Friday, May 13, 2011

Nie alle profete praat namens God nie. Oor die onderskeiding van God se wil.


 ‘n Mens kan as reisiger op die geestelike weg moeilik ‘n belangriker vraag kry as die vraag na God se wil vir jou lewe en reis.  Hoe weet ‘n mens dat God jou mede-reisiger is en hoe bepaal ‘n mens wat hierdie Mede-reisiger van jou verwag?

Dit is ‘n vraag wat gelowiges deur die eeue heen besig gehou het. Dit is ‘n vraag wat ook by baie mense vandag na vore kom – nie die minste wanneer mede-gelowiges dikwels so stellig beweer hoe helder en duidelik hulle weet wat God se wil vir hul lewe is.

Cassianus, die wyse mistagoog, het ook hieroor nagedink. En net soos sy wonderlike insigte in die Lectio Divina, het hy hier ook ‘n nuttige patroon van gedagtes bymekaar gebring. Hy wil hê ‘n mens moet vier dinge in gedagte hou in ‘n mens se soeke om God se wil te onderskei. En hy knoop hierdie vier dimensies aan Bybelse gegewens.

Hy  gebruik die eenvoudige beeld van die geldwisselaar om te verduidelik hoe ‘n mens God se wil vir jou lewe bepaal.  Die eerste beeld, wat voorheen bespreek is, is dat die geldwisselaar bepaal of die goue muntstuk wat iemand aan hom wil verkoop, werklik goud is en nie koper nie.  Hier praat ‘n mens in spiritualiteit van die twee weë as ‘n verdere beeld. In die Bybel kan die geestelike reis by God eindig, of dit kan op dood en vernietiging uitloop. ‘n Mens kies op ‘n dag om na en met God te reis, en by herhaling, soos daar afdraaipaaie op ‘n mens se geestelike reis opdoem, moet ‘n mens opnuut weer vir God en teen die donkerte kies. Dit bly moeilik, maar dit bring volledige vreugde as ‘n mens weet jou liefde is aan God verklaar en nie vir jouself, jou wêreld of vir die oppervlakkige dinge nie.  Dit is die eerste groot manier om God se wil te onderskei:  ‘n Mens moet weeg of jy met God in ‘n verhouding (wil) tree of nie.

Reeds hieruit word dit duidelik dat God se wil nie altyd so duidelik soos ‘n paal bo water is nie. Selfs wanneer ‘n mens op reis is met en na God kan daar afdraaipaaie opdoem wat oppervlakkig aan God se wil geknoop is, maar wat eintlik vir n mens wegneem daarvan.

Cassianus wil die onderskeiding van God se wil verder verduidelik deur die beeld van die goudwisselaar wat die goue munt ondersoek om te kyk wie se afbeelding daarop is. Is dit die koning s’n of is dit ‘n tiran en uitbuiter s’n? Daarmee trek hy die kring kleiner: as ‘n mens jou lewe goed bekyk om te sien of jy op pad is met God, moet jy voorts luister om te hoor wat God vir jou sê terwyl jy op pad is.

Die Bybel, wil die beeld sê, lei mense op die goeie weg, die weg tot God. Maar sommige mense misbruik hierdie goue muntstuk deur die beeld daarop te verdraai. Hulle interpreteer die Bybel op so ‘n manier dat dit ‘n boek word wat vol onderdrukkende en uitbuitende bevele van ‘n tiran is. Die Bybel is nie meer die boek van God die Koning wat mense tot die lewe bevry nie.

Godsdiens kan ‘n onderdrukkende, verdrukkende en neerdrukkende las wees. As ‘n mens op so ‘n godsdiens ingekoop het, het jy ‘n kopermunt gekry. Jy is bedrieg. Goedkoop, waardelose koper is vir kosbare goud aan jou verkwansel. So ‘n godsdiens is nie God se wil nie.

Weer eens ‘n opsomming: In die vorige besprekings het dit geblyk dat die geestelike reis bestaan uit ‘n keuse vir of teen God se wil. Maar as ‘n mens gekies het om God se wil te gehoorsaam, is dit nog net die begin. Dan volg die volgende groot uitdaging: om te vra na wat dit is wat God vir die geestelike reis wil hê. Dit is dus ‘n vraag hóé ‘n mens God se wil onderskei.

Om ‘n antwoord te kry, kan ‘n mens gaan lig opsteek by hoe mense in die Bybel wat vir God gekies het, in hul geestelike reis God se wil in meer diepte onderskei het.

Die interpretasie van God in die Bybel
Die Bybel bevat vele vertellings oor hoe God die goddelike wil aan mense bekend gemaak het. Sommige mense ervaar goddelike tekens. God gee byvoorbeeld drome aan Farao (Gen.41:25), visioene (2 Sam.17:1; Daniël) en raaisels (1 Kon.10:1-3). Tydens Jesus se geboorte word tekens bekend gemaak en verskynings geskenk. In die vroeë kerk word visioene dikwels aan mense geskenk. Petrus sien ‘n visioen van onrein diere in Handeling 10.

