Wednesday, May 18, 2011

Die uniekheid van lyding. 'n Mistagogiese perspektief


Met my vertaling in Afrikaans van Alaric Lewis se 'n Seisoen van Heel Word,  onthou ek goed hoe hierdie gedeelte my opgeval het. 
Ons wonder soms hoekom mense ontsteld raak oor skynbaar onskuldige, selfs mooi woorde waarmee ons hulle wil bemoedig. Hierdie gedeelte illustreer waarom. Lyding, veral die verlies van iemand naby aan jou is so intens en traumaties dat niemand sinvol daaroor kan praat nie en elke mens beleef dit op 'n unieke, eie manier. 

Die boek Job leer dit vir ons oor en oor. 

Mistagogie in sy nuutste vorme, in 'n egte spiritualiteitsin van die woord, vertel vir ons dat 'n mens nie ander te maklik moet raad gee van bo af nie. Dit is eerder beter om net daar te wees, 'n mede-reisiger. Ons goedbedoelde raad kan meer skade aanrig as wat ons dink. Laat mense toe om te rou, soos hulle alleen kan. Selfs al kan die mistagoog hulle rouproses peil nie.

Hier is die gedeelte:

1 Junie


“Niks is so nutteloos soos ‘n stelling wat veralgemeen nie.”

      Julia Crawford

Na die dood van my ma moes ek aanhoor hoe baie goedbedoelende mense so baie van dieselfde veralgemenende stellings teenoor my maak: Wees sterk, jou ma sou dit wou gehad het. Jy kan bly wees dat sy nie meer hoef te ly nie. Ek weet hoe jy voel, ek het my ma ook verloor. En, hoewel ek geweet het hulle bedoel dit goed, wou ek amper vir hullle skree: Hoe weet jy dit? – miskien sou my ma wou gehad het dat ek moet huil en treur. Terwyl ek dankbaar is dat sy nie meer ly nie, sukkel ek om daaroor te kom dat ek nog ly. Jy weet nié hoe dit is nie, want jy is jy en ek is ek.
            
Dit mag vir ons ‘n troos wees om te weet dat ander mense ook in hulle lewens terugslae ondervind het en daaroor gekom het. Maar dit troos ons ook om te weet dat niemand anders ‘n verlies ervaar heeltemal soos ons dit ondervind nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive