Ford Maddox Brown skilder Jesus wat die voete van sy dissipels was.
Op Donderdag van die Heilige Week word Jesus se laaste ete saam met die dissipels herdenk. Johannes 13 vertel van ‘n ete wat Jesus saam met sy dissipels gehad het waartydens Judas besluit het om Jesus te verraai. Maar Johannes 13:1 wys die konteks waarin Jesus hierdie ete aanbied: Jesus het geweet dat sy uur gekom het. Maar, staan daar dan, Hy het sy mense in die wêreld liefgehad – liefgehad tot die einde toe.
Die laaste maal van Jesus staan in die teken van die liefde.
Dit was geen swewende, blink liefde nie, lippetaal van Jesus oor sentimentele gevoelens tussen mense nie. Johannes maak van die begin af duidelik hoe Jesus die liefde verstaan. Daarom sou Jesus die dissipels se voete was. Dit was sy konkrete, nederige liefdesdaad aan sy vriende. Dit is daarom die simboliese, profetiese daad wat Jesus verrig voordat hulle die tafelgemeenskap deel.
Só nederig was hierdie daad, dat Petrus aanstoot geneem het en geweier het dat Jesus dit doen (Joh.13:8). Die liefde kan soms minder mooi lyk.
Hierdie verhaal word op die Donderdag van die Heilige Week herdenk. Hierdie Donderdag is in Engels bekend as “Maundy Thursday”. “Maundy” verwys na ‘n opdrag of ‘n gebod. Dit is dus die Dag van die Gebod. En dit roep in herinnering Johannes 13:34-35 wat skryf: “’n Nuwe gebod gee ek julle, dat julle mekaar moet liefhê, soos Ek ook julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”
Die lydenstyd is dus veel meer as net herinnering aan Jesus se self-gawe. Dit is ook ‘n tyd om die nuwe gebod te bedink, om ‘n mens in te leef in die nuwe gehoorsaamheid. Dit word die tyd vir voete was. Vir die liefde.
Die Donderdag voor Jesus se kruisiging is die dag waarop die kerk Jesus se laaste wens vir die geloofsgemeenskap herdenk – dit is die wens dat hulle ‘n liefdesgemeenskap moet wees. Tot aan die einde van sy aardse bediening is Jesus die Een wat die Liefde verkondig en vra. Maar dit dan ook uitleef deur sy dissipels se voete te was.
Die maaltyd wat Jesus met sy dissipels gehad het, was ‘n gemeenskapsmaaltyd, sê ons altyd – en beklemtoon daarmee op ‘n ander manier dat daar ‘n liefdesband tussen die dissipels moet wees. Maar hierdie gemeenskapsmaal, wat ‘n sakrament geword het, ‘n ritueel, is net die begin van die geloofsreis. Dit is inderdaad ‘n heilige daad, ‘n afsonderingsmoment met ander waardes en ander norme en ander insigte as waaraan mense gewoond is. Wat die aand voor Jesus se kruisiging begin, soos Rahner dit stel, vind sy hoogste waarheid en vervulling wanneer daardie gemeenskap deel word van die gelowige se daaglikse lewe. Die gebod van Jesus tot liefde beteken ‘n liefdeshandeling teenoor die armes en gebrokenes van ons alledaagse lewe. Die gebod is belangrik: want dikwels, heel dikwels, is dít hoe mense Christus ontmoet. Dikwels is dit tot heil van die verworpenes en randfigure – dat hulle Christus herken in die liefde wat teenoor hulle betoon word.
Die Donderdag van die Gebod begin ‘n transformasie-proses in mense se lewens wat deursuur is van liefde. Lyding gebeur ter wille van die liefde.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.