Hier is 'n deel van die Pous se vastydbrief. Ek kan dink dat dele daarvan vir Luther en Calvyn baie bly sou gemaak het as hulle so iets sou kon gelees het.....
Deur ons deur die Doopsakrament in die dood en opstanding van Christus te onderdompel, word ons daartoe aangespoor om ons hart elke dag van die las van materiële dinge te bevry, van ‘n egoïstiese band met die “aarde”, wat ons verarm en ons verhinder om beskikbaar te wees en oop te staan vir God en ons naaste. In Christus het God Hom as liefde geopenbaar. Die kruis van Christus, die “Woord van die kruis”, maak die reddende mag van God duidelik, wat daarop gerig is om die mens op te help en hom verlossing te skenk – liefde in sy mees radikale vorm. Deur die tradisionele praktyke van vas, aalmoes en gebed gee ons uitdrukking aan ons begeerte tot bekering. So leer die Vastyd ons om die liefde van Christus op ‘n radikaler wyse te beleef. Daar kan verskillende dryfvere skuil agter ‘n mens se begeerte om te vas en ’n Christen moet seker wees dat sy vas ‘n diep godsdienstige betekenis het: Deur ‘n sobere leefwyse leer ons om ons egoïsme te oorwin en sodoende volgens die logika van gawe en liefde te lewe; deur onsself van iets te ontsê – en nie net iets oorbodigs nie – leer ons om minder te fokus op die “ek” en om Iemand naas ons te ontdek en God te herken in die aangesig van ons broers en susters. Die vas is nie iets wat ons inperk nie, inteendeel deur te vas stel ons onself meer oop vir God en die behoeftes van ander mense en sorg ons daarvoor dat ons liefde vir God ook liefde vir ons naaste is.
Op pad kom ons dikwels te staan voor die verleiding van besittings, van geldsug. Dit doen afbreuk aan God se oppermag in ons lewe. Begeerte na besittings veroorsaak geweld, magsmisbruik en dood; daarom herinner die Kerk ons veral gedurende die Vastyd aan die praktyk van aalmoese gee, dit wil sê die vermoë om dit wat jy besit met ander te deel. Die verafgoding van besittings skep nie net ‘n kloof tussen mense nie, maar dit beroof ons van onsself, dit maak ons ongelukkig, bedrieg ons, mislei ons en maak ydele beloftes aangesien besittings naderhand die plek van God inneem, Hy wat die enigste bron van lewe is. Hoe kan ‘n mens God se vaderlike goedheid begryp as jou hart so vol van homself en sy eie planne is waarmee jy probeer om jouself van ‘n toekoms te verseker? Dit is die verleiding om te dink soos die ryk man in die gelykenis: “Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem, rus, eet, drink, wees vrolik…” Ons ken die Here se oordeel: “Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?” (Luk. 12: 19-20). Deur aalmoese te gee herinner ons onsself aan God se oppermag en die aandag wat ons ander verskuldig is – so ontdek ons opnuut ons goeie Vader en deel ons in sy barmhartigheid.
Gedurende die hele periode van die Vastyd bied die Kerk ons God se Woord in besondere goeie mate aan. Deur dit te oorpeins en ons eie te maak om elke dag te beleef, leer ons ‘n kosbare en onvervangbare vorm van gebed aan, omdat ons aandagtige geluister na God, wat tot ons hart bly spreek, die weg van die geloof voed waarmee ons op die dag van ons Doop begin het. Die gebed maak dit ook vir ons moontlik om ‘n nuwe begrip van tyd aan te leer – sonder die perspektief van die ewigheid en transendensie bly ons gefokus op ‘n horison wat geen toekoms inhou nie. In gebed vind ons die nodige tyd vir God en leer ons verstaan dat sy “woorde nie verby sal gaan” voordat ons ‘n innige verhouding met Hom aangegaan het “wat niemand sal kan wegneem nie” (Joh. 16: 22) en wat ons ontvanklik maak vir die hoop wat nie teleurstel nie, vir die ewige lewe.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.