maar daar is voorbeelde in die Ou Testament waar ‘n priester tot God nader op versoek van ‘n gelowige om te vra wat God se wil vir hom of haar is. Só ‘n verhaal lees ons in 1 Samuel 23:11, skryf Waaijman, wanneer Dawid die priester Abjatar nader en vra: “Here, God van Israel, ek is u dienaar. Ek het verneem dat Saul na Keila toe wil kom om die stad te verwoes omdat ek hier is. Sal die regeerders van Keila hom aan my uitlewer? Sal Saul optrek soos ek verneem het?”
En dan kom die baie pertinente vraag van Dawid deur die priester: “Here, God van Israel, lig my tog in.”
Soekend na God se wil, nader Dawid die priester. Dawid wil die besluit nie op sy eie neem nie. Hy soek lig by hulle wat in diens van God staan.
Net so bekend is die werp van die lot om God se wil bekend te maak. In die Nuwe Testament vertel Handelinge 1:23-26 hoe die elf apostels vir Mattias in die plek van Judas kies. Hulle bid dat die Here sal bekend maak wie God as die twaalfde apostels wil hê. “Here, U wat die harte van almal ken, wys die een aan wat U uit hierdie twee verkies het. Daarna het hulle die lot gewerp en Mattias is gekies. Maar voordat hulle die lot gewerp het, het hulle ook eers gekyk wie die mees geskikte kandidate is. Die werp van die lot was in die Ou Testament ‘n bekende manier om God se wil te ontdek. Waaijman verwys byvoorbeeld na 1 Samuel 14:41. Die werp van die lot was ‘n heilige handeling wat in afhanklikheid en eerbied gedoen is.
Wat ons ook al van die werp van die lot mag dink, kan ons nie die basiese gedagte ten grondslag daarvan mis nie. Die mens besef dinge is nie altyd helder nie. Die geestelike reis is soms in duister gehul. Om God se wil in donker, onseker tye te herken, is nie maklik nie. Elke keer weer moet ‘n mens daarna soek, in geselskap van ander, afhanklik, eerbiedig. Dit het mense van die vroegste tye besef. Profete, wyse mense, priesters, leiers onder die eerste Christene, was almal gedurig op soek om die verborge wil van God vir hulle lewe te herken.
Dit is ‘n boeiende saak: dit het ook te doen met die besef van hoe maklik ‘n mens jou eie pad kan loop, hoe gou ‘n mens se geestelike reis deur jou eie wil bepaal kan word. Dit is ook ‘n aangrypende saak: iewers het die geestelike mense gedurig ‘n besef dat groter dinge as eie-belang sy of haar geestelike reis bepaal. Dit is ook ‘n verootmoedigende gedagte. Ons kan nie alleen reis nie. Ons doen dit altyd in geselskap van ander. En dan veral met hulle wat die pad gereeld saam met God loop. Die “gesalfdes” van God, die “dienaars” van God, die getuies van die Here, die profete, die priesters, die apostels, die mede-gelowiges, is ons metgeselle deur wie ons God se wil vir ons lewe leer verstaan. God wys dit aan, maar ons moet in gemeenskap met die heiliges dit begryp en verstaan.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.