Dit is egter maar net die een sy van die saak. Hierdie ervarings van mense word dan geïnterpreteer.  Soms, immers, is daar mense wat baie hoog op beweer dat hulle tekens en visioene ontvang het, soos in Korinte, maar wat eintlik net ‘n stuk opgeblase selfroem uitstal.

Die verhouding tussen God en mens word deur goddelike tekens bemiddel wat deur mense geïnterpreteer word. Aan die een kant is God direk aan die werk, maar tog word die werking van God ook in interpretasie bemiddel. God, skryf Waaijman hieroor, kan God se wil alleenlik bekend maak wanneer daar mense is wat die goddelike tekens kan verklaar. Menslike wysheid bly ‘n belangrike bemiddelende rol speel om God se wil te leer ken.

Waaijman noem die priesters, wysheidsleraars en profete as voorbeelde van hierdie mense. Die Nuwe Testament ken ook wyse mense, apostels, profete, leraars en evangeliste. Dit is mense wat ‘n sekere leidende funksie het. Hulle dien die gemeente met insig en bystand om dieper te verstaan waarom die geloofsreis gaan. Hierdie dienste is almal op een of ander manier betrokke by die interpretasie van God se wil vir hulle konteks en tyd. 

Een van die belangrikste groepe is die profete en hulle verdien sekerlik hier spesiale aandag, veral omdat hulle so ‘n prominente plek in die Ou en in die Nuwe Testament speel. In ‘n sekere sin is die Bybel ‘n boek wat uit die verkondiging van die profete ontstaan het – soos ons weet uit die feit dat die profetiese boeke ‘n enorme plek het en die invalshoek is van waaruit die Ou Testament byeengebring is.

Die Profete se interpretasie
Die profete interpreteer dinge vanuit God se gesigshoek en verwag van mense dat hulle hiervoor oop moet wees. Jesaja 40:21 verduidelik dit verder: “Weet julle dan nie? Het julle nie gehoor nie? Is dit nie aan julle bekend gemaak nie?”  ‘n Profeet bring die woord van die Here aan God se volk. Dit is ‘n profetiese woord wat hulle aandag en gehoorsaamheid vra.

Tog is alles ook hier weer nie so maklik nie, want daar was ook valse profete. Die Ou Testament praat dikwels van die profete wat die volk mislei het en aan hulle ‘n valse woord van die Here voorgehou het.

Die groot vraag word dus: wat is werklik die woord van ‘n profeet en wat moet as ‘n valse profesie beskou word?  En dit is reeds hier waar die onderskeiding van die geeste moet plaasvind.

Die egtheid van ‘n interpretasie is op verskeie maniere bepaal.
·        Die profesie word deur tekens bevestig.
·        Die voorspellings van die profete word waar.
·        Die interpretasie weerspreek nie geloofsinhoude nie.
·        Die profeet se lewenswandel is opreg en eg.

Ook in die Nuwe Testament is die onderskeiding van die geeste ‘n belagrike kwessie. Hoe moeilik dit is om God se wil te onderskei, kan ‘n mens uit Paulus se brief aan die Korintiërs aflei. Hier was daar selfs verskillende soorte gawes aan die werk.

Gelowiges in Korinte het byvoorbeeld in tale met God gepraat (1 Kor. 14:2). Ander weer het ‘n profetiese woord aan die gemeente gebring wat die opbou van die gemeente moes dien (1 Kor. 14:3). Maar in beide gevalle wys Paulus daarop dat dit nie genoeg was nie. Iemand moes die werking van die Gees in die spreek in tale interpreteer (1 Kor.2:10b) en ook die krag van die profetiese woord moes deur iemand uitgelê en onderskei word (1 Kor. 12:10a). Dit is so belangrik omdat die werking van die Gees op die manier vir almal toeganklik maak en die kragtige werking dus na vore kom.

Dit was later vir die vroeë kerk net so ‘n groot uitdaging om vas te stel wanneer is ‘n profetiese woord eg. Dit blyk duidelik uit vroeg-Christelike geskrifte soos Die Herder van Hermas, Die Didache en die werke van Ignatius van Antiogië.  Dit is boeiend om te sien dat hulle glo n profetiese woord is eg wanneer n profeet se lewe in ooreenstemming is met die lewenswyse van die Here. Hulle het ook fyn opgelet of ‘n profeet wil baat vind by sy/haar profesie en of eie eer/roem ‘n rol speel.  Persoonlike integriteit en self-betrokkenheid word ‘n belangrike maatstaf. Die vraag is of iemand self getransformeer word deur die Woord wat hy/sy as die wil van die Here aan mense voorhou. ‘n Egte profesie, in hierdie geval, is die profetiese woord wat in jou hart loop lê het en net so sterk met jou praat as met hulle aan wie die woord deurgegee word.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive