Monday, April 25, 2011

Die opstanding en Michelangelo

Michelangelo het verskeie uitbeeldings van die opstanding gemaak.


In die eerste voorstelling is Christus aan die opstaan. Die omstanders is oorweldig deur die gebeurtenis. Hulle staan terug, in ontsetting voor wat gebeur. Christus se gesig is herkenbaar - anders as die omstanders s'n. Sy figuur oorheers die toneel. Dit is 'n sterk uitbeelding van iemand wat met krag die dood oorwin en uit die graf kom. Aangrypend is die manier waarop die vorm van die skildery 'n mens se oog trek na die hande van die opgestane Christus. Daar loop 'n direkte lyn van die figuur aan die regterkant wat terugskrik voor die impak van die ervaring. Die lyn loop direk na die hande van Christus wat na die hemel uitgereik. Sy hande wat terugval, kontrasteer met die hande van Christus wat na Bo reik.







In die volgende uitbeelding van die opgestane Christus is die uitbeelding byna staties. Anders as in die vorige uitbeelding kyk Christus nie na bo nie. Dit is 'n indrukwekkende toneel van iemand wat liggaamlik sterk is. Sy opstanding wys sy terugkeer tot volle krag.'n Mens sien die liggaam duidelik. Onmiskenbaar wys dit op die krag van die opstanding.






Die laaste uitbeelding is heel uniek. Hier is die opstanding tegelyk die hemelvaart. 

Daar is niks meer wat Christus met die aarde bind nie. Hy laat die aardse bestaan agter. Lig, lig beweeg Hy na bo. 

Onwillekeurig volg die kyker sy beweging die hemel in. Die omstanders is oorweldig. Hulle is staties, teruggeskrik, deel van die aardse bestaan. Juis omdat hulle so aards is, is die ligte hemelwaarste beweging van die Opgestane Christus soveel opvallender. 'n Mens sien nie Christus se gesig nie. Sy liggaam is ook nie meer so fisiek uitgebeeld soos in die vorige twee uitbeeldings nie. 'n Kleed/omhulsel omring hom. Daar is iets surreeels, mistieks aan sy figuur wat die uitbeelding heeltemal oorheers. Die leser wat hierdie uitbeelding noukeurig bekyk, voel die greep van die opwaartse beweging. Hy of sy word meegesleur deur die geestelike vervoering. 




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive