Ons het gesien hoe die mens wat die geestelike reis aflê, telkens weer moet kies tussen die pad tot die lewe en allerhande afdraaipaadjies wat op die dood uitloop. Die Bybel en die kerk het deur die eeue heen baie verskillende dinge oor hierdie twee weë gesê. As ‘n mens dit nou netjies moet opsom, soos ons in spiritualiteit graag doen, kan ‘n mens die volgende uitspel.
Die geestelike reisiger het die vermoë om te sien dat hy of sy op twee maniere kan lewe. Dit, weer, kan ‘n mens vanuit vyf perspektiewe bedink, skryf Waaijman.
Eerstens kan ‘n mens so bly leef dat ‘n mens God se beeld in jou lewe uitstraal. God skep die mens om soos God in die skepping te leef. Maar daar is ook ander maniere waarop ‘n mens kan leef, maar hierdie bestaanswyses vermink God se beeld. Altyd weer, soek ‘n mens God se wil deur God se beeld uit te straal.
Tweedens kan ‘n mens ‘n lewenswyse najaag waarin die beeld van God misvorm word en bly. Of ‘n mens kan deur ‘n ommekeer ‘n lewenswyse najaag wat die oorspronklike bedoeling van God met die mens se lewe uitstraal. Altyd weer soek ons om te word wat God van ons vra.
Derdens kan ‘n mens ‘n bestaanswyse soek wat in ooreenstemming is met die goddelike-menslike model van transformasie en ‘n ‘n bestaanswyse wat niks daarmee te doen wil hê nie. Altyd weer soek ons God se wil in ons verlange om getransformeer te word.
Vierdens kan ‘n mens ‘n lewenswyse soek wat deur liefde bepaal word of ‘n bestaanswyse wat gedryf word deur selfgerigtheid. Altyd weer is God se wil die liefde.
‘n Mens kan gefokus wees op ‘n lewe wat die dood sien as transformasie tot heerlikheid, of ‘n mens kan so leef dat jou lewe in ‘n doodsdrif vasval. Altyd weer is God se wil dat ons nuwe lewe bring.
Al hierdie perspektiewe beteken dat ‘n mens heel konkreet kyk na wat praktiese in ‘n mens se lewe gebeur: ‘n mens moet die sigbare dinge beoordeel en onderskei wat in die werklike lewe plaasvind.
Maar om dit te doen moet ‘n mens dieper kan kyk. Jy moet kan sien dat die een manier van lewe verander en transformeer ‘n mens se lewe. Die ander manier van leef sal dit nie doen nie. Dit is dus altyd belangrik om onder die oppervlakte op ‘n dieper manier te kan verstaan. Dit gebeur ook wanneer ‘n mens besluit dat die bestaanswyse wat lewe bring, is ‘n goeie, egte, goddelike manier van leef, terwyl die ander pad sleg, vals, boos en dodelik is. Hoe jy die twee weë beoordeel hang dus ook af van jou dieper verstaan. Maar steeds weer moet ‘n mens prakties bly kyk na hoe lyk elkeen van hierdie lewenswyses. Daarom gaan sit ‘n mens terwyl ‘n mens jou voorstel wat die uiteinde van jou keuses sal wees. Heel konkreet bedink ‘n mens die volle konsekwensies van elke keuse wat jy doen.
Ons kan hierdie dinge bedink, verstaan, oorweeg en toets. Maar hoe dit werklik gaan lyk, sal afhang van die omstandighede van elke dag. Ons kan die koers van ons reis kies, genadiglik geseën deur die Gees. Maar hoe die reis presies lyk, sal afhang van wie ons is, waar ons ons bevind en wie almal oor ons pad kom. Maar tog moet ons ons soveel as moonlik kan inleef in hierdie reis. Tog, moet ‘n mens, as geestelike reisiger, jou liefs so diep as moontlik inleef in die moontlike gesigte van die reis.
‘n Mens moet kan dink aan wat gaan gebeur as ek sekere vriende het, sommige flieks kyk, by party winkels uitkom, na ‘n sekere plek gaan, in ‘n motor klim, ‘n bepaalde boek lees, iemand vriendelik groet – al hierdie dinge en nog baie meer kan die kwaad in die lewe inbring of dit besweer. En al hierdie dinge en nog baie meer kan my uitbring op plekke waar ek nie wil wees nie, of waar ek, as ek reg kies, volmaakte vrede sal vind.
Die reis moet mooi bedink word. Die roete moet deeglik beplan word. Die tonele moet helder in mens se gedagtes ervaar word. Om God se wil te begryp, moet 'n mens jou kan inleef in die roete wat jy loop.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.