Minder dapper is ons siening van dinge wat ons nie aanstaan nie, wat vir ons sleg en afskuwelik is, wat ons afsit omdat dit so gruwelik is. Ons weet daarvan, vermy dit en sal miskien aandag daaraan gee solank dit nie te veel eise aan ons stel nie.
Die mistici het ‘n ander, heel opvallende verhouding tot die pynlike en afskuwelike gehad. Hulle het pynlike dinge en onsmaaklike verskynsels nie net verdra nie, maar selfs doelbewus opgesoek. Daar is ook mistici wat worstel met pyn en afskuwelike dinge op ‘n meer geestelike vlak. Hulle sien eensaamheid, verwerping en mishandeling as geleentheid om geestelik te groei. Hulle omarm hierdie gevoelens as bakens en hulpmiddels om in hul verhouding met God te sterf aan hulle eie gevoelens.
Om dit te verstaan moet ‘n mens iets begryp van die persoonlikheid van mistici. Mistici is mense wat ‘n sterk gevoel vir geestelike skoonheid het, skryf Underhill in haar beroemde boek oor die Mistiek. Hulle het ‘n fyn aanvoeling vir die volmaakte harmonie van God. In God ontdek ‘n mens perfekte skoonheid. Teenoor hierdie skoonheid en volmaaktheid staan die gebrokenheid van ellende en afstootlike. Die skoonheid van die goddelike verborgenhede word deur mistici daarom verbind met ‘n instinktiewe afkeer vir die lelike en afgryslike. As ‘n mens naby aan die wondere van die goddelike leef, is ‘n mens soveel meer bewus van alles wat daarteenoor staan. Mistici raak daarom ook intens bewus van ‘n alternatiewe toestand wat geen ordentlike mense sal kan verdra of wil ervaar nie. Maar wat vir gewone mense skandalig, skokkend en afstootlik is, is juis vir hulle ‘n uitdaging en ‘n kans om daardeur verander te word. Hulle raak gewalg deur die lelike en skandalige, maar steek nie vas in hierdie walging nie. Hulle neem die walging op in hul geestelike reis.
Wanneer mistici bewus word van hierdie inherente afkeer aan die onuitstaanbare, begin hulle onmiddellik kreatief daarmee omgaan. Hulle sien dit as ‘n geleentheid waardeur hulle geestelike dissipline kan aanleer en kan werk aan dit wat hulle nog van die dinge van God skei. Die bewussyn van die afgryslikhede om hulle, laat hulle dieper dink oor die liefde en bring hulle tot die besef dat die liefde stuit nêrens. Niks is te nederig, te afgryslik om lief te hê nie.
Dit klink pragtig, hierdie manier om oor “liefde” te praat as dit wat nie grense het nie en juis ook vir die afstootlike moet geld. Daar is sefs ‘n toon van heroïek daarin.
Terwyl ek die opmerkings van Underhill lees, besef ek, Bybels: Het Christus dan nie geleer dat ‘n mens jou vyand moet liefhê nie en het Christus dan nie juis die kruisweg en die moordenaar aan die kruis liefdevol toegeëien nie? (Vandag sal jy saam met my in die paradys wees!). Maar meer nog – is dit nie juis Christus wat die melaatses aangeraak het, gesalf het en in die diens van God opgeneem het nie. Ander mense het die melaatses uitgedryf na kolonies buite die stad waar hulle moes krepeer. Christus het nie die walging geken nie. Hy het hulle gaan opsoek en genees.
Vir die mistici was daar niks heroïes aan hierdie liefde vir die veragtelike nie. Hulle, sou ‘n mens kon skryf, het uiteindelik bloot net besef: “Daar is niks wat te veragtelik is nie”.
Dit is tog merkwaardig: om doodeenvoudig net te kan sê: niks is te veragtelik nie. Om dit te kan sê, vra ‘n diepe, volwasse en integere lewenshouding. Dit reflekteer ‘n intieme band met God. Uiteindelik daag hierdie besef ‘n mens uit om ook die veragtelike uit te daag vanuit die Godsverhouding.
Aldus gestel, besef ‘n mens, is die mistieke immersie in dit wat mense gewoonlik verag en waarop hulle neersien en wat hulle ten alle koste vermy, geen heldhaftige of romantiese saak nie. Daar is niks moois omtrent die uitreik na die veragtes nie. Dit doen ‘n mens bloot net omdat jy weet "daar is niks te veragtelik" nie.
Die oomblik wanneer die mens die goddelike aanraking ervaar, wanneer ‘n mens besef dat die lewe om veel meer as jouself gaan, volg onvermydelik die wete: jy word geroep en gesuiwer en getoets tot diens aan dit waarvoor niemand anders kans sien nie
Maar daar is ook meer: Wanneer ‘n mens deur God aangeraak is, word alle verganklike dinge boeie wat ‘n mens gevange hou. Daar is die gevoel waarvan Paulus gepraat het toe hy vertel het van sy verlange om heen te gaan en by God te wees. Die boeie is dit wat ‘n mens van God weghou – en dit sluit goeie dinge sowel as die slegte dinge in. Ook die dinge wat ‘n mens verag en afstootlik vind, kan ‘n mens van God skei.
Om God te dien, neem die aandag weg van die mens self. Om God lief te hê en te dien, bring dus mee dat die mens jouself prysgee. Self-prysgawe word die bron van die mistieke lewe, skryf Underhill. Om God op die mees uitdagende manier, die moeilikste denkbare manier te dien – ook in die afskuwelike, beteken juis minder beheptheid met jouself, minder verslaafdheid aan al ‘n mens se selfgesentreerde en estetiese insigte. Dan kom die groter ideaal sterker in die prentjie: die grootste werklikheid waarna ‘n mens kan uitreik is die liefde. Alles wat so afskuwelik en afstootlik lyk, word deur hierdie liefde oorwin en oormeester. Die ewige lewe, die wêreld-omvattende en genadige liefde deurtrek en oorwin aakligheid en slegtheid.
Underhill illustreer dit met ‘n verwysing na Fransiskus van Assissi wat homself gedwing het om melaatse mense te besoek vir wie hy soveel weersin gehad het. Hy het hulle bedien en selfs gesoen! Daarmee het hy al die norme en konvensies van sy tyd oorskry en bevraagteken.
Maar kyk nou wat is die gevolge: Daar word vertel dat, nadat hy van hulle weg is, sy gevoelens van negatiwiteit teenoor melaatses, sy teensin om hulle te sien of selfs te besoek, verander in ‘n gevoel van voldoening en soetheid. Hy wat sy neus toegedruk het vir melaatses, het deur sy diens aan hulle ‘n totaal nuwe ervaring van innerlike vervulling gehad.
Maar kyk nou wat is die gevolge: Daar word vertel dat, nadat hy van hulle weg is, sy gevoelens van negatiwiteit teenoor melaatses, sy teensin om hulle te sien of selfs te besoek, verander in ‘n gevoel van voldoening en soetheid. Hy wat sy neus toegedruk het vir melaatses, het deur sy diens aan hulle ‘n totaal nuwe ervaring van innerlike vervulling gehad.
Deur Franciskus se dissipline tot self-prysgawe het hy dus ‘n reiniging ondergaan. Hy het vry geword van alles wat sy sintuie altyd vir hom gedikteer het, van trots, vooroordele, voorkeure en afkeure. Hy het vry van die self geword. Maar hy was nie net van toe af bloot onverskillig of apaties teenoor alles wat voorheen vir hom so belangrik was nie. Die afsterwe aan die ou dinge het vir hom vreugde gebring.
Om die afstootlike te omhels, is om vry en bly te word.
Underhill noem naas Franciskus ‘n hele paar ander soortgelyke voorbeelde – van Margery Kempe, Madame Guyon en Elizabeth van Hongarye. Hulle het die armstes van armes, die mees veragtes, die mees weersinwekkendes, opgesoek. Katariena van Genoa het elke keer as sy agtergekom het dat sy iets begeer, juis daarvan afstand gedoen. Sy het nie vleis of vrugte geëet nie, sy het ander mense se wil gevolg en het altyd gesoek om dinge te doen wat teen haar eie wil was. Toe mense haar gevra het waarom sy dit doen, het sy geantwoord sy weet nie, maar sy voel haarself aangetrokke om dit te doen en dat sy dink dit is God se wil.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.