Terwyl ek 'n artikel aan die skryf is oor Openbaring 18, val dit my op hoe skerp die kritiek van Johannes was op die "groot stad" oor sy gierigheid en uitbuiting. Kyk maar hoe erg word dit: in Openbaring 18:13 is daar 'n lang lys van handelsware - en heel laaste op die lys is daar die items van slawe en menselewens. Kosbare mense is soos winkelgoedere verkwansel.
En as die stad veroordeel word, is al waaraan die handelaars kan dink al die rykdom en luukshede wat tot niet is. Hulle begryp nie waarom hulle hele bedryf tot niet geraak het nie. Hulle gierigheid maak hulle blind vir die korrupsie en boosheid van die sisteem waarin hulle opgeneem is.
En as die stad veroordeel word, is al waaraan die handelaars kan dink al die rykdom en luukshede wat tot niet is. Hulle begryp nie waarom hulle hele bedryf tot niet geraak het nie. Hulle gierigheid maak hulle blind vir die korrupsie en boosheid van die sisteem waarin hulle opgeneem is.
Daar is baie voorbeelde van perverse rykdom op ons aardbol. En die reuse-gaping tussen ryk en arm mense, ook in ons land, is 'n groot bron tot kommer. Dit is hartverskeurend om te sien in watter omstandighede mense woon en werk, en dit te midde van grootskaalse korrupsie.
Met hierdie gedagtes lees ek toe Dinsdag die onderstaande berig. En die afgelope paar dae bly ek daaraan dink. Veral die een opmerking bly by my: die maatskappy waaroor dit gaan wil nie 'n groot wins maak nie.
En verder ploeg hulle 'n derde van hul inkomste in hul werkers in en nog 'n derde aan donasie. Daar is ook die skreiende opmerking dat sommige Suid-Afrikaanse firma's trots is as hulle 5% aan liefdadigheid gee. Hierdie firma gee 33%.
En, dan die kersie op die koek: dit is die oudste firma in die wereldgeskiedenis.
Geen wonder nie.
Hier is die berig. Lekker stof om aan al die sakemanne deur te gee.
Sake-etiek lei tot volhoubaarheid
Mar 29 2011 09:03 Francois Williams
Mense wil graag ryk wees. Om eerlik ryk te word, moet jy baie hard werk, en om ryk te bly en nóg ryker te word, moet jy ’n groot deel van jou wins in jou onderneming terugploeg. Benewens harde werk is natuurlike hulpbronne en kapitaal nodig.
Dié sakemodel was oor die geskiedenis van kapitalisme suksesvol om die wêreldekonomie te laat groei.
Maar in die proses het die wêreld by die punt gekom dat dit nie volgehou kan word nie bloot omdat hulpbronne beperk is.
Prof. Take Ito, assosiaatdekaan van die nagraadse skool van die Nagoja-universiteit van Handel in Japan, vertel in ’n onlangse praatjie by die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool in Bellville hoe Japanse maatskappye ’n etiese en volhoubare benadering tot sake-doen ontwikkel het wat volgens hom die antwoord bied.
Kongo-gumi is die oudste sake-onderneming ter wêreld. Dit bestaan al sedert die jaar 578. Die maatskappy onderhou die historiese houttempels in Japan.
Hy maak nie ’n groot wins nie, die baas woon nie in ’n groot huis nie en hy ry nie in ’n groot motor nie. Maar dit is volgens Ito ’n voorbeeld van ’n maatskappy met ’n etiese en volhoubare sakemodel, en ’n maatskappy wat so aanvaar word in die samelewing dat die samelewing sal ingryp om te keer dat dit ondergaan.
In 2006 het Kongo-gumi groot skuld gehad en met die konstruksiemaatskappy Takamatsu saamgesmelt. Maar teen 2009 het Takamatsu self bankrot gespeel weens sy eie swak finansiële bestuur.
Druk uit die gemeenskap het egter so opgewel dat die hele Japan uitgeroep het dat Kongo-gumi nie toegelaat moet word om onder te gaan nie. Net 15 mense werk daar, maar die hele Japan het saamgespan om te sorg die maatskappy leef voort.
Ito glo ’n waarlik etiese maatskappy sal vanself volhoubaar wees. Die samelewing sal sorg dat hy voortbestaan omdat hy so deeglik deur die samelewing aanvaar word. En hoekom word hy so deeglik aanvaar? Omdat die maatskappy nie net vir wins lewe nie.
Tot onlangs het maatskappye graag gesê hulle doel is om wins vir hulle aandeelhouers te genereer. Volhoubare ondernemings het volgens Ito tans ’n baie wyer visie. Die Japanse voedselmaatskappy Suntory, volgens Ito die 8ste grootste voedselmaatskappy ter wêreld en die 15de grootste in die internasionale biermark, het ’n vaste beleid om sy wins in drie te verdeel.
’n Derde word in sy werknemerskorps belê, ’n derde word in die onderneming teruggeploeg om produkte te verbeter, en ’n derde word op die samelewing – die gemeenskap – bestee. Ito noem hy het gehoor van ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat 5% van sy wins aan liefdadigheid gee en wat baie trots is op dié groot bedrag. Suntory gee 33,3% weg. Dis in die vorm van welsyn, skole, die kunste, onderwys, sport, plaaslike gemeenskappe ens.
Is dit te veel?
Wel, ’n derde is groot genoeg om groot dinge te vermag. Dis baie moeilik om regtig ’n groot verskil te maak met ’n klein bydrae. Een enkele groot bydrae soos ’n derde van jou jaarlikse wins maak jou bydrae die moeite werd.
En vir Suntory self is dit ook die moeite werd. Japanse jong mense val oor mekaar se voete om daar te werk. Ito sê van 2002 tot verlede jaar was Suntory onder die top-10- gewildste maatskappye waar studente wil gaan werk as hulle klaar gestudeer het. Suntory kan dus die beste mense kies.
Dié benadering is diep gewortel in die Japanse sakewêreld, volgens Ito. Mnr. Konosuke Matsushita, die stigter van die Japanse tegnologiereus Panasonic, se visie was om meer as net handelsnaamlojaliteit te kweek, maar om Japan ná die Tweede Wêreldoorlog ’n beter plek te maak.
Sy drie doelwitte was om produkte te skep wat die lewe vir mense makliker maak, om wins te maak, en om ’n openbare instelling in die gemeenskap te wees.
Ito wys daarop dat Japan die meeste maatskappye in die wêreld het wat ouer as 200 jaar is – op 3 113, gevolg deur Duitsland se 1 565, Frankryk se 331, en Brittanje se 315.
’n Maatskappy se bestaansrede is nie net om voort te bestaan nie, maar Ito probeer hierdeur wys ’n etiese en volhoubare benadering tot sake sal verseker dat ’n maatskappy oor geslagte heen kan voortgaan – omdat hy nie net die lojaliteit van sy aandeelhouers of kliënte nie, maar van die hele samelewing kon wen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.