Tuesday, March 29, 2011

Krieketspelers kan ook gelukkig wees.... Oor Matt Prior.




Dit is treurige tye op die krieket-toneel, vir ons. Ons praat nie daaroor nie. Maar krieket bly mooi om te bekyk en te bedink. Ek lees daarom ‘n onderhoud in die Financial Times van 25 Maart met belangstelling. Dit is met die Engelse paaltjiewagter, Matt Prior. Hy het uit Suid-Afrika op die ouderdom van 11 jaar met sy ouers na Engeland verhuis.

Dit is altyd lekker