Calvinistiese spiritualiteit sal vanselfsprekend verbind word met Johannes Calvyn wat in die eerste helfte van die sestiende eeu leef (1509-1564).
Calvyn se spiritualiteit reflekteer iets van sy eie persoon. Hy het ‘n broertjie dood gehad aan enige hiërargiese strukture in die kerk. Juis daarom ken Calvinistiese kerke nie die Rooms-Katolieke verdeling tussen die gewone “leek” en ‘n priesterskap nie. En nog minder is daar sprake van ‘n hele orde van priesters, biskoppe, aartsbiskoppe, kardinale en pouse nie. Die kloosterlewe het uit sy visier verdwyn. Monastieke spiritualiteit het in sy denke nie plek nie. Daar is nie ‘n “hoër orde” wat na bo spits en al hoe belangrike word nie.
Elke mens staan direk voor God, sonder tussenkoms van ‘n bemiddelende priester of die kerk. Die hoogste amp is die amp van die gelowige. Dit is ‘n spiritualiteit wat die reis van die gelowige hoog aangeslaan het.
Saam hiermee het hy ook afgesien van allerhande formele bykomstighede. Vir hom was die geestelike lewe gevoed in die erediens. In die erediens het dinge heel sober verloop. Sentraal was die ontmoeting met God– veral deur die prediking. En dit is tot in die argitektuur van kerke uitgebeeld. Die preekstoel staan sentraal in die liturgiese sentrum, nie die altaar nie. Dit gaan dus om ‘n spiritualiteit waarin God die inisiatief neem en na almal uitreik. God se stem word gehoor in die Skriflesing, wat ‘n belangrike moment in die erediens is. Die welkomsgroet, die voorlees van die tien gebooie, die lees van ‘n Skrifgedeelte wentel almal om God se spreke tot die gemeente En die prediker se groot taak is om te sorg dat die gemeente begryp wat die Woord beteken. Die hoogtepunt van die erediens is daarom nie die mis nie. In die Woord en die prediking word God teenwoordig.
In die Woord het ‘n mens God se volmaakte wil. Reeds in die Ou Testament gee God die wet, gefokus in die Tien Gebooie. Die Wet bied riglyne vir heiligmaking. Die prediking en die erediens roep dus mense op om die geestelike reis prakties in ‘n rein lewe na te jaag. Wierook rondswaai, liturgiese klere uitstal, goue altare bou, prosesse hou, kerse opsteek en ander uiterlike dinge bring ‘n mens nie veel in die sak nie – het Calvyn eintlik gesê. Wat tel is dat God se wil gehoor word, dat God gehoorsaam word, dat die mens dieper in ‘n verhouding met God ingroei en dat alles uiteindelik tot eer van God gaan.
Sy spiritualiteit het ‘n duidelike mistieke trek. Heiligmaking was vir Calvyn ‘n sleutelbegrip. Maar dit was nie ‘n soeke na prestasie nie. Vir hom was heiligmaking ‘n reaksie op die liefde van Christus. Calvyn het veel gemaak van die unio mystica. Dit was vir hom die besondere intieme verhouding tussen Christus en gelowiges.Dit is ‘n liefdesverhouding wat tussen God en mens ontwikkel. Sekerlik bring God die mens tot berou. Wanneer die mens na die wet luister, besef hy sy eie onmagtigheid om liefdevol te leef. Maar tog, wanneer ‘n mens met berou sy of haar eie onmag besef, ontdek ‘n mens ook met verwondering God se liefde. ‘n Mens leer God “ken” Dit is ‘n liefde wat inspireer, roep, bekragtig om die geestelike reis te bly loop. Soekend gaan die mens dus op reis, vertrouend op God se liefde. Op die manier word ‘n mens deur God nadergetrek. Dit is ‘n reis in verwondering, want ‘n mens kan God in die liefde nie werklik peil nie. God, onderstreep Calvyn, is ver verhewe bo en totaal anders as die menslike verstand. Menslike taal kan nie God se liefde vir die mens verduidelik of vasvat nie.
As ‘n mens só na Calvinistiese spiritualiteit kyk, sou ‘n mens dit as Bybelse Spiritualiteit kan beskryf.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.