Die geliefde strand
Ek draf by my geliefde strandplekkie my agt kilometer roete al langs die see op die vooraand van Goeie Vrydag. Dit is ‘n geseënde dag gewees, met ‘n boeiende artikel oor Kierkegaard se Fear and Trembling wat ek so pas van Jos Huls ontvang het en met groot belangstelling gelees het.
In die beroemde boek van Kierkegaard, wat in die filosofie soveel opspraak verwek het, is daar ‘n uitvoerige bespreking van die verhaal van Abraham se offerande van Isak. Vanuit vier verskillende perspektiewe neem Kierkegaard die lesersuimte in die teks en wys hoe ‘n mens dit in die geestelike reis op vier maniere kan vul.
Die offer van Isak is is een van die bitterste verhale waaroor ‘n mens ‘n preek kan maak. Hoe praat mens met ‘n gelowige klomp mense oor Genesis 22:10: “Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag”? Dit is sweepslag-woorde.
Dit is ‘n baie moeilike verhaal, veral omdat dit geweld in die hart van godsdiens inbring.
Soos die kruis.
Ek wil meer oor Kierkegaard se teks en sy Bybelgebruik skryf, want dit is ‘n wonderlike mistieke teks wat diep nadink oor lyding en geweld.
Maar terwyl ek my geliefde grondpaadjie in my strandplekkie draf om net weer die kop helder te kry tussen al die lees- en skryfwerk, bly Jos se artikel en Kierkegaard se teksuitleg by my.
Dit is immers die dag voor Goeie Vrydag. Die dag van die Afskeid, van die afbreek van die nabyheid, van die verbygaan van die ou dinge. ‘n Dag om oor verganklikheid te dink.
En tog is dit ingebed in iets grotes en breërs. Ek bedink, al drawwende, die eindelose kom en gaan van die branders. Hulle breek nou al jaar vir jaar hier in ‘n nimmereindigende Sisifus-proses van oor-en-oor op die strand en die rotse van my drafpaadjie. Eeue gelede het die inheemses hier hul vis-oewers gebou, spore daarvan sien ‘n mens nog op party plekke. Mense het gekom en gegaan, maar in oneindigheid bly die branders herinner aan iets wat eindigheid oorstyg.
Ons moet verganklikheid bereken en bedink.
Abraham die aartsvader, die man van geloof, het alles prysgegee, al sy sekerhede, om blindelings te doen wat God van hom gevra het. Deur die eeue heen het mense hom bewonder vir sy blindelingse sprong in die duister van ‘n onseker toekoms. Die skrywer van die Hebreër-brief sê : “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom” (11:8). Paulus het ‘n hele Romeine 4 nodig om oor Abraham se geloof te skryf as iets wat ondanks alle omstandighede bly vashou het aan God se belofte.
Geloof is die vashou aan God se belofte. Dit is om alle sekerhede prys te gee.
Op die Donderdag voor die kruisiging het Christus dieselfde keuse gemaak om God se wil te gehoorsaam.
Alles is egter van Hom weggeneem. In die donker nag is van sy laaste stutte hom ontneem. Sy getrouste vriende het verdwyn. Aan die kruis sou die stroping voortgesit word. Totdat, eindelik, ook die sekerheid van God se teenwoordigheid Hom ontneem is. Duidelik het Hy dit uitgeroep in die woorde: Waarom het U my verlaat?
Só loop die geestelike reis. Mens kom soms by die punt dat jy niks het om op terug te val nie. Nie eers geloof nie. Soms word mense se kennis van God, mense se wete van die goddelike hulle ook ontneem. Diepste vertwyfeling bly oor. Snydende vrae bly treiter. Selfs jou Godsbeeld word verduister. Dit is dubbele treitering: Oor die lyding sak ook die donker van vertwyfeling neer.
Abraham, terwyl hy die berg op is, het ook die ervaring gehad. God se belofte, waargemaak in sy seun Isak, is op die spel. Hy, lyk dit vir hom, het niks om meer op terug te val nie.
Wat sal hy doen?
Eeue later het Christus gedoen wat Abraham ook gedoen het: in die verstikkende duisternis, in die verskriklike godverlatenheid, het Hy bly bid: “Vader, in U hande gee ek my gees.”
Geloof is om teen alle sekerhede in, teen alle onsekerhede in, biddend vas te hou aan die teenwoordigheid van God - teen alle verlatenheid en verwildering in.
Gedurig weer, soos ‘n refrein, soos branders wat minuut na minuut, jaar na jaar, eeu na eeu breek, só ervaar ‘n mens in die geestelike lewe dat ‘n mens niks het om op te vertrou nie – selfs nie op ‘n mens se eie geloof nie. Net op God. Dit bly die onverganklike te midde van al die verganklikhede.
Terwyl die see langs my breek, neem die kruiswoorde oor die godverlatenheid my in my gedagtes na die interteks in Psalm 22, waar die Psalmis reeds die ervaring van godverlatenheid in woorde uitgedruk het. En, besef ek, hoe naby is daardie teks, daardie verlatenheid aan Psalm 23 se doodsvallei. Al gaan ek in ‘n diep, donker dal, in ‘n dal van doodskaduwee....
Dan, opmerklik, volg die geloofsroep: “Ek sal geen onheil vrees nie. Want U is met my. U stok en U staf dié vertroos my...”
U is met my. Selfs in die dal van die doodskaduwee.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.