In die Bybel word die interpretasie van God se wil nie net deur die profete gedoen nie (sien gister se blog). Ook die wyses vertel aan mense wat God se planne met hul lewe is. Hiermee word die onderskeiding van God se wil ook met die kategorie van “wysheid” verbind.
Dit is veelseggend. ‘n Mens pluk nie sommer antwoorde oor wat God wil hê uit jou mou nie.
In die Ou Testament word God se wil slegs met spesiale insig en wysheid onderskei. Daar is die beroemde verhaal in Genesis 40 van die skinker en bakker van Farao wat op ‘n storie-agtige manier hierdie insig beklemtoon. Hulle het Farao vies gemaak en daarom laat hy hulle in die tronk gooi – waar Josef op daardie stadium ook is. Toe kry albei ‘n droom “met besondere betekenis” (Gen.40:4). Hulle was ontsteld oor die drome en het vir Josef “droewig gelyk”. Hulle begryp dus dat hier iets spesiaals aan die gang is. God se wil kom tot hulle op ‘n verborge, bedekte manier. Uit hulleself kan hulle nie die betekenis daarvan bepaal nie.
Toe Josef hulle uitvra oor hul droefgeestigheid, antwoord hulle dat dit is omdat niemand hulle drome vir hulle kon uitlê nie (Gen.40:8).
Josef, in sy wysheid, weet duidelik waarom dit gebeur. Hy antwoord met insig: “Is uitlegging nie ‘n saak van God nie?” Daarmee gee hy op ‘n diepsinnige manier te kenne dat die bekendmaking van God se wil in tekens saam loop met die uitleg van daardie teken deur God self. Die intepretasie van die wil van God kom dus nie op uit die menslike hart nie en is nie binne die menslike vermoë nie. Dit verg “wysheid” wat God aan mense skenk.
Daarop lê Josef die drome uit – maar die implikasie is dat God aan hom die insig skenk. Sy uitleg is lewensbepalend: Die skinker se droom beteken hy gaan weer sy werk terugkry, maar die bakker sal deur Farao opgehang word. Indirek is Josef se uitleg egter van groot belang vir sy eie lewe en ook vir die lewe van die verbondsvolk, want later sal God die skinker gebruik om ‘n groot ommeswaai in Josef se lewe te bewerk.
Die verhaal raak egter nou nog spannender. Josef se uitleg van drome eindig nie in hoofstuk 40 nie. In Genesis 41 kry Farao self sy bekende droom van die vet en die maer koeie, die een klomp lelik van aansien en die ander klomp mooi van aansien en sommer lekker vet – soos die Ou Afrikaanse vertaling dit vertaal. Farao se tweede droom gaan oor sewe maer en vet are.
Farao is ook bewus dat die drome spesiale betekens het. Sy drome laat hom ook onrustig. Hy soek dus die dieper betekenis daarvan en daarom ook, in die konteks van die Ou Testament vra hy dus na die wil van God.
Hoe hy dit doen, is veelseggend. Hy weet hy het wysheid nodig. Daarom laat hy al die “towenaars” en “wyse manne” van Egipte roep, maar niemand kan vir hom die droom uitlê nie (vers 8). Die groot wending kom wanneer die skinker hom vertel van Josef.
As Farao sê hy hoor dat Josef drome uitlê, antwoord Josef: “Niks vir my nie! God sal Farao ‘n gunstige antwoord gee.” Weer eens is die bedoeling duidelik. Die teken, maar ook die verklaring kom van God self. En daarom vra dit vir iemand wat van God afhanklik is vir ‘n insig in wat God se wil is.
Dit is die verborgenheid: dubbele afhanklikheid van God – die teken en die verklaring kom van God.
Die wyse kan slegs God se wil herken in afhanklikheid van God. Dit is pure nederigheid, geen self-gerigtheid nie! ‘n Mens kan verstaan waarom die vroeë kerk die profete mooi dopgehou het om te kyk of hul uitleg van God se wil hul eie aansien wil bevorder.
Josef se woorde nadat hy Farao se drome hoor is kenmerkend van geestelike onderskeiding: “Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan was om te doen, het God aan Farao te kenne gegee” (vers 25; sien ook vers 28 en vers 32). Geestelike onderskeiding is dus gerig op wat God vra (die twee weë, die weg na God en nie die weg na vernietigingnie), maar ook die wyse insig in die oomblik wanneer God met ‘n mens praat. Die wyse mens kan die egte teken onderskei. Hy/sy weet wanneer God praat en wanneer God praat om die mens die wil vir sy/haar lewe uit te lê.
Boeiend in hierdie verhaal is hoedat Josef die lewe van Farao op ‘n veel groter wyse as bloot net in sy drome aan wysheid verbind. Die Farao se regering moet in die algemeen in wysheid geanker wees. God se wil bring ‘n mens in die wysheid tuis. Josef se raad aan Farao is daarom om ‘n verstandige en wyse man aan te stel in wie die Gees van God is (verse 33 en 38). Waarop Farao terstond vir Josef aanstel.
Genesis 41 integreer die drome-verhale in ‘n verhouding van God met mense wat hul lewens transformeer en in ‘n hele proses opneem. Dit is egte spiritualiteit. Josef se verhouding met en vertroue op God word in die res van die verhaal daarom pertinent uitgelig (sien verse 51-52). Hy vernoem sy seuns in terme van sy ervaring van God. Die goedheid van God, ten spyte van sy reis deur vervolging en die tronk heen, word deur hom intens beleef, gevier en herdenk. Die wysheid van Josef om God se werking in sy lewe raak te sien skyn ‘n helder, helder lig oor hierdie verhaal. Dit is nie sterre-vertellery nie, dit is nie drome uitlê nie, dit gaan om God se verborge wil vir ‘n mens se lewe met wysheid te onderskei.
Daniël 2 is ‘n pragtige voorbeeld van die verwagting dat wyse manne drome moet uitlê. Hierdie verhaal is baie naby aan Genesis 40-41 en gee dieselfde patroon van die onderskeiding van God se wil bekend.
In die gedeelte word verder ook dieselfde patroon as by die profete gevind: God kommunikeer met mense, maar God openbaar ook deur die wyse manne wat daardie kommunikasie beteken.
Waaijman verwys in sy hoofstuk oor die onderskeiding in wysheid na Jesaja 19:12 waar Jesaja sarkasties oor Egipte sê: “Waar is hulle dan, jou wyse manne? Laat hulle jou tog te kenne gee, dat ‘n mens kan weet wat die Here van die leërskare oor Egipte besluit het.”
Ook hier moet wyse manne onderskei wat God se wil is. God se wil moet nie net met wysheid gesoek word nie, maar met die regte soort wysheid. Dit is die soort van wysheid wat Josef en Daniël gehad het – ‘n wysheid wat van God kom en nie op menslike manier uitgedink word nie.
In Matteus 16 word vertel dat die Fariseërs en Sadduseërs na Jesus vir ‘n teken gekom het. Jesus reageer deur te sê dat hulle die tekens in die natuur wel kan “onderskei” (vers 3). Maar die tekens van die tye kan hulle nie onderskei nie. Dit is ‘n ironie, maar die rede is duidelik: God se wil is nie soos die natuur s’n nie, asof ‘n mens ‘n teken kan sien en dan onweer of goeie weer kan verwag nie. Die Fariseërs en Sadduseërs het net nie die vermoë, die wysheid (!) om na die wêreld uit die gesigspunt van God kyk nie. Wanneer God ‘n teken oor die regte oomblik, die kairos gee, is dit vir hulle verborge, bedek en ontoeganklik. Dit sou die wyse, Jesus, vra om God se wil uit te lê.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.