Saturday, May 07, 2011

Kwaad met kwaad. By die dood van die moordenaar....

Osama bin Laden verteenwoordig alles wat indruis teen die waardes van ‘n ordentlike, beskaafde samelewing.  Sy geskiedenis is ook deurtrek met kenmerke wat direk in stryd is met godsdienstige waardes – al het hy, ironies, aanspraak gemaak daarop dat hy gemotiveer is deur godsdiens.

Die televisie saai na die bekendmaking van die sluipmoord op hom beelde uit van mense wat vlae swaai, wat ronddans van vreugde en wat uitbundig sy dood vier.

Daar is in koerante van naam 'n artikel waarin reguit gesê word dat sy eliminering ‘n daad van weerwraak is vir sy veragtelike aanval op 11 September 2001. Weerwraak en vergelding word aangeprys as aanvaarbare, gepaste houdings. Hoekom, vra die artikel, moet 'n mens oneerlik wees oor ons inherente behoefte om terug te slaan? Laat ons dit nou maar herken en erken. Duidelik verteenwoordig dit heelwat mense se gevoelens.

Afsluiting vir hulle wat met die aanvalle geliefdes verloor het, is blykbaar vir vele mense nou eers moontlik nadat Osama bin Laden uitgewis is. En hier in Amerika is nog baie ondersteuners van die doodstraf. By hulle is geen twyfel dat hy tog nie ongestraf kan bly vir ‘n daad wat hy openlik as syne beskryf het en dat hy dus net die straf kry wat enige hof hom sou oplê. Oog om oog, slegs die dood van die moordenaar kan mense innerlik tot rus bring.

‘n Klomp ander sake kom ook ter sprake. Dit blyk nou president Obama wat aanvanklik gelyk het of hy sy voorganger se beleid van hardhandige ondervraging in Guantanamo Bay wou stopsit, die beleid stilweg voortsit. En, berig die media, dit is hierdie marteling van gevangenes wat uiteindelik die inligting verkry het wat sou lei tot die aanval op Osama bin Laden. Die geweld wat Osama losgelaat het, roep dus weer kontra-geweld op. Op die manier word die spiraal van geweld altyd groter en word die legitimiteit van geweld keer op keer opnuut bevestig en verdedig.

Ek dink terug aan my jeugjare, toe ondersteuners van die Nasionale Party hewig ontsteld was dat mense in die strate gesing en dans het toe Dr. Verwoerd in die parlement vermoor is.

So sou ander mense weer kon vra: hoe sou ‘n mens nie dankbaar kon wees oor die dood van Hitler nie?

Vele sulke gedagtes bly my by en maak dit moeilik om 'n eenvoudige reaksie vir myself uit te werk.


Des te meer omdat nie alle mense ‘n behae skep in die dood van die moordenaar nie.

Oor die wêreld heen is daar ernstige bedenkinge, sien ek in die media – nie soos onder die ondersteuners van Bin Laden nie, maar onder ingeligte, welmenende, dieperdenkende mense. Ek lees die goedgeformuleerde reaksies versigtig, met die hoop dat die gemengde gevoelens in my innerlike helderder uitgespel kan word.

Die man was onbewapen, roep vele mense uit. Selfs in ‘n oorlog is die skiet van ‘n ongewapende ‘n lafhartige daad. Ander is ontnugter omdat hulle Amerikaanse mede-burgers die dood met groot uitgelatenheid gevier het. Dit is, skryf hulle, eerder ‘n tyd vir besinning en nadenke. Ander weer, meen dat groot oorlogsmisdadigers soos Eichmann nie doodgemaak is nie, maar voor die hof gedaag en toe uiteindelik gestraf daarvoor. Selfs die groot kriminele het hul dag in die hof gekry.

Die aartsbiskop van Kantelberg, wat weet van die oneindige leed wat Osama bin Laden se veragtelike dade mense aangedoen het, maar wat ook weet hoe gevaarlik die bose kan wees en hoe die wese van godsdiens deur fanatieke terroriste aangetas word, skryf nietemin dat die doodskiet van ‘n onbewapende mens hom “ongemaklik” laat voel.

Dit, en nog vele dinge, bedink ek, die afgelope paar dae terwyl ek vir myself probeer helderheid kry.

‘n Mens kan maklik en vinnig praat. Maar ‘n mens kan ook te maklik aanvaar dat die doodskiet van kriminele iewers ‘n plek en ‘n tyd het. Hoe praat ‘n mens dan hieroor?

Dit is vir my duidelik uit die emosionele reaksies op die gebeure, dat enige vorm van kritiek nie gewild sal wees nie. “Rot in hel” is die voorblad-opskrif in een Amerikaanse koerant. Die patriotiese ondertoon aan hierdie emosies maak dat mense baie vinnig kritici as verraaiers brandmerk. 

‘n Mens moet ook eerlik wees, soos baie rubriekskrwers inderdaad is, en toegee dat ‘n mens eintlik ook maar bly is dat so ‘n gewelddadige, ongevoelige mens sy verdiende loon gery het.

Jy kan nou ook vroom opmerk: Dit is ‘n tragedie dat godsdiens die vure van woede en van moord aanblaas.

Maar dit is ook weer waar: daar is vele toegewyde mense wat in hierdie dae ook vanuit hul godsdienstige oortuigings worstel om die doodmaak van Osama bin Laden te verstaan.

Hullle waag dit om te dink en te sê dat hulle nie sommer net kan inval by die gejuig nie.

Maar as ek uiteindelik terugsit en dink – met nog vele vrae onbeantwoord, sien ek voor my geestesoog die 12 jarige dogter wie se haar pa voor haar doodgeskiet word en wat die res van haar lewe daarmee moet saamleef. Ek dink aan die groot skare’s van mense waarvan, nogal opmerklik, die grootste deel uit jong mans bestaan het. En ek dink aan hoe hulle vir die kamera’s vertel dat hulle so trots is op Amerika. Nou kan sulke slegte kwaaddoeners sien met wie hulle deurmekaar is, vertel hulle spoggerig. Daar is by hulle geen dieper vrae, niks reserwe's nie, geen blyk van die kompleksiteit van die gebeure nie.

Wie gaan die spiraal van geweld ooit deurbreek? En wanneer gaan ons eendag insien dat geweld nie net die slagoffer vernietig nie, maar ook die dader van geweld?

Wanneer gaan ons die kruis verstaan?

Die langste van al die indrukke wat by my draal is van die opmerkings van mense wat kinders verloor het in die aanval op 11 September: ons is bly dat hy gestraf is, vertel hulle, byna onbetrokke, maar ons gemis om ons kinders word elke dag net erger. Hierdie daad kan daardie gemis nie uitwis nie.

 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive