Tomorrow, and tomorrow, and tomorrow
Creeps in this petty pace from day to day
To the last syllable of recorded time,
And all our yesterdays have lighted fools
The way to dusty death. Out, out brief candle!
Life's but a walking shadow, a poor player
That struts and frets his hour upon the stage
And then is heard no more. It is a tale
Told by an idiot, full of sound and fury,
Signifying nothing.
- Macbeth - 5, 5, 22-31
Creeps in this petty pace from day to day
To the last syllable of recorded time,
And all our yesterdays have lighted fools
The way to dusty death. Out, out brief candle!
Life's but a walking shadow, a poor player
That struts and frets his hour upon the stage
And then is heard no more. It is a tale
Told by an idiot, full of sound and fury,
Signifying nothing.
- Macbeth - 5, 5, 22-31
Shakespeare vertel in hierdie sonore, maar tog so uitsiglose gedeelte van die lewe wat in sy kortstondigheid lyk op ‘n kers: vir een oomblik flikker dit, en dan is die liggie gedoof. En morbied stuur die deel af op hierdie klimaktiese slotsin: menslike bestaan wys op niks. Die lewe, dig hy, is ‘n wandelende skaduwee – ‘n vrot toneelspeler wat sy oomblikkie van glorie op die toneel spoggerig beleef. En dan is dit verby. Die lewe is ‘n idiotiese verhaal, vol lawaai en gedruis en beteken niks. Onverbiddellik kruip al die môre’s in in die vandag’s en gaan verby.
Dit is die versinnebeelding van die oeroue lewensgevoel van onstuitbare verganklikheid.
Die woorde in Macbeth is deel van ‘n gesprek oor die min sin van die lewe, oor die korte duur, die blote oomblik van ons aardse bestaan, wat oor eeue heen gevoer is.
Die gesprek skop veral in wanneer ons iemand naby aan ons verloor. Dit is ‘n verlies wat baie vrae by ons wakker maak.
Hoe oppervlakkig kan die gesprek hieroor word. Ons pyn bring ons om teen ons verlies vas te kyk. En om die onverbiddelike loop van die tyd uit te wys.
Omdat ons so gou ophou om die lewe dieper te bedink, is die pyn wat ons ly, nie suiwerende pyn nie. Dit is pyn wat ons folter, ons visie verdonker, ons lewe verduister en ons van ons lewensdrif beroof. Ons raak depressief deur ons pyn oor ons verlies.
Dit is nie maklik nie. Verlies slaan in meer as een opsig ‘n doodshou. Dit kan ons tot ‘n gevangeniskap in verdriet vonnis.
Lank voor die beroemde woorde van Shakespeare, het die skrywer van Prediker soortgelyke gedagtes neergepen. Die lewe is maar ‘n asemteug lank en is origens pure niks, pure kaf, alles is sinloos, het hy sy lewensgevoel gedeeltelik verwoord.
Maar die Prediker het ook geweet dat daar ‘n tenger draad is wat deur die lostrekkende tekstuur van die lewensmateriaal loop en dit styf, styf bind aan onverganklikheid. Hy het sy boek geskryf, soos die subtiele slot wys, met die wete dat daar tog iewers ‘n stuk onverganklikheid bly leef. Trouens, ‘n mens sou kon sê, juis omdat die lewe so fragiel is, is die tenger lewensdraad van die liefde soveel sterker.
Dit is ‘n manier, ‘n sardoniese manier, om die finaliteit van die dood te verwoord deur te vertel hoe dit ‘n mens bewus maak van kortstondigheid. Maar iets wat kortstondig is, hoef nie sonder betekenis te wees nie.
By die dood is dit immers nie die besef van finaliteit or verganklikheid wat die laaste woord spreek nie. Want daarvoor is die pyn te intens wanneer die oomblik van verlies aanbreek. Dit is pyn oor die verlies aan iets kosbaars.
Ons begryp dit dikwels nie. Die pyn is so intens dat ons dikwels nie uitkom by die vraag waarom ons pyn het nie.
En as ons dit bedink is die antwoorde duidelik. Die pyn wat ons ervaar is ‘n pyn van begeerte en verlange: Hoe langer sou ons wou wees by hulle wat ons lewens ryk gemaak het! Die pyn is die roep na meer tyd, maar meer kanse om bymekaar te kon wees. Dit is die pyn van die verlange om aanmekaar te kon drink en drink van die koel fonteinwaters wat hulle wat weg is deur hulle lewe aan ons geskenk het. ‘n Mens treur nie oor die sinnelose, oor dinge wat nie betekenis het nie. Intens is die verdriet oor wat kosbaar is.
Uiteindelik moet ons dus deur ons verdriet na die diepere kan soek en kyk.
Wie onthou nie die oomblikke dat hulle finaal gehoor of gesien het dat iemand naby aan hulle gesterf het nie? Dit is ‘n fisieke pyn, asof iemand ‘n ystervuis in jou binnekant steek en ‘n stuk van jou hart uitpluk. Dit is asof ‘n mens intuïtief weet, onbewustelik by voorbaat beleef watter tye van gemis, verlange, geselsies óór in plaas van mét, voor die deur lê. Dit is die oomblik wanneer al die pyn van die môres wat moes wees en nie meer kan word nie, die oop wond van verlange en onvolmaaktheid slaan.
Ja, dit is reg, die pyn maak ons bewus: Hoe enorm tinger is die menslike bestaan... Hoe enorm kort, ‘n asemteugie-kort is die lewe van ‘n mens. Hoe enorm hulpeloos is die mens teen die groot Einde, die Uitwissing, die Wegneem, vertel Nouwen, wanneer hy nadink oor al die kere dat hy met die finaliteit van die dood gekonfronteer is.
En tog, wanneer die lewe van iemand tot ‘n einde kom, weet ‘n mens veel meer as net dat die lewe kort, breekbaar, fragiel, verganklik is. Die pyn oor verganklikheid vertel ook van die ánder, groter kant – die rykheid van die lewe. En die wete, hierdie dieper krag is die groot skans teen die verdriet.
Hoeveel liefde is ineengevleg met ons pyn oor verlies. Die pyn is juis ‘n teken van liefde.
Wanneer ons dit verstaan, hierdie liefde in ons pyn, is daar ‘n dieper wete – die wete van hoe ons lewe volgemaak word deur mense se liefde vir ons, selfs deur net daardie vlugtige oomblik van hul kort bestaan. Daar is pyn, selfs fisieke pyn, maar aanstigter van die pyn is die groter Besef dat jy iets groter as tyd beleef het – dat iets van die ander by jou kom woon het wat niks, ook nie die dood, jou ontneem kan word nie.
En dit bring troos, selfs al is die troos so skraal, wéét ons. Tyd kan kom en gaan, maar wat in die tyd gebeur, wat in die tyd aan ons in liefde geskenk is, bly. Al is die waardevolle en die liefde nie meer fisiek te ervaar nie, al is die ander weg, het dit nie opgehou nie en is hulle liefde nie tot ‘n einde nie. Daar is ‘n werklikheid wat al gebrokenheid en tydelikheid te bowe gaan. Des te meer as ‘n mens ‘n woning van die liefde met die ander gedeel het. Deur ons lewens sal ons kosbaar kan vashou aan die liefde wat so veel, so dikwels, so herhaaldelik, so onselfsugtig, so stil, so onopvallend, so mooi, so sterk, so volhoudend aan ons gegee is.
Wie kan die lewe futiel noem as jy juis deur die lewe in die liefde ingelei is?
Hoe kan ‘n mens dan ooit verder twyfel: hulle wat ons verloor het, hulle wat van ons weggegaan het, woon nog steeds in die Liefde. Daarom is daar by ons dankbaarheid deur die pyn heen. Die dankbaarheid is groot, want hierdie liefde vloei ook, danksy hulle, in ons are. Die pyn sal bly, die seer sal by ons wees, maar dit sal nie ons lewens vul nie. Dit sal ons wys na die Liefde wat die grootste is.
Laat die pyn oor ons verlies ons dieper in die Liefde anker. Maar, die meeste nog, laat die pyn van verlies ons bind aan die Een wat ons eerste liefgehad het. Dit is die Eerste Liefde, die skeppngsliefde wat alles goed gemaak het, wat deur ons geliefdes na ons gekom het. Hulle lewens vertel daarvan, was die beeld van die goddelike liefde. Uiteindelik wys alles hierop.
Alles sal van ons weggeneem word. Dit is seker. Maar daardie Eerste Liefde vergaan nimmer meer en kan nie weggevat word nie. Dit is die Liefde waarin ons geanker word. En dit is die Liefde waarheen ons in heerlikheid sal terugkeer, wanneer ook ons pyn van ons weggeneem word en ons almal in die Liefde woon.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.