Tuesday, May 17, 2011

Breek daardie anker dan nie soms nie? Oor die onbreekbare lewensanker...


Ek lees vandag hierdie dagstukkie van Alaric Lewis wat ek ‘n paar jaar gelede vertaal het toe ek sy boek ‘n Seisoen van Heel Word in Afrikaans weergegee het:

31 Januarie
“Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker...”
     Hebreërs 6:19

Een van die aandoenlikste tonele in die Nasionale Museum vir die Joodse Slagting in Washington DC, is ‘n uitstalling met die titel “Daniël se verhaal.” Dit handel oor die Joodse Slagting vanuit die perspektief van ‘n kind met die naam Daniël. Hierdie uitstalling slaan ‘n mens se asem weg. Ten spyte van die onuitspreeklike tragedie wat rondom Daniël afgespeel het, ten spyte van alles wat hy moes ervaar, kan ‘n mens in elke woord van hom agterkom met watter lig van hoop hy in die donkerte van hierdie wêreld gevul is. En dat iemand so jonk soos hy só kan hoop, wys vir ons dat hoop nie iets is wat ons iewers langs die pad optel nie, maar dat dit diep in ons ingebed is.
      “Ek het hoop opgegee.” Só voel ons almal van tyd tot tyd en miskien tereg ook. Maar ons moet ook bly onthou dat as ons dit verloor het, ons dit weer kan vind, want die lig daarvan is diep in ons ingebed.

Daar is vir my iets aantrekliks in hierdie kort oordenking.

Maar tog ook iets te min. Daar is immers iets diepers agter die vaste wete dat dit nie altyd net donker sal bly nie.

Die verlies aan lewenslus wanneer ons trauma en teenspoed ervaar, en die breekbare wete dat hierdie verlies ook sy perke het, moet ons na aan God hou. Die lente, dit weet ons, kan ook nie in ons lewens gekeer word nie – dit is immers die evangelie. Die nabyheid aan God word die tyd dat ons vra na hoe God die nuwe uit die koue winter in ons gaan laat groei. Genadig is God, tog, die Een wat die gebroke riet nie knak nie.

Die tyd van verlies word dus ‘n tyd van afwagting op wat God wil doen. Om te weet dat ‘n mens nooit alles kwyt vir altyd is nie, bring ‘n mens biddend in God se teenwoordigheid, afhanklik, soekend – met al die pyn wat daaraan verbind is, maar steeds weer reg vir nuwe dinge wat God wil doen.

En wie soek, vind God. Dit is die belofte wat keer op keer weer werklikheid word.

Op die manier hou ‘n mens teen alle hoop in, aan die hoop vas. Die wagter op die mure... Want uiteindelik gaan dit nie om 'n abstrakte tema soos hoop wat bedink kan word nie. Dit gaan, dieper, om 'n verhouding met God wat deur die liefde gedra word. 

Ruwe storme, wilde see, woeste golwe. Maar die anker moet hou.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive