Spiritualiteit gaan om geloof wat beleef word. Dit het te doen met die geestelike weg wat mense aflê. Maar ‘n mens stap nie sommer blindelings die weg nie. En geloof is nie maar net om dom-weg aan iets vas te hou nie, asof ‘n mens maar net moet glo en alles sal vanself regkom.
‘n Geestelike weg kan soms op ‘n dwaalspoor beland. Geloof kan soms beleef word tot groot skade van ‘n mens self of van mense naby aan die gelowige. Soms moet ‘n mens diep dink oor wat geloof van ‘n mens vra en waarheen dit jou neem. Partykeer word ‘n mens tot stilstand gedwing met vrae oor die sinvolheid van geestelike oefeninge waarmee ‘n mens besig is. Nog dieper vra baie mense dikwels die vraag na die werking van God: hoe werk God? Hoe ontdek ‘n mens God se wil? Op dieselfde manier kan ‘n mens ook begin nadink oor dinge wat ‘n mens self doen. Wat word van mense in hul geloofsreis gevra? Alles gaan hier oor die onderskeiding (“discernment”) van God se wil vir die lewe.
Al hierdie vrae beteken dat ‘n mens soms ‘n bietjie moet terugstaan en begin dink oor die belewing van geloof. Daar kom ‘n “kritiese” afstand tussen geloofservaring wanneer ‘n mens begin nadink, kontempleer en besin daaroor. Dit is die tyd van vrae vra, nadink, bid, besin, wonder – juis om te kan groei en juis om ‘n egte geloof te ontwikkel.
In die ou dae is sulke soort vrae in die konteks van die kerk byvoorbeeld bedink in die sogenaamde “kategismusprediking”. Predikante was verplig om ten minste 12 keer ‘n jaar sulke diepsinnige, ingeligte en inhoudryke preke te hou. Hulle moes verslag doen aan die ring en die kerkraad moes ‘n wakende ogie hou. Hier het hulle gewoonlik die moeiliker vrae in die geestelike lewe van mense aangespreek. Tragies, soms het dit in allerhande haarklowery verval; nog meer tragies, dikwels word hierdie noodsaaklike dieper nadenke geïgnoreer en kry die geestelike honger lidmate mooi gevoelsstories en dieet-arme kitskos in plaas van die vaste voedsel wat geestelike groei aanhelp.
Maar dit is ook die tipe vrae wat in Bybelstudie-groepe na vore kom, of wat mense bedink wanneer hulle geestelike werke koop en lees. Hoe honger die mens wat op weg is met God elke dag om antwoorde op worstelvrae. Die geloof is tog nie so vlak, asof dit gaan om seil op ‘n gladde see nie.
In die Bybel speel hierdie kritiese nadenke ‘n baie groot rol. Beproef die geeste. Pasop vir die valse Christusse. Lees dit tekens van die einde. Vers na vers, hoofstuk na hoofstuk dink na oor wat dit beteken om in die geloof te leef. ‘n Mens sou jou teologie aan die hand van onderskeiding kan ontwikkel (soos Rahner dit ook doelbewus gedoen het). Dit gaan hier om onderskeiding van die geeste. In Engels is die tegniese begrip daarvoor “discernment”. Die mens onderskei dit wat werklik saak maak in sy of haar geestelike reis. In onderskeiding wil die gelowige nadink oor wat werklik transformatief is – wat iemand omvorm tot ‘n reisiger wat op pad is na God en wat soek na volmaaktheid in die Here.
Waaijman noem ‘n paar bekende name wat groot premie op onderskeiding geplaas het. Cassianus het gepraat van ware oordeel en ware kennis wat die mens innerlik help om tot geloofskennis te kom en om geloofsbeslissings te neem. Bernard van Clairvaux het gepraat van onderskeiding as die verstand wat die liefde orden en wat help dat die liefde nie hand uitruk nie (ja – “liefde” kan soms gevaarlik wees). Ignatius weer, praat van ‘n godsdienstige ken-leer, of ‘n teologiese epistemologie, waarin iemand krities nadink oor die grense, die bewyse, die maatstawwe en die beoordelingsskema’s wat nodig is om te kom tot kennis van God se wil.
Met ander woorde, leer ons van die groot geeste, die geestelike weg is nie ‘n blindelingse voortstrompeling nie. ‘n Mens het geestelike insig nodig. Waar dit ontbreek, kan ‘n redelike groot gemors ontstaan. Ja, op ‘n punt ervaar ‘n mens God se liefdevolle aanraking. Daarsonder kan die geestelike weg nooit aan die gang kom nie. Maar steeds weer moet ‘n mens met insig nadink oor hoe lyk God se aanraking (soms kan aanrakings lyk asof dit van God kom, maar dan is daar ook min goddeliks daaraan) en wat God wil bereik in mense se lewens deur hierdie aanraking. En, hierdie insig waarna ‘n mens gedurig soek (biddende, vra ‘n mens tog telkens na God se wil), raak so baie dinge, so baie kante van ons lewe, dat dit ‘n mens intens, lank en diep besig kan hou.
Cassianus, skryf Waaijman, som hierdie proses van onderskeiding baie goed op deur ‘n maklike beeld. Iemand kom ruil ‘n goue munt by ‘n geldwissellaar in. Die geldwisselaar gaan nie sommer net daardie munt vat nie. Hy gaan eers kyk of dit regtig ‘n goue munt is en nie ‘n baie blink kopermunt nie. Hy gaan dan versigtig kontroleer of die prentjie van die koning op die munt reg is of nie. Dan gaan hy verder en ondersoek aan die hand van sekere kenmerke of die munt wettiglik gemunt is of vervals is. En verder sal hy ook die munt versigtig weeg om te kyk of die gewig korrek is.
Hierdie vier aspekte van Cassianus se beroemde beeld van die goue munt bied ‘n nuttige manier om na te dink oor die onderskeiding van God se wil. Aan die een kant ontdek ‘n mens met hierdie beeld dat die geestelike weg nie sommer net ‘n kwessie van blindelings gestrompelry is nie. ‘n Mens moet met insig hierdie pad met en na God toe loop. Trouens, daar is vele hoeke en gesigtpunte van waaruit ons kan nadink oor ons geestelike reis met en na God. Dit is eintlik so helder uit die Bybel self. Dink maar net aan al die briewe wat Paulus geskryf het (en dit is net die wat ons nog het) waarin hy sy gemeentes begelei het om God se wil vir hul lewens te onderskei. En dink maar net aan hoeveel van Paulus se opponente het van hom verskil oor hoe hy God se wil verstaan het (Petrus! Galate!). (Hoe weet ons Paulus was reg? Hoe onderskei ons dat sy wil in ooreenstemming met God se wil is?).
Aan die ander kant is die beeld van die goue munt ‘n waardevolle leermiddel. Deur die geestelike weg vanuit hierdie vier hoeke te benader, kan ons geestelike volwassenheid en nugterheid ontwikkel.
Spiritualiteit is ryk aan inhoud. Wanneer ‘n mens oor die onderskeiding van die geeste praat, ontdek ‘n mens met verrassing watter verantwoordelikheid die geestelike reis met hom meebring. God vertrou mense om die nodige insig te ontwikkel, om as geestelik volwasse mense te leef en om gedurig weer na te dink oor hoe die verhouding met God in hul lewens die beste beleef kan word.
‘n Geestelike avontuur is dit om met insig te kan nadink oor hoe ‘n mens jou geloof beleef. Dankbaar ontdek ons dat ons geloof nie teenoor ons verstand staan nie, maar juis ons verstand heilig en deur ons verstand geheilig word. Daarom hoor ons so baie van die Heilige Gees in spiritualiteit.
Hieroor wil ek so bietjie meer skryf – aan die hand van Waaijman se vier gesigshoeke op die onderskeiding van God se wil.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.