Thursday, May 26, 2011

Die enigste troos

Terwyl ek die paar dae nadink oor die rol van geloof in ‘n tyd van rou, kom daar by my onverwags en heel verrassend herinneringe na vore oor die kerk se belydenisskrifte. 

Ek onthou hoe die Kort Begrip wat ‘n opsomming is van die lange Heidelbergse Kategisme van 1563 wat vandag deur die meeste kerke van die reformasie as belydenisskrif bely word, begin. 

Die heel eerste vraag wat die wyse geloofshelde uit die sestiende eeu toe vir mense van geloof gestel het, was: “Wat is jou enigste troos in lewe en sterwe?”

Geloof het met die intrapslag te doen met troos. Dit is 'n vraag, weet ons, wat nie sommer net 'n intellektuele oefening was nie. In die sestiende eeu is mense summier vervolg en gedood ter wille van hulle geloof. Om te glo, was soms 'n saak van lewe en dood. En wanneer 'n mens dan in daardie situasie beland, moet 'n mens weet wat maak 'n mens se geloof die moeite werd. 


Ek sien iemand beskryf die Heidelbergse Kategismus as ‘n belydenis van troos en gebed. Dit is ‘n belydenis wat ‘n mens vertroos deur ‘n mens te herinner aan wat werklik saak maak, ‘n belydenis wat ‘n mens biddend bring voor God, die getroue. Wanneer ‘n mens oor jou geloof begin bely, dus, volgens die Kategismus, is die invalspunt die troos wat ‘n mens se geloof jou bied.

Trouens, daar is maar, in die oë van die opstellers van hierdie belydenisskrif net een troos waaraan ‘n mens kan vashou. En dit is dat ‘n mens nie aan jouself nie, maar aan Jesus Christus behoort. En kyk na die taal: ons behoort aan “my getroue Verlosser.” Al die fokus val, in lewe en in sterwe, daarom nie op wie jy is nie. Die troos is buite die mens, in die Een wat ons Vry maak, die Getroue Een, te vind.

Hier is die hele antwoord.

En die antwoord is:  Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).

Mooi is Lied 292, wat dit musikaal verwerk het:

My enigste troos in lewe en dood
is dat ek aan Jesus Christus behoort.
Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop
dis my anker, my vaste hoop.

Ek behoort aan die Here.
Niks sal my ooit van Hom kan skei.
Sy onfeilbare Woord is die gids wat ons lei;
deur sy liefde bewaar Hy my.

Dat die Belydenis kan begin in die naam van troos, is al roerend.

Hieroor wil ek nadink in ‘n tyd van rou. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive