Tuesday, March 08, 2011

Die wete: slegs in eenwording met God sal ‘n mens rein kan leef.

Die Navolging van Christus 1.19 handel oor die geestelike oefeninge van ‘n goeie kloosterling. As ‘n mens hierdie hoofstuk lees, gee dit vir ‘n mens ‘n kykie in die diep geestelike karakter van Thomas se teks. 

Dit is ‘n lang teks, vol pragtige praktiese raad. Maar dit is ook 'n teks wat sy aktualiteit in vele opsigte behou - selfs in 'n tyd dat kloosters aan die uitsterf is.

Hoe ryk die gedeelte is, is al duidelik wanneer ‘n mens die eerste vier verse lees (wat Thomas as ‘n eenheid afgebaken het) en sien hoeveel insigte in die geestelike reis daarin voorkom.

Vir Thomas is dit belangrik dat iemand wat God wil dien, se lewe in "alle" deugde moet uitblink. Dit is hoe hy die hele hoofstuk oor die "oefeninge" van ‘n goeie kloosterling, begin. Immers, die oefeninge is om 'n deugsame lewe te voer.

Die hoofstuk gaan spesifiek oor mense wat in ‘n klooster woon en moet ook teen daardie agtergrond verstaan word. As ‘n mens bedink dat Thomas skryf in ‘n tyd toe die kloosterlewe oppervlakkig en wild was, is sy opmerkings opvallend. Hy is besig om vernuwend te dink oor iets wat duisende van sy tydgenote totaal ontgaan. Vir hulle is deugdelikheid ‘n woordjie op papier, ‘n uiterlikheid wat met godsdiens geassosieer word, maar nie regtig enige verskil aan mense maak nie. 

Die begin van hierdie hoofstuk loop reg teen die grein van so ‘n lewenshouding in. Thomas spreek 'n - vir hom - uiters aktuele tema reguit aan. Hy vertel hoe belangrik dit is dat mense hul geestelike reis met God as ‘n geleefde ervaring moet kan aflê. In die opsig is die hoofstuk deel van 'n boek wat as spiritualiteitsteks trefkrag ver buite die klooster en ver verby sy eie tyd het. 

Des te meer omdat wat hy oor die klooster skryf, in ‘n sekere sin ook van gewone geestelike mense geld.

Godsdiens is vir hom nie spitsvondigheid nie. Dit het vir hom heel praktiese te doen met die leef van ‘n rein lewe. ‘n “Goeie” lewe van iemand wat in afsondering in ‘n klooster lewe, beteken dat in “alle” deugde uitgeblink word.

Hier gaan rooi ligte onmiddelik aan: vir baie lesers van die Navolging het dit beteken dat Thomas moraliserend en voorskriftelik is. En, voel hulle, die gevare van moraliserende tekste is altyd dat hulle uiterlikheid in die hand werk. So asof godsdiens te doen het met ‘n mooi, rein lewe wat bedoel is om indruk te maak na buite.

Thomas sny hierdie moontlikheid duidelik af. Uiterlikheid, skryf hy, moet met ‘n innerlike deugdelikheid gekoppel word. ‘n Deugsame mens sal dan innerlik dieselfde wees as wat mense oor sy uiterlike waarneem.  Wat mense van jou sien, is wat jy innerlik werklik is. Thomas gebruik hier vyf woorde wat die innerlike/uiterlike verbind.  Wat jy sien is wat jy kry.

Thomas loop haal dinge nog ‘n bietjie dieper. Hy herhaal in vers 2 sy stelling oor innerlikheid, maar doen dit met meer intensiteit. As mense iets in jou lewe raaksien, moet daar daarvan in oorvloed in jou innerlike lewe oor wees.  In jou innerlike moet daar dus veel meer aangaan as wat ander mense ooit sal kan sien.

Maar hy delf nog veel dieper. En dit is op hierdie punt dat sy teks finaal verby enige moralisering beweeg. In werklikheid kry sy teks hier ‘n sterk mistieke kleur. Deugdelikheid maak vir hom saak en is reg omdat God ons binneste raaksien.  Daar is nie so iets soos ‘n outonome etiek nie. Daar is ook nie ‘n etiek ter wille van die wêreld nie. Alles wat rein en goed is aan ‘n mens se lewe is daar ter wille van God wat dit raaksien.

Nadat hy genoem het dat God ons binneste sien, fokus hy die res van hierdie eerste afdeling op ‘n spesiale manier op God.’n Mens sien dit aan sy God-taal.  Vyf keer verwys hy na God (sien die rooI gemerkte woorde in die tabel).  Met hierdie verwysings beklemtoon hy dat die deugde van die gelowige ‘n teken is van diens aan God (sien die “heilige diens aan U” in verse 4).  Selfs die woord “diens” kry deur die byvoeglike naamwoord “heilig” ‘n transendente karakter. 

Hier voeg hy ook, om alles te kroon, ‘n gebed aan God in: die intense strewe na deugdelikheid word in ‘n gebedsraamwerk ingegiet.  Wie daarna soek weet ook hy of sy moet daarvoor bid.

Dit is die mistieke wete: slegs in eenwording met God sal ‘n mens rein kan leef. Wie alles insit om 'n lewe vol deugde te kry, bid tot God daarvoor.

Maar ook hier is Thomas intens. Sy God-taal oor ‘n deugdelike lewe as diens aan God is gelaai met energie: die diens aan God word gesoek “met uiterste inspanning” en “waar ons ook al is”. En dit strek verby aardse kenmerke. Dit behels om so rein soos engele te wees. 

Ook opvallend is hoe hy die diens aan God as ‘n konstante, durende soeke beskryf. In vers 3 beklemtoon hy dat dit iets is wat “elke dag” gebeur. Vier keer herhaal hy die verwysings na die hede: elke dag/vandag/nou/ vandag (sien die groen merkers in die teks van vers 4). 


Daar is egter in hierdie gedeelte ‘n baie belangrike woord wat Thomas in die res van die hoofstuk gedurig gaan herhaal. Hy praat naamlik van die “voorneme”, die “besluit”, of, die “wil” van die mens. Elke dag moet die mens opnuut weer van voornemens wees om God te dien. ‘n Mens moet gedurig jou wil hernuwe. ‘n Mens wat soek na ‘n deugdelike lewe is iemand wat tot bekering gekom het en besluit om God te wil dien. Wat voorneme ook oproep, blyk wanneer dit in die gedeelte verbind word met “ywer” en “diens aan God” (verse 3 en 4): “Elke dag moet ons ons voorneme  vernuwe en onsself tot ywer aanspoor.


Dus, opsommenderwys, die deugsame lewe van ‘n gelowige is gerig op God en word gedryf deur ‘n intense, inspannende voorneme tot totale toewyding om elke oomblik meer vir God met ‘n rein lewe te vereer. Om dus te soek om in alle deugde uit te blink, is ‘n teken dat ‘n mens in God se teenwoordigheid leef en soek om God te eer (vers 2!). Doen alles, sien ‘n mens hierin raak, tot eer van God. Calviniste sal baie hiervan hou.


Hier is ‘n letterlike vertaling van die eerste vier verse:


1. Die lewe van ‘n goeie kloosterling moet in alle deugde uitblink.
sodat dit só van binne is, soos wat dit vir mense van buite lyk.
2. En tereg moet dit veel meer wees van binne as wat dit van buite waargeneem word:
omdat God ons binneste sien;
hom moet ons met uiterste inspanning eerbiedig, waar ons ook al is, 
en soos engele voor sy aanskyn so rein wandel.
3. Elke dag moet ons ons voorneme  vernuwe en onsself tot ywer aanspoor
asof ons eers vandag met ons bekering begin het, en sê:
4. Staan my by, Here God, in ‘n goeie voorneme en in heilige diens aan U,
en gee dat ek nou, vandag, definitief kan begin, want alles wat ek tot nou toe gedoen het, is niks.


Hier is die Latynse teks:


1. Vita boni religiosi omnibus virtutibus pollere debet:
ut sit talis interius, qualis videtur hominibus exterius.
2. Et merito multo plus debet esse intus quam quod cernitur foris:
quia inspector noster est deus;
quem summopere reuereri debemus vbicumque fuerimus:
et tamquam angeli in conspectu eius mundi incedere.
3. Omni die renovare debemus propositum nostrum, et ad feruorem nos excitare:
quasi hodie primum ad conuersionem venissemus, atque dicere.
4. Adiuua me domine deus in bono proposito et sancto seruicio tuo;
et da michi nunc hodie perfecte incipere: quia nichil est quod hactenus feci.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive