Tuesday, May 10, 2011

Van lopende fonteine na stukkende waterbakke. Oor ontrouheid aan God. Bybelstudie oor Openbaring

Die gemeente in Tiatira is ‘n lewendige, voorbeeldige gemeente, het ons gesien in ‘n vorige bespreking. Hulle het liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding (Open.2:19).

Maar, onder hulle is daar sommige wat die beste van twee wêreld wil hê. Hulle verkondig die evangelie, maar hul het ‘n stuk dubbelhartigheid. Hulle verlei ander om ontrou te wees – om onsedelik te wees deur afgode te dien en deur afgodsoffervleis te eet (Open.2:21).

Dubbele standaarde kom in die Nuwe Testament dikwels onder die skerpste moontlike veroordeling. Jesus val godsdienstige leiers van sy tyd skerp aan omdat hullle vroom lyk, maar in der waarheid ander mense tot die kwaad verlei.

Deur Openbaring heen is daar dikwels sterk  woorde teen hulle wat ander “verlei”. Jezebel doen haarself as ‘n profeet voor. Sy gee haarself uit as iemand wat God se wil vir ander uitlê. Maar sy is in werklikheid ‘n verleier. Sy laat ander ontrou word aan hul verhouding tot God.

Dit is die ondenkbare: mense wat oor God praat, maar eintlik direk teen God se bedoeling in leef en verkondig.

In die harde beskrywing van haar in Openbaring 2:20-21 word sy geteken as ‘n onbekeerde mens – én dat sy hardnekkig weier om haar te bekeer. Dit is ‘n dubbele oordeel wat oor haar uitgespreek word.  Bedink dit maar: ‘n onbekeerde profeet?'n Profeet wat 'n oproep tot bekering hardkoppig verwerp?

Hard is die straf wat oor haar sal kom. Eintlik gewelddadig en hardhandig kom God se oordeel oor haar in siekte. Ook hulle wat deur haar verlei is, loop deur. Hulle sal geen verskoning hê nie, al is hulle nie die aanstigters nie en al is hulle deur Jezebel verlei. Ook hulle is skuldig aan ontrouheid en dubbelhartigheid.

‘n Mens staan eintlik terug oor die ontstelde woede wat in hierdie verse na vore kom: die goddelike reaksie is kwaai en besonder sterk.

Dan volg die veelseggende sin: “Ek sal elkeen van julle volgens hulle dade straf.” Die straf wys dus uit hoe ernstig die oortreding is. Dit is goddelike toorn wat hier teen ontroue vennote van God ontvlam omdat hulle skuldig is aan dade wat uitstyg in hul boosheid bo alle ander dade.

Johannes se boek Openbaring is deurdrenk van die Ou-Testamentiese boodskap dat God ‘n verhouding met mense aanknoop. Vroeg reeds in sy boek (Open.1:5-6) word vertel van die liefdesgemeenskap waardeur mense verlos is van hul sonde en getransformeer is tot ‘n koninkryk en tot priesers. Die Jesus wat aan Johannes in die openingsvisioen verskyn, hou die sewe gemeentes in sy regterhand – ‘n duidelike simbool van die intieme, hegte band tussen God en gelowiges (Open.1:16 en 2:1). Jesus leef tussen die gemeentes (Open.1:13). Hy het alles vi hulle feil gehad. God stort die goddelike hart geheel en al in die verhouding met gelowiges uit. God gee alles vir hulle wat God lief het.

Dit geld ook vir daardie gemeente in Tiatira: God gee alles ook vir hulle.
Om ontrou te raak, beteken om hierdie kosbare, goddelike liefde te minag. Die liefde van God word verraai. Dit is dieselfde as wat met die gemeente in Efese gebeur: hulle het hul eerste liefde verlaat (Open.2:4).

Wanneer mense ontrou aan God is, ontsê hulle hulself die bron van lewe. Hulle pleeg eintlik geestelike self-moord. Maar voorts stal hulle hul eie self-gesentreerdheid en gebrek aan wysheid uit. Hulle gaan soek na alternatiewe wat hulle net nog verder in die ellende inbring. Jeremia 2:13 verduidelik dit in ‘n aangrypende beeld: “My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat ebars is en nie water hou nie.”

Ontrouheid aan die goddelike liefde ontneem ‘n mens van dít wat ‘n mens se hart tot rus bring. Maar terselfdertyd laat ontrouheid ‘n mens vertrou op sy/haar eie vermoëns. En die gevolge is self-vernietigend. Die helder, stromende water wat ‘n mens verkwik, word vervang deur lekkende waterbakke wat mense self gaan bou het. En wat hulle dors soos nooit tevore laat word. Uiteindelik kom ‘n mens om van gebrek aan water, terwyl ‘n mens by God stromende fonteinwater kon inneem.

Jezebel, impliseer Openbaring 2:24, leer aan gelowige mense die verborge dinge. Sy is immers ‘n profeet wat die onbekende uitlê. Maar, verdoemend, is dat haar verborgenhede van satan is. Dit bring mense by die teenoorgestelde plek waar hulle behoort te wees – dit ontneem mense van die liefdesverhouding waarin hulle egte vreugde sal vind.

Dit kan goed gaan met gelowiges, met die kerk. Hulle kan lewendig en voorbeeldig wees. Daar kan groot stukke vroomheid in die lewe van gelowiges en die kerk te vinde wees.

Tog kan mense en gemeentes in die hart van hul geestelike reis ontrou wees aan God se liefde – aan dit wat ‘n mens geestelik aan die lewe moet hou.

Dit is nogal die groot uitdaging – nie om gelowige te wees nie, maar “om te doen wat Ek wil hê” (Open.2:26). Dit is ‘n groot uitdaging want maklik gebeur dit dat mense graag doen wat hulle wil hê of doen. Vandaar die herhaalde vermaning: Luister maar na wat die Gees vir die gemeentes wil sê!  (Open.2:29).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive