Tuesday, April 19, 2011

Verswelg deur die nag. Die dun lyn tussen lig en duisternis.


Vandag is die dag in die Heilige Week waarin nagedink word oor die besluit van Judas om Jesus te verraai.

Die gebeurtenis is beskryf in die heel eenvoudige vertelling in Matteus 26: 4-6, 14-16 waarin vertel word hoe planne beraam is om Jesus gevange te neem.

In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”

Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.

Vergelyk nou hierdie vertelling met Johannes se vertelling:

Johannes 13.21—32:

Na hierdie woorde het Jesus hewig ontsteld geword en openlik verklaar: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” Die dissipels het verslae na mekaar gekyk en nie geweet wie Hy bedoel nie. Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, het net langs Hom aan tafel gesit. Simon Petrus beduie toe vir hom dat hy moet vra wie dit is wat Jesus bedoel. Hy leun toe oor na Jesus se kant en vra vir Hom: “Here, wie is dit?” Jesus het geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek 'n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.” Hy vat toe 'n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot. En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” Niemand van die ander wat aan tafel was, het geweet waarom Hy dit vir hom gesê het nie. Omdat Judas die beursie gehad het, het party van hulle gedink dat Jesus vir hom sê: “Gaan koop wat ons vir die paasfees nodig het,” of dat hy iets vir die armes moes gaan gee. Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.

Johannes teken ‘n episode waarin ‘n mens die gebeure van die binnekant bekyk. Dit is ‘n baie menslike Jesus wat hier geteken word. Jesus wat in Johannes Evangelie die mag het om mense uit die dood op te wek (bv. Lasarus), is hier oorweldig deur wat gebeur. Jesus is “in sy gees ontsteld” (O.V.).

Aan die ander kant kry ‘n mens die beeld van Jesus se dissipels: hulle is verwilderd oor Jesus se emosionele onthulling van die verraad. Hulle begryp nie wat aan die gebeur is nie. Hulle onbegrip staan helder uit teenoor die duidelik insig van Jesus. Hy besef die implikasies van hierdie oomblik: dit is die draaipunt. Van toe af stuur alles op sy einde af.

Twee keer word daar in hierdie gedeelte vertel dat Judas die brood geneem het. Daar is by hom nie ‘n greintjie twyfel nie. Hy neem willens en wetens die besluit. Terwyl al die ander dissipels aan die raai is, weet hy goed wat Jesus bedoel.

Aan die einde van die episode is daar die veelseggende opmerking dat Judas die brood vat en uitgegaan het. Sy besluit is geneem. En dan volg daar die hoogs simboliese opmerking: “Dit was nag” (vers 30).

Johannes Evangelie vertel van die groot teenstelling tussen lig en duisternis. Judas, vertroueling, dissipel, deel van die ligkring, kies die duisternis. En verdwyn daarin.

Die Heilige Woensdag van verraad is ‘n tyd om in ‘n spiel te kyk: Judas, man van die lig, is ‘n simbool van die vernietigende potensiaal in elke mens. Dit waarborg niks om in die lig te leef nie. Net ‘n enkele besluit kan ‘n mens bring om deur die duisternis verswelg te word.

Geen wonder dat Jesus so ontsteld was nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive