Thursday, May 19, 2011

Die liefde as skans teen leed en lyding.

Alaric Lewis, die Benediktyn van Chicago, se dagboek oor verlies het ek in 2005 in Afrikaans vertaal en dit is mooi uitgegee deur Lux Verbi as 'n Seisoen van Heling

Ek het my soms verwonder oor die praktiese aard van sy opmerkings oor verlies. Kyk net na die onderstaande gedeelte. 
Verskeie dinge kan 'n mens uit die gedeelte op jou geestelike reis meeneem. Die mees basiese is sy dieper dink: van 'n doodgewone son-baaiery dring hy deur na die hantering van verlies. 'n Mens breek vir 'n oomblik weg uit jou droefheid en seerkry. En die asemskep in die natuur bring perspektief. Des te meer wanneer 'n mens dit religieus kan vul. En die godsdienstige invulling word met die grootheid van die liefde gedoen. Uiteindelik is al wat 'n mens werklik van jou leed vrymaak, die liefde. Daarin kan ons ons nie genoeg verloor nie - dit is die liefde wat ons 'n skans bied teen die leed. 

Ek sit en dink wat die mistagoog tog alles hier van kan maak: hoe om hulle wat vasgevang is in die depressie van verlies, op so 'n eenvoudige manier te laat asemskep. Daarom die diep mistagogiese gesprek wat afgewissel kan word met 'n gebed, 'n lied, musiek, 'n stap in die veld... 

Hier is die stuk:


2 Junie


“Here, u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke.”

      Psalm 36:6

Ek moet eenvoudig net soms in die son lê en bak. Ek weet dit is nie goed vir my nie, maar om die son se strale op my liggaam te voel is vir my gevoel een van die heerlikste sensasies wat ‘n mens kan hê . Miskien selfs wonderliker is die gevoel wat opkom by my om net op te kan staar na die oneindige, uitgestrekte hemelruim. Wanneer dit lyk of die druk, die worsteling en die treurigheid in die wêreld my wil oorweldig, is die paar minute wat ek bestee om op te kyk, genoeg om my bewus te maak hoe klein sommige van my probleme is in vergelyking met die liefde van God wat so groot is dat dit die wye hemel wat ek waarneem, kan vul. 


Ek het 'n navraag ontvang oor die boek. Dit  is uit druk, maar ek het nog 'n kopie of wat te kope. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive