In die lange lydenstyd kom ‘n mens met hierdie week uiteindelik uit by die hoogtepunt en einde van Sy bediening. Hier vier die kerk die “Heilige Week” wat op die kruisiging en opstanding uitloop.
Dit is ‘n tradisie wat tot in die derde eeu n.C. strek. Ons kerklike wortels is dus diep daarin geanker.
Dit is ‘n tradisie wat tot in die derde eeu n.C. strek. Ons kerklike wortels is dus diep daarin geanker.
Elke dag in die week word ‘n spesiale moment in Jesus se laaste dae herdenk. Die “Heilige Maandag” in die kerklike tradisie van die Heilige Week, is nie ‘n opsienbarende of baie spesiale dag nie. Só skryf feitlik die meeste van die kommentatore. Dit is ‘n dag waarop die insident in die tempel herdenk word toe Jesus die verkoopsmense uitgedryf het. Die verhaal word in Matteus 21:12-17 vertel onder die opskrif (O.V.): “Die reiniging van die tempel”.
Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit 'n rowersnes.” Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig. Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?” “Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing ?” Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het.
Baie eksegete konsentreer op Jesus wat die handeldrywers uitjaag en die tafels omgooi. Dit word as een van die min gewelddadige aksies van Jesus bespreek.
Maar minder word gepraat oor Jesus se woorde oor gebed. Hier praat hy met mense wat hul geloof gedeformeer het tot ‘n winsmakery. Hulle ontbreek enige aanvoeling vir die tempel as ruimte waar God woon en aanbid word. ‘n “Rowersnes” het hulle van hierdie heilige plek gemaak. Mense wat hul eie identiteit as mense vir God nie meer begryp nie. Geld maak, dit is vir hulle wat saak maak.
Ek lees die gedeelte weer en vind die woorde oor gebed wat met Jesus verbind word, nuut en spesiaal.
Hierdie "gewone" dag, 'n dag waarin Jesus "net" die tempel gereinig het, word deur die gebedswoorde ‘n besondere dag.
Hierdie "gewone" dag, 'n dag waarin Jesus "net" die tempel gereinig het, word deur die gebedswoorde ‘n besondere dag.
Die spiritualiteit van Jesus bestaan uit ‘n dringende verlange dat die rowersnes getransformeer sal word tot ‘n gebedshuis – daar waar God onder die volk woon. ‘n Huis in plaas van ‘n nes. ‘n Gesin in plaas van ‘n bende rowers.
Op daardie Maandag het Jesus die tempel tot gebedsruimte "gereinig". Maar, skaars weer weg, het sy opponente hulle plekke teruggevat. In die volgende paar dae sou hulle Hom uit die weg ruim, verjaag, tot niet maak. Die transformasie was van korte duur. Die stryd het pas begin. Dit gaan, lei die leser af, ‘n hele lange proses wees om hierdie gebedsruimte vir God op te eis.
Die transformasie van die tempel was Jesus se boodskap aan sy volgelinge oor wat hulle te doen staan as hulle die geloofsweg sou loop. Hulle ook moet in hierdie stryd deel. Ook in die rowersnes wat gelowiges bewoon, moet reinigingsaksies plaasvind. Hulle word ingetrek in Heilige Maandag. Dit is nie maar net 'n "interessante" dag nie.
Mense dra dikwels swaar aan hul laste. Hul rue is krom onder hul stryd en veral onder hul eie swaar, donker gevoelens oor hul laste. Die lydenstyd wil mense presies die teenoorgestelde laat ervaar. Die reiniging van die tempel is ‘n verhaal wat wil transformeer. Soos Jesus, so dra alle mense, die mensheid hul laste – daag hulle die rowers uit om pad te gee uit God se gebedsruimte en soos Jesus bring hierdie stryd vervulling. Die laste wat ‘n mens dra bevry jou tot die teenwoordigheid van God. Jesus het dit bedoel toe hy op ‘n keer vir sy volgelinge nugter gesê het: Kom na my toe. My las is lig. En my juk is sag.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.