Monday, May 02, 2011

Die keuse by die kruispunt. Onderskeiding van die wil van die Here (3).



Hierdie is 'n moderne weergawe van die smal en wye weg.




In die vorige blog oor hoe ‘n mens God se wil vir jou lewe onderskei, soos Waaijman dit in sy spiritualiteitsboek verduidelik, het dit duidelik geword hoe die Bybel self al vertel hoe ‘n mens van die begin af die rigting van jou geestelike reis kies. Daar is in die Bybel twee moontlikhede: ‘n Mens kan die pad van die lewe of die pad van die dood loop.

Dit is die Here se wil dat ‘n mens die pad van die lewe moet kies.

‘n Mens kan baie maak van die feit dat spiritualiteit oor ‘n geestelike reis gaan. Dit is egter nie die geestelike reis wat tel nie. Heel belangrik is dat ‘n mens op jou geestelike weg die regte koers moet inslaan.

Daarvoor moet jy ingestel wees op die regte koers.

‘n Mens kan baie geestelik wees. Om elke hoek en draai kan jy Bybelversies uitdeel, vroom dinge vertel, heilig lewe. Dit beteken nog nie dat ‘n mens God se pad met jou lewe loop nie. Neem nou maar as voorbeeld die baie kere in die tyd van die profete dat die volk heilig in die tempel aanbid het, tonne offerandes getrou gebring het. Intussen het hulle reg en geregtigheid verkrag. Hulle het duidelik ‘n verkeerde koers met hulle lewe ingeslaan.

Die eerste groot vraag is dus is dus vir die geestelike reisiger om te toets of sy of haar reis tot die lewe lei en of dit dood en verwoesting saai.

Hierdie gerigtheid op die regte koers was in die tye na die Bybel vir die kerk baie belangrik. Trouens, die motief van die twee weë – die goeie en die slegte pad – het baie prominent in die tradisies van die kerk gefunksioneer.

In hierdie blog word nou eers na ‘n paar van hierdie baie voorbeelde in die kerklike tradisie van latere tyd gekyk en dan meer op die inhoud van daardie voorbeeld ingegaan.

Geestelike tradisies oor die geestelike weg.
Die beroemde Qumran-groep in Israel wat in die eerste twee eeue voor en na Christus naby die Dooie See in ‘n eie gemeenskap en in grotte gebly het, het in hulle geskrifte gepraat van ‘n omvattende, wêreldwye stryd tussen goed en kwaad. ‘n Uitspraak in een van hulle geskrifte lui:

Die Prins van die Lig heers oor regverdige kinders van God.  Hulle wandel op paaie van die lig. Die engel van Duisternis het egter totale heerskappy oor die kinders van ongeregtigheid. Hulle wandel op paaie van die duisternis.

Die Herder van Hermas, ‘n bekende en geliefde vroeg-Christelike geskrif uit die tweede eeu n.C. skryf dat mense deur twee engele, ‘n engel van die lig en ‘n engel van die duisternis, begelei word. Hierdie twee engele bepaal die mens se begeertes.

Die bose begeerte is moeilik beheerbaar. Dit is angstig en deur sy wildheid vernietig dit mense. Wanneer ‘n dienskneg van God sy slagoffer word en onwys optree, kan dit groot skade verrig.

Maar, vertel hierdie teks verder, die goeie begeerte bewerk geregtigheid, deug, waarheid, ontsag vir God, geloof, sagmoedigheid en ander sulke kenmerke.

Ons kry dieselfde gedagtes oor die goed en die kwaad by die bekende kerkvader Origines, wat op sy beurt weer die woestynvaders beïnvloed het. Ook die beroemde kerkvader Athanasius het baie geskryf oor die strategieë van die bose geeste om mense tot ‘n val te bring en watter maatreëls nodig is om hulle te beveg. Deur Evagrius van Pontus en Cassianus het hierdie insigte en ervaringe groot invloed op die Westerse monastieke lewe gehad. Bernard van Clairvaux het verder gekryf oor die geestelike stryd tussen goed en kwaad, vryheid en dwang, lewe en dood, materie en gees. Mense, skryf hy, sal net heel en gesond wees as hulle stry teen die kwaad wat gedurig oor hulle pad kom. By Bernard leer ‘n mens dus die groot lewenswaarheid: uiteindelik gaan dit in ons lewe om die een groot keuse wat ‘n mens moet maak : ‘n mens moet vir die goeie en teen die kwaad kies. Ons geestelik reis bestaan uit die daaglikse keuse wat ons vir God of teen God maak.

‘n Mens onderskei God se wil vir jou lewe deur die goeie te kies en die kwaad te verwerp. Die een bring lewe, die ander bring die dood.

Om die bose te ontmasker
Uit Waaijman se bespreking oor die geestelike reis wat telkens voor die kruising van twee weë te staan kom, en dat ‘n mens die goeie rigting moet soek, het baie verskillende kante. Hoe kies ‘n mens nou die goeie rigting?

Waaijman se bespreking is heel prakties, met nuttige insigte. Eerstens word duidelik dat die geestelike reis om elke hoek en draai ‘n afdraaipaadjie het. En die duisende afdraaipaadjies lyk telkens soos die ware jakob. Die uitdaging om te kies, om die wil van die Here te soek, is nie iets wat af en toe op die groot oomblikke van jou lewe oor jou pad kom nie. Daar gaan skaars ‘n oomblik verby voordat ‘n mens opnuut weer by ‘n kruispunt kom en vir die goeie dinge moet kies. Die een weg is God se weg en die ander een is die weg van die bose.

Dit is nie maklik om by hierdie kruispunt te kies nie. Die bose straal ‘n aantrekkingskrag uit wat ‘n mens moeilik kan weerstaan.  Maar ‘n mens moet nou nie dink dat jy hulpeloos is, asof die bose se mag onweerstaanbaar is nie. Die mens laat die bose toe om onweerstaanbaar in sy of haar lewe in te gryp. Die mens verloor nooit sy vermoë om teen de bose te kan kies nie, beklemtoon Waaijman. Cassianus verduidelik dit deur op die Bybel terug te val. Hy skryf byvoorbeeld oor Jesus se opdrag aan die dissipels om die tekens van die tye te herken (Lk.12:57) as volg:  “Jesus sou dit nie vir sy dissipels gesê het as Hy nie gedink het dat hulle deur hulle normale oordeelsvermoë ‘n keuse kon maak nie.”

Deur die mens se oordeelsvermoë kan die bose herken en weerstaan word.

Nogtans bly dit nie maklik nie. Dit is immers ‘n stryd om lewe en dood. Dit is soveel moeiliker omdat die bose ‘n slinkse, verborge houvas op mens kan kry. Die bose bedink vele maniere om die mens se houding, denke en wil te stuur. Die bose is nie altyd op ‘n herkenbare, vaste manier in mens se geestelike reis aan die werk nie. Daar is nie op die geestelike pad sekere dele aan die bose toegesê waar die bose woon en werk nie. Die bose kan enige plek en enige tyd toeslaan, skryf Waaijman.

Dit vra van die geestelike mens ‘n bepaalde instelling van waaksaamheid. ‘n Mens is waaksaam deur te bid, te mediteer en deur handewerk te doen. Maar ook hier moet ‘n mens realisties wees – want die bose kan juis in ‘n mens se waaksaamheid gaan wegkruip. Die bose kan selfs in die goeie dinge toeslaan. Hy steek homself weg – hy doen hom selfs voor as ‘n engel van die lig. Die bose maak sy merk byvoorbeeld wanneer die mens bid. In die kloosterlewe is byvoorbeeld geleer dat ‘n monnik veral moet let op die werk van die bose op die middaguur: wanneer ‘n mens begin lui word, jou aandag begin wankel, want dit is warm, die dag is lank, jy is honger, dan weet jy – dit is tipies van die bose se werking.

Die bose werk op baie ander maniere. Dit skep wanvoorstellings. Dit verteken die realiteit en saai verwarring, bring verminking en verdraai dinge met verskriklike gevolge. Dit verlei mense deur fantastiese beelde, stemme en suggestiewe voorstelle.  

Die bose weet ook presies wat die swak plekke in die mondering van die geestelike reisiger is. Hy maak ‘n appel op die swakste plekke van die mens se denke en sintuie. Waaijman skryf, interessant, dat besluiteloosheid en innerlike verwarring is ‘n gunsteling aanvalspunt vir die bose. Verder is sekere menslike swakhede en feilbaarhede ook ‘n teiken vir slegte invloede. Veral omdat die mens alles vir homself wil toeëien, is hy of sy swak en manipuleerbaar. Self-oorskatting, trots en fanatiekheid veroorsaak die val van die mens en maak hom of haar ‘n slagoffer van die kwaad.

Op die manier moet die geestelike reisiger dus die strategie van die bose herken en gereed wees met ‘n antwoord. Maar terselfdertyd moet die mens gedurig toets of hy/sy wel ‘n goeie antwoord gegee het en wel die goeie weg gekies het.

Hoe weet ‘n mens dat dit ‘n goeie antwoord was, dat die weg reg is? Meestal sal ‘n mens dit herken wanneer dit lei tot die vrug van die Gees in ‘n mens se lewe (Gal. 5:19-24). Só skryf iemand:  “Wanneer die koninkryk van God in ‘n mens is, is dit ‘n koninkryk van geregtigheid vrede, vreugde. Wie hierin bly, is deel van God se koninkryk. Daarteenoor is die mense wat onreg pleeg, twis stig en gedurig kerm in die koninkryk van die bose.” Op die manier kan ‘n mens tussen die wil van God en die wil van die Bose onderskei.

Volgende keer wil ons al hierdie insigte mooi netjies opsom en uitspel.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive