Wednesday, March 09, 2011

Deur my, in wie Christus leef, word Christus 'n teenwoordigheid in my naaste....


Simone Weil, in haar boek, Waiting for God, het ‘n hoofstuk waarin sy praat oor die implisiete liefde van God.

Sy begin die gedeelte met ‘n bespreking van naasteliefde. Hiervoor sluit sy aan by Jesus se uitspraak in Matteus 25 waar Jesus aan sy weldoeners sê dat hy eendag vir hulle dankie sal sê. “Ek was honger en julle het my iets gegee om te eet.”

Dit is ‘n boeiende vers, meer as wat ek ooit gedink het, besef ek toe ek Weil se verdere uitleg lees: As ‘n mens hieroor nadink, is dit Christus self wat iets te ete aan Christus gee, skryf sy. ‘n Mens kan tog nie, soos Christus in Matteus 25 sê, aan Christus iets te ete gee as ‘n mens nie eers geword het wat Paulus  in Galasiërs skryf nie: “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my”. ‘n Mens word aan Christus gelyk en dit stel jou in staat om vir Christus (in jou naaste) iets te ete te gee!

Jy word ‘n dissipel van Jesus. En as volgeling verteenwoordig en beliggaam ‘n mens Christus in die wêreld. En reik jy in naasteliefde uit – na Christus.

Die Evangelie fokus duidelik op hierdie een boodskap: die mens wat ly, die mens wat iets te ete ontvang, is iemand in wie Christus is. Die lydende mens is iemand wat Christus beliggaam of verteenwoordig. Wie hom of haar voed, voed Christus self! Hy of sy is Christus.

Een ding is duidelik: Die mens wat ly is in Matteus 25 nie iemand wat dit werd is om gevoed te word nie. Hy of sy “verdien” nie die voedsel nie. Hy of sy het nie besondere geestelike kwaliteit wat hom of haar kwalifiseer om gevoed te word nie.

Hoe word Christus dan nou ‘n teenwoordigheid in die lewe van mense wat swaarkry? Dit gebeur wanneer ‘n gelowige mens in wie Christus lewe (soos in Galasiërs), ‘n weldoener word. Die oomblik wanneer hy of sy iets te ete gee aan iemand wat ly, is hy of sy as gelowige die rede waarom Christus nou in die lewe van die een wat ly teenwoordig word. Die mens wat ly, word Christus deur die voedsel wat aan hom of haar gegee word in sy of haar lyding.

Die gelowige deel Christus deur die voedsel uit aan die lydendes. Die teenwoordigheid van Christus in ander hang van hierdie voedsel af.

Die mens wat ly moet die gawe sekerlik aanvaar of verwerp. Dit is hoe dit ook werk met die sakrament van die nagmaal. ‘n Mens kan dit aanvaar of nie. Maar as die gawe op die regte manier gegee word en op die regte manier ontvang word, dan word die uitdeel van die brood soos die nagmaal.

Ek lees hierdie woorde en besef hoe baie moet ek nog nadink oor Matteus 25. En hoe sakramenteel ons naasteliefde is. Dit word ‘n saak van lewe of dood.

Tuesday, March 08, 2011

Die wete: slegs in eenwording met God sal ‘n mens rein kan leef.

Die Navolging van Christus 1.19 handel oor die geestelike oefeninge van ‘n goeie kloosterling. As ‘n mens hierdie hoofstuk lees, gee dit vir ‘n mens ‘n kykie in die diep geestelike karakter van Thomas se teks. 

Dit is ‘n lang teks, vol pragtige praktiese raad. Maar dit is ook 'n teks wat sy aktualiteit in vele opsigte behou - selfs in 'n tyd dat kloosters aan die uitsterf is.

Hoe ryk die gedeelte is, is al duidelik wanneer ‘n mens die eerste vier verse lees (wat Thomas as ‘n eenheid afgebaken het) en sien hoeveel insigte in die geestelike reis daarin voorkom.

Vir Thomas is dit belangrik dat iemand wat God wil dien, se lewe in "alle" deugde moet uitblink. Dit is hoe hy die hele hoofstuk oor die "oefeninge" van ‘n goeie kloosterling, begin. Immers, die oefeninge is om 'n deugsame lewe te voer.

Die hoofstuk gaan spesifiek oor mense wat in ‘n klooster woon en moet ook teen daardie agtergrond verstaan word. As ‘n mens bedink dat Thomas skryf in ‘n tyd toe die kloosterlewe oppervlakkig en wild was, is sy opmerkings opvallend. Hy is besig om vernuwend te dink oor iets wat duisende van sy tydgenote totaal ontgaan. Vir hulle is deugdelikheid ‘n woordjie op papier, ‘n uiterlikheid wat met godsdiens geassosieer word, maar nie regtig enige verskil aan mense maak nie. 

Die begin van hierdie hoofstuk loop reg teen die grein van so ‘n lewenshouding in. Thomas spreek 'n - vir hom - uiters aktuele tema reguit aan. Hy vertel hoe belangrik dit is dat mense hul geestelike reis met God as ‘n geleefde ervaring moet kan aflê. In die opsig is die hoofstuk deel van 'n boek wat as spiritualiteitsteks trefkrag ver buite die klooster en ver verby sy eie tyd het. 

Des te meer omdat wat hy oor die klooster skryf, in ‘n sekere sin ook van gewone geestelike mense geld.

Godsdiens is vir hom nie spitsvondigheid nie. Dit het vir hom heel praktiese te doen met die leef van ‘n rein lewe. ‘n “Goeie” lewe van iemand wat in afsondering in ‘n klooster lewe, beteken dat in “alle” deugde uitgeblink word.

Hier gaan rooi ligte onmiddelik aan: vir baie lesers van die Navolging het dit beteken dat Thomas moraliserend en voorskriftelik is. En, voel hulle, die gevare van moraliserende tekste is altyd dat hulle uiterlikheid in die hand werk. So asof godsdiens te doen het met ‘n mooi, rein lewe wat bedoel is om indruk te maak na buite.

Thomas sny hierdie moontlikheid duidelik af. Uiterlikheid, skryf hy, moet met ‘n innerlike deugdelikheid gekoppel word. ‘n Deugsame mens sal dan innerlik dieselfde wees as wat mense oor sy uiterlike waarneem.  Wat mense van jou sien, is wat jy innerlik werklik is. Thomas gebruik hier vyf woorde wat die innerlike/uiterlike verbind.  Wat jy sien is wat jy kry.

Thomas loop haal dinge nog ‘n bietjie dieper. Hy herhaal in vers 2 sy stelling oor innerlikheid, maar doen dit met meer intensiteit. As mense iets in jou lewe raaksien, moet daar daarvan in oorvloed in jou innerlike lewe oor wees.  In jou innerlike moet daar dus veel meer aangaan as wat ander mense ooit sal kan sien.

Maar hy delf nog veel dieper. En dit is op hierdie punt dat sy teks finaal verby enige moralisering beweeg. In werklikheid kry sy teks hier ‘n sterk mistieke kleur. Deugdelikheid maak vir hom saak en is reg omdat God ons binneste raaksien.  Daar is nie so iets soos ‘n outonome etiek nie. Daar is ook nie ‘n etiek ter wille van die wêreld nie. Alles wat rein en goed is aan ‘n mens se lewe is daar ter wille van God wat dit raaksien.

Nadat hy genoem het dat God ons binneste sien, fokus hy die res van hierdie eerste afdeling op ‘n spesiale manier op God.’n Mens sien dit aan sy God-taal.  Vyf keer verwys hy na God (sien die rooI gemerkte woorde in die tabel).  Met hierdie verwysings beklemtoon hy dat die deugde van die gelowige ‘n teken is van diens aan God (sien die “heilige diens aan U” in verse 4).  Selfs die woord “diens” kry deur die byvoeglike naamwoord “heilig” ‘n transendente karakter. 

Hier voeg hy ook, om alles te kroon, ‘n gebed aan God in: die intense strewe na deugdelikheid word in ‘n gebedsraamwerk ingegiet.  Wie daarna soek weet ook hy of sy moet daarvoor bid.

Dit is die mistieke wete: slegs in eenwording met God sal ‘n mens rein kan leef. Wie alles insit om 'n lewe vol deugde te kry, bid tot God daarvoor.

Maar ook hier is Thomas intens. Sy God-taal oor ‘n deugdelike lewe as diens aan God is gelaai met energie: die diens aan God word gesoek “met uiterste inspanning” en “waar ons ook al is”. En dit strek verby aardse kenmerke. Dit behels om so rein soos engele te wees. 

Ook opvallend is hoe hy die diens aan God as ‘n konstante, durende soeke beskryf. In vers 3 beklemtoon hy dat dit iets is wat “elke dag” gebeur. Vier keer herhaal hy die verwysings na die hede: elke dag/vandag/nou/ vandag (sien die groen merkers in die teks van vers 4). 


Daar is egter in hierdie gedeelte ‘n baie belangrike woord wat Thomas in die res van die hoofstuk gedurig gaan herhaal. Hy praat naamlik van die “voorneme”, die “besluit”, of, die “wil” van die mens. Elke dag moet die mens opnuut weer van voornemens wees om God te dien. ‘n Mens moet gedurig jou wil hernuwe. ‘n Mens wat soek na ‘n deugdelike lewe is iemand wat tot bekering gekom het en besluit om God te wil dien. Wat voorneme ook oproep, blyk wanneer dit in die gedeelte verbind word met “ywer” en “diens aan God” (verse 3 en 4): “Elke dag moet ons ons voorneme  vernuwe en onsself tot ywer aanspoor.


Dus, opsommenderwys, die deugsame lewe van ‘n gelowige is gerig op God en word gedryf deur ‘n intense, inspannende voorneme tot totale toewyding om elke oomblik meer vir God met ‘n rein lewe te vereer. Om dus te soek om in alle deugde uit te blink, is ‘n teken dat ‘n mens in God se teenwoordigheid leef en soek om God te eer (vers 2!). Doen alles, sien ‘n mens hierin raak, tot eer van God. Calviniste sal baie hiervan hou.


Hier is ‘n letterlike vertaling van die eerste vier verse:


1. Die lewe van ‘n goeie kloosterling moet in alle deugde uitblink.
sodat dit só van binne is, soos wat dit vir mense van buite lyk.
2. En tereg moet dit veel meer wees van binne as wat dit van buite waargeneem word:
omdat God ons binneste sien;
hom moet ons met uiterste inspanning eerbiedig, waar ons ook al is, 
en soos engele voor sy aanskyn so rein wandel.
3. Elke dag moet ons ons voorneme  vernuwe en onsself tot ywer aanspoor
asof ons eers vandag met ons bekering begin het, en sê:
4. Staan my by, Here God, in ‘n goeie voorneme en in heilige diens aan U,
en gee dat ek nou, vandag, definitief kan begin, want alles wat ek tot nou toe gedoen het, is niks.


Hier is die Latynse teks:


1. Vita boni religiosi omnibus virtutibus pollere debet:
ut sit talis interius, qualis videtur hominibus exterius.
2. Et merito multo plus debet esse intus quam quod cernitur foris:
quia inspector noster est deus;
quem summopere reuereri debemus vbicumque fuerimus:
et tamquam angeli in conspectu eius mundi incedere.
3. Omni die renovare debemus propositum nostrum, et ad feruorem nos excitare:
quasi hodie primum ad conuersionem venissemus, atque dicere.
4. Adiuua me domine deus in bono proposito et sancto seruicio tuo;
et da michi nunc hodie perfecte incipere: quia nichil est quod hactenus feci.

Monday, March 07, 2011

Liefde en goeie werke: om by God te kan wees. Die mistieke in die geestelike reis.

Thomas van Kempen skryf in die eerste boek van sy Die Navolging van Christus ’n hoofstuk (15) met die opskrif Oor werke uit liefde verrig. Dit is 'n belangrike tema met groot implikasies vir spiritualiteit.


Op die oog af lyk dit na ’n hoofstuk met ’n etiese karakter. Maar as ’n mens die hoofstuk versigtig lees, herken jy daarin die diepere dimensies van die geestelike reis wat Thomas so meesterlik kon uitwys en kom die mistieke aard van die Navolging onmiskenbaar na vore. Dit is 'n hoofstuk wat uiteindelik sterk wil fokus op eenwording met God.


Dit is interessant, en ook besonder belangrik vir die verstaan van die gedeelte dat Thomas self die tema in twee afdelings verdeel. Hy bring die eerste 8 verse saam in ’n afdeling en merk die laaste vier verse as ’n aparte afdeling. Dit maak ’n mens nuuskierig. Duidelik wil hy daarmee die klem laat val op die laaste afdeling en dit is hierdie afdeling wat duidelik mistiek in karakter is.


1.1. Doen altyd goed en selfs beter (kyk die klem op goeie werke in die deel)

Die eerste onder-afdeling van die eerste deel begin met ’n opdrag om niemand kwaad aan te doen nie.


So lyk die vorm van hierdie eerste deel van die teks:


1. Vir niks ter ter wêreld en ter wille van niemand se goedgesindheid mag jy iets kwaads doen nie.
Wel moet in die belang van ‘n behoeftige mens soms ’n goeie werk vrywillig onderbreek word
of selfs deur een beter werk vervang word.
Want as dit gebeur, wordt ‘n goeie werk nie tot niet gemaak nie,
maar in ‘n beter een verander.


Dit is ’n besondere streng bevel waarmee die gedeelte begin. Die saak lê vir Thomas na aan die hart. “Vir niks ter wêreld en vir niemand se welwillendheid” moet ’n mens iets kwaad doen nie. In die res van die gedeelte praat Thomas oor “goeie werk” as die teendeel van “iets kwaad doen.” Dus: goeie werke en jou weerhou van die kwaad is iets waarvoor ’n mens jou ten alle koste moet inspan.


Maar vir Thomas gaan dit nie net om goeie werke nie. Sommige goeie werke is vir hom selfs belangriker as ander. Soms kom jy voor die keuse te staan om groter behoeftes deur jou goeie werke aan te spreek. Trouens, skryf Thomas, vir “’n behoeftige mens” moet jy selfs jou goeie werke waarmee jy besig is, onderbreek. As jy dit doen en na so iemand omsien, is jy met nog ’n beter werk besig. 

Die ingesteldheid op die ander kom dus al sommer vroeg in die hoofstuk na vore (later stel Thomas dit nog uitdrukliker aan die orde). Goeie werke, lei 'n mens gou af, is dus om na ander uit te reik.


Die vorm van die res van die eerste gedeelte wys hoe die motief van goeie/beter werk herhaaldelik daarin na vore kom: daar is ’n ontwikkeling van die motief van “nie kwaad doen” nie, na “goed doen” en “beter doen”. 

Die opdrag om nie kwaad te doen nie, om goed te doen en om selfs beter te doen word deur ‘n “want” gemotiveer. Deur ’n goeie werk te onderbreek of met ’n ander een te vervang, is ’n mens nie nalatig nie. Jy is dan juis besig om steeds meer te doen. ’n Mens moet dus daarna steeds streef om beter en beter werke te doen. En die beste wat ’n mens kan doen, is gerig op hulle wat ’n mens nodig het – die behoeftige.


1.2. Goeie werk word deur liefde gekenmerk  (kyk hoe kom liefde in die deel na vore)

In die tweede onder-afdeling van die eerste deel van hierdie hoofstuk kom die eintlike tema daarvan aan die orde.


So lyk die teks formeel:


3.  Sonder liefde is ‘n uiterlike werk niks werd.
Wat egter uit liefde gedoen word, hoe gering en onaansienlik dit ook al mag wees, dra volop vrug.
4.  Met hoeveel liefde iemand iets doen, tel vir God meer as die werk wat hy doen.
5.  Baie doen die mens wat baie lief het.
6. Baie doen die mens wat iets goeds doen.
7. Goed doen iemand wat meer de gemeenskap as sy eie heil dien.


Met hierdie onder-afdeling trap Thomas sommer met die liefde in die deur. ’n Mens kan uiterlik goed doen, maar as dit nie uit liefde gedoen word nie is dit niks werd nie! ’n Goeie werk het slegs die regte uitwerking wanneer dit deur die liefde gedryf word. Agter goeie werke skuil daarom die liefde (caritas). 


Dit is ook nie die grootheid en die indrukwekkendheid van ’n daad wat tel nie. ’n Geringe, eenvoudige, klein, selfs onaansienlike gebaar van goedheid kan groot vrug dra. (Onaansienlik! Die vrou wat Jesus se voete salf.... Jesus se opponente het die daad nie geag nie... ). ’n Nederige liefdesdaad kan volop vrug dra. 


Thomas dekonstrueer die goeie daad nog verder: En dan vertel hy wat eintlik belangrik is vir God aan goeie werk. Dit is die liefde wat God sien eerder as die werk wat tel. God kyk nie na die goeie werk nie. God kyk agter die goeie werk. Dit is die eerste keer dat Thomas in hierdie hoofstuk na God verwys. Hier praat hy oor hoe God voel oor goeie werke.


Dan verbind Thomas sy eerste twee onder-afdelings in twee hoogs poëtiese reëls wat 'n paar vorm. Die Latyn lees pragtig: “Baie doen die een wat lief het. Baie doen die een wat goed doen.” Hier word die twee belangrike motiewe (liefde en goeie werke) wat tot dusver genoem is, met mekaar in een sin verbind. Die twee sinne is egter nie identies nie, al is hulle parallel (hulle begin albei met “Baie doen die mens wat...). ’n Liefdevolle mens is iemand wat baie doen (“Iemand wat lief het, doen baie”). Maar ’n mens wat goed doen, is ook een wat baie doen. Om uit liefde te doen, tel baie. En om goed te doen, tel baie!


Hier is die Latyn:


5. Multum facit: qui multum diligit.
6. Multum facit: qui rem bene facit.
7. Bene facit: qui communitati magis quam sue voluntati seruit.


Kyk die konstruksie van die drie reëls:


Die begin van reël 5 en reël 6 is dieselfde (Multum facit: qui). Hulle vorm dus ‘n parallelle paar. Maar terselfdertyd is die slot van reël 6 en die begin van reël 7 parallel (bene facit... bene facit). Reël 7 hoort dus ook by reël 6 en verklaar dit eintlik. Die mens wat goed doen, doen baie. Maar die een wat baie doen, is die een wat nie op homself ingestel is nie, maar op die gemeenskap. Die drie reëls eindig dus klimakties met die motief van diens: wat tel is dat ‘n mens ander dien, nie dat ‘n mens jou eie wil dien nie. 


Goeie werke, vertel hierdie slot, is dus “diens aan ander”. Dit bevestig die eerste gedeelte se ingestelheid op die behoeftige. Thomas maak seker dat sy lesers hom goed verstaan: hy kombineer ‘n positiewe uitspraak (op gemeenskap ingestel) met ‘n negatiewe (nie jouself nie). Saam onderstreep hulle dat ‘n goeie werk, uit liefde gedoen, is nie op jouself, maar op die ander gerig. Kyk net hoe sterk is die laaste woord in die gedeelte in fokus: Dit staan aan die einde van die sin as : “Om te dien.”


1.3. Wat nie goeie werke is nie. (kyk hier hoe hy vertel wat liefde nie is nie).

Thomas sluit nou die eerste groot deel af deur verder te fokus op ’n self-gerigte goeie daad. Hierdie daad, skryf hy sommer aan die begin van die gedeelte, het niks te doen met liefde nie.

So lyk die teks formeel:

8. Dikwels lyk dit asof dit liefde is,
maar dit is eerder selfsug.
Want natuurlike neigings, eie wil,
hoop op beloning en gemaksug wil maar selfde ontbreek.


In die derde onder-afdeling van deel een, vertel Thomas dat goeie werke soms lyk of dit uit liefde gedoen word. In werklikheid is dit ’n hele klomp ander dinge. In plaas van liefde (caritas), is dit in werklikheid selfsug (carnalitas). Die Latynse woord wys op vleeslikheid. En dit is die teenoorgestelde van Geestelikheid. Dan word ‘n mens bepaal deur jou eie bestaan (vlees) en leef jy vir jou eie voordeel alleenlik.


Wanneer ‘n mens goed doen, waarsku Thomas, ontbreek dit nie aan jou natuurlike neiging, eie wil, hoop op beloning en gemaksug nie. Hierdie negatiewe dinge “wil” maar gedurig hulle kop uitsteek. Hulle het ‘n wil van hulle eie. In hierdie vier dinge staan die “ek” sentraal. ‘n Mens doen goed, maar uit eie krag, omdat jy wil, om beloon te word en tot jou eie voordeel. En al sou ‘n mens die kleed van liefde daaroor trek, is dit nie wat liefde werklik is nie.

2. Ware en volmaakte liefde: wat liefde wel is (dit gaan om God; kyk die fokus op God).

Nou het Thomas klaar gepraat oor goeie dade en oor die liefde. Hy het in die eerste deel gefokus op wat ’n mens moet doen as jy die geestelike reis aflê. Jy gee jouself vir ander en dien hulle. 


Om Christus te volg, vra dus van ’n mens iets. Maar hierdie eis moet altyd weer deur die liefde gedryf word. Dit is nie plig nie. Dit is nie ’n las nie. En dit is so belangrik dat God eerder die liefde as die werk bekyk. 'n Uiterlike daad sonder liefde is niks werd. Al die goedheid in uiterlike dade is eintlik ter wille van die mens self.


As Thomas in die eerste twee onder-afdelings van die eerste deel fokus op die goeie werke wat deur liefde gedryf word, veel vrug dra en waaragter God die liefde raaksien, gaan hy in die volgende gedeelte oor om in groter diepte oor die liefde te praat. Hy vertel wat egte liefde is. En ten slotte prys hy die liefde.


Só lyk die gedeelte se vorm:


9. Wie die ware en volmaakte liefde het, soek hom- of haarself in niks nie.
Maar hy verlang daarenteen dat alleen de heerlikheid van God in alles geskied.

10. Op niemand is hy verder afgunstig nie, want hy/sy hou nie daarvan om blydskap vir hom- of haarself  te hou nie; ook wil sy/hy nie hom of haar  in hom- of haar-self verheug nie.
Maar in God verlang hy om bo alles gelukkig te word,

11. Aan niemand skryf hy iets goeds toe nie,
maar hy skryf dit heeltemaal aan God toe,

uit wie alles soos uit ’n fontein voortvloei,
in wie alle heiliges uiteindelik genotvol rus.


In hierdie tweede groot gedeelte, ryk gevul met baie motiewe, al is dit net helfte so lank as die eerste gedeelte, kom ’n mens by die fokus van die hele hoofstuk uit. Dit is by hierdie gedeelte dat Thomas ’n leë reëltjie tussen vers 8 en 9 invoeg. Die leë reëltjie wys dat hy die laaste vier verse as ’n eenheid van die eerste gedeelte onderskei moet word.


Maar kyk net na die fokus op God (al die groen gedeeltes). Duidelik is dit ’n deel waarin hy al sy aandag op God rig. In die voorafgaande gedeelte is God slegs een keer genoem. Toe was dit God wat na die liefde in werke gesoek het. Hier is dit die mens wat na God soek. Die aandag is ten volle op God gerig.


Thomas begin die gedeelte ook baie sterk, net soos hy die eerste gedeelte nogal sterk begin het: dit gaan, skryf hy met gelaaide taal, om die “ware en volmaakte” liefde. En wat die ware en volmaakte liefde is, kan ’n mens nie mis nie. Dit is liefde wat geheel en al op God gerig is en aan God verbind is. Daarom is die gedeelte deurtrek met herhaaldelike verwysings na God. Die liefdevolle mens is ingestel op God se heerlikheid (“gloriam”, skryf die Latyn). Dit is die Griekse begrip dovxa (kabod in die Ou Testament), wat ’n mens in die Bybel teenkom en wat so sentraal aan die Bybelse mistiek is. Die heerlikheid van God is in die Bybel ’n sterk motief. ’n Mens ver-heer-lik God, God is die Heer, aan God die eer en die heerlikheid. Die woord heerlikheid verwys na God se Verborge, Heerlike Teenwoordigheid.


Dit bepaal die toonaard van die hele gedeelte: God, in al God se heerlikheid, is die fokus van alles wat ’n mens doen en van ’n mens se lewe. Die res is aardse ydelheid (vanitas) – soos hy in die volgende gedeelte nog sal uitspel. 


Na hierdie sterk fokus op God, volg nou weer ’n bespreking van twee negatiewe aspekte - juis om die fokus op God sterker uit te bring. Die God-gerigte mens is ’n mens wat nie op hom-/haarself ingestel is nie. Die mens met ware liefde is juis iemand wat geheel en al nie op homself gerig is nie. Die mens soek in niks hom- of haarself nie. Hy of sy soek nie blydskap oor hom- of haarself nie. Sy/haar blydskap is in God.


Maar daar is selfs ’n verdere kontras: Iemand wat op God ingestel is, kyk ook verby die ander mens. Hy skryf niks goeds aan ander mense toe nie. Alleen aan God kan ’n mens die goeie toeskryf. 


Maar vir my lê die aangrypende van die hele hoofstuk in sy laaste reëls. Die gedeelte eindig met die klimaktiese reëls: Dit gaan heeltemal om God wat die begin is (uit wie alles soos uit ’n fontein vloei) en in wie gelowiges tot rus kom. Wat ’n slot: om goed te doen, om die liefde te hê het te doen met die mens se dankbare, bly, genotvolle rus in God. Dit is egte godsdiens. Die vreugde van die evangelie. Egte kontemplasie.


Oratiewe: ware liefde ervaar hoe ydel aardse dinge is 
 
Thomas sluit sy hoofstuk met ’n uitroep af: ’n mens moet goed doen. ’n Mens vlug nie van die aarde af weg nie. Maar jy weet ook: die aarde is vol ydelheid. Die mens vind dus nie hier sy rus nie. Dit kan ’n mens alleen by God kry

12. O, wie maar een vonkie van de ware liefde het,
sal beslis ervaar hoe al die aardse dinge met ydelheid en leegheid vervul is.



Hier is die Afrikaanse teks:


1. Vir niks ter ter wêreld en ter wille van niemand se goedgesindheid mag jy iets kwaads doen nie.
Wel moet in die belang van ‘n behoeftige mens soms ’n goeie werk vrijwillig onderbreek word
of selfs deur een beter werk vervangen word.
2. Want as dit gebeur, wordt ‘n goeie werk nie tot niet gemaak nie,
maar in ‘n beter een verander.

3.  Sonder liefde is ‘n uiterlike werk niks werd.
Wat egter uit liefde gedoen word, hoe gering en onaansienlijk dit ook al mag wees, dra volop vrug.
4.  Met hoeveel liefde iemand iets doen, tel vir God meer as die werk wat hy doen.
5.  Baie doen die mens wat baie lief het.
6. Baie doen die mens wat iets goeds doen.
7. Goed doen iemand wat meer de gemeenskap as sy eie heil dien.

8. Dikwels lyk dit asof dit liefde is,
maar dit is eerder selfsug.
Want natuurlike neigings, eie wil,
hoop op beloning en gemaksug wil maar selde ontbreek.

9. Wie de ware en volmaakte liefde heeft, zoekt in niets zichzelf.
Maar hij verlangt daarentegen dat alleen de heerlijkheid van God in alles geschiedt.

9. Wie die ware en volmaakte liefde het, soek hom- of haarself in niks nie.
Maar hy verlang daarenteen dat alleen de heerlikheid van God in alles geskied.

10. Op niemand is hy verder afgunstig nie, want hy/sy hou nie daarvan om blydskap vir hom- of haarself  te hou nie; ook wil sy/hy nie hom of haar  in hom- of haar-self verheug nie.
Maar in God verlang hy om bo alles gelukkig te word,

11. Aan niemand skryf hy iets goeds toe nie,
maar hy skryf dit heeltemaal aan God toe,

uit wie alles soos uit ’n fontein voortvloei,
in wie alle heiliges uiteindelik genotvol rus.

12. O, wie maar een vonkie van de ware liefde het,
sal beslis ervaar hoe al die aardse dinge met ydelheid en leegheid vervul is.




Hier is die Latynse teks:

1. Pro nulla re mundi, et pro nullius hominis dilectione aliquod malum est faciendum;
sed pro vtilitate tamen indigentis, opus bonum libere aliquando intermittendum est:
aut eciam pro meliori mutandum.
2. Hoc enim facto opus bonum non destruitur:
sed in melius commutatur.

3. Sine caritate opus externum nichil prodest;
quidquid autem ex caritate agitur
quantumcumque eciam paruum sit et despectum:
totum fructuosum efficitur.

4. Magis siquidem deus pensat ex quanto quis agit: quam opus quod facit.
5. Multum facit: qui multum diligit.
6. Multum facit: qui rem bene facit.
7. Bene facit: qui communitati magis quam sue voluntati seruit.
8. Sepe videtur esse caritas,
et est magis carnalitas:
quia naturalis inclinacio, propria voluntas,
spes retribucionis, affectus commoditatis, raro abesse volunt.


9. Qui veram et perfectam caritatem habet in nulla re seipsum querit:
sed dei solummodo gloriam in omnibus fieri desiderat.

10. Nulli eciam inuidet, quia nullum privatum gaudium amat;  nec in seipso vvlt gaudere:
sed in deo super omnia bona optat beatificari.
11. Nemini aliquid boni attribuit;
sed totaliter ad deum refert,

a quo fontaliter omnia procedunt:
in quo finaliter omnes sancti fruibiliter requiescunt.

12. O qui sintillam haberet vere caritatis:
profecto omnia terrena sentiret plena fore vanitatis.

Sunday, March 06, 2011

Dit is so spesiaal, ‘n mens kom nie verder gelees nie....


Jonathan Edwards (1703-1758), oor wie ek al geblog het en een van die bekendste, maar ook mees intellektuele Calvinistiese spiritualiteitskrywers in die V.S.A., skryf hoedat hy dikwels homself langs die Hudson-rivier afgesonder het , weg van die stad, om oor goddelike dinge te kontempleer en vir verborge gesprekke met God. Reeds die manier waarop hy oor sy afsondering praat, wys hoe ingestel hy is op wie God is.

Wat my dadelik opgeval het van my eerste blootstelling aan Edwards se spiritualiteit, is sy besondere aanvoeling vir die verhewenheid en heerlikheid van God.

Iets hiervan kom ook na vore in sy biografie en ‘n beskrywing van sy manier van Bybellees in afsondering langs die Hudson-rivier.

Baie kosbare ure, vertel hy, het hy daar by die rivier, weg uit die stad, deurgebring.

Soms het hy gesprekke gehad met iemand, maar ander kere het hy die allerspesiaalste vreugde uit die Bybel geput, of, ook uit ander boeke.

Maar sy beskrywing wat hierop volg, bly my nou al ‘n tyd by:

Dikwels het hy, terwyl hy gelees het, gevoel hoe elke woord sy hart aanraak. Hy het ‘n harmonie gevoel tussen iets in sy hart en die spesiale, kragtige woorde. Hy het dikwels soveel lig in elke sin gesien en soveel verfrissende woorde gesmaak, dat hy nie verder kon lees nie. Dikwels het hy lank by een sin stil gestaan sodat hy die wonders daarin kon raaksien. Elke sin het vir hom gelyk of dit gelaai was met wonders.

Blog Archive