Mense soek na geluk op baie maniere. Hulle werk hard, lewe diens aan ander en is daarby ook graag lidmate van ‘n kerk en godsdienstig.
Dit kan alles bloot uiterlikhede word. Al hierdie dinge, die harde werk, ‘n goeie lewe en ‘n vroom kerklikheid kan ‘n mens ook nie noodwendig gelukkig maak nie.
En ‘n mens kan nie rus vind in uiterlike dinge nie, weet ons. Hulle gaan verby, is wisselvallig, is feilbaar, oppervlakkig en laat ons in vele opsigte onvervuld.
Maar wat dan? Wat maak ons werklik gelukkig?
Al wat ons vervulling gee, is om op God te vertrou. God se genade en ontferming wankel nooit, bly vas, raak ons, roer ons, spreek ons aan, gee vir ons berusting en stilte. Dit bly altyd by ons.
Alles wat ons leef en doen is ingestel hierop.
In alle omstandighede, soos hulle kom en gaan, moet ons dieper as die uiterlike, die oppervlakkige kyk, na wat God vir die mens innerlik gee, na die verhouding wat God met die mens op ‘n intieme vlak aanknoop. Uiterlike dinge kan dit nie vir ons bied nie. En uiterlike dinge sluit sake in wat vir ons soms belangrik en spesiaal lyk: Harde werk, ‘n suksesvolle loopbaan, diens aan ander en goeie werke, vrome gebede en kerkgang kan uiterlik word, kan ‘n mens soms leeg laat en laat dikwels die hart koud bly.
Om in God se genade te woon, gee ‘n mens innerlike vervulling.
Maar hoe herken en vertrou ‘n mens op God se genade? Om te kan vertrou, vra van totale nederigheid. Mens moet wegkyk van eie groot planne en insigte, eie vashouplekke en steunpilare. Om op God te vertrou, beteken om oop te wees vir wat God wil doen met ‘n mens se lewe. ‘n Nederige mens is iemand wat luister na wat God vra. Die nederige een is iemand wat aan God se roeping gehoor gee. ‘n Opregte persoon skik hom of haar volledig na God se wil. Om te leef in God se wil bring ‘n mens se lewe tot vervulling en verlos die mens van ‘n sinlose, oppervlakkige bestaan.
Dit is die onderskeiding van die Gees, die luister na die Wil van God. Om oop te wees dat God ‘n mens kan neem waarheen jy nooit gedroom het om te gaan nie.
Om nederig te wees, is dus om na God se wil vir ‘n mens se lewe te soek. ‘n Nederige mens soek vir, vra na en onderskei God se wil vir sy of haar bestaan. So iemand het ‘n openheid vir nuwe, ander moontlikhede in sy of haar lewe. Dit is soos Paulus, wat toelaat dat God hom na werkplekke neem waaraan hy self nie gedink het nie. ‘n Nederige mens is iemand wat toelaat dat sy of haar lewe deur dieper, verborge dinge bepaal word. So iemand se lewe stu verby die oppervlakkige dinge, hoe mooi hulle ook al mag lyk.
Maar kyk net wat is eintlik hier aan die gang: ‘n nederige mens bid wat Jesus gebid het. “Laat U wil geskied.” So iemand sal, al is dit swaar, maak wat Jesus gemaak het: Nogtans nie my wil nie, maar U wil. Daarmee word die mens op ‘n geestelike reis geneem waarin hy of sy dinge vanuit God se hoek wil sien. Dit gaan nie meer om wat ek wil doen nie, wat ek meen die beste opsies vir my lewe is nie. Die mens gee sy of haar eie perspektief op dinge op en begin nou na die wêreld vanuit God se oë kyk. Dit is eintlik ‘n self-prysgawe, ‘n selfopoffering. ‘n Nederige mens wil dus nie sy eie wil laat geld nie.
Dit is inderdaad swaar. Maar dit kan ‘n vormende, vervullende en diep bevredigende lewensstyl word – om gedurig op soek te wees na God se wil vir die lewe en die skepping. Hoe meer ‘n mens dit begin doen, hoe meer word ‘n mens se lewe deur God se wil bepaal. Daarom bid ‘n mens. Dit gaan nie om die vroomheid wat ‘n mens het as jy op jou knieë gaan nie. Daarom lees ‘n mens die Bybel. Wanneer ‘n mens Bybelstudie doen gaan die nie om al jou kennis en briljante insigte nie. Daarom vas ‘n mens. Wanneer ‘n mens vas, doen jy dit waar niemand jou sien nie.
Ons bid om God se wil vir ons lewe te ontdek. Ons lees die Skrif om te verneem wat God van ‘n mens vra. Ons vas, omdat dit ons nader aan God bring en vir ons laat ontdek wat in God se hart vir ons geestelike reis lewe. Gedurig, in alles wat ons doen en dink, veral ook in ons godsdiens, is ons hart aan die soek na God se verlange vir die lewe en die skepping. Eers dan, eers wanneer ons die uiterlike dinge verinnerlik en intrek in die verhouding met God, in die vra na God se wil, word ons werklik gelukkig en leef ons eg sinvol.
Daar was ‘n geslag van mense, ek het hulle nog geken, wat in elke tweede sin sou invoeg: So die Here wil, of as die Here dit wil. Met die jare het die gebruik uitgesterf. Daarvoor is daar baie redes. Maar in daardie enkele frase, sit ‘n hele groot stuk spiritualiteit waarvan ons die verlies nie kan bekostig nie. Onvrede, ongeluk, depressie, hartseer, rou, woede, al ons negatiewe, is dikwels die teken dat mense nie meer na hul lewens kyk as ‘n lewe na die wil van God nie. Dít, dink hulle, indirek, is tog nie wat God vir die lewe beskik nie.
Dit wys dat ons behoefte het aan nederigheid, openheid, gebed, Bybelstudie, vas wat ingestel is op daardie een groot verlange – om ‘n mens se lewe in die diepste geheim, die Grootste Verborgenheid, die Oneindige Genade te laat anker.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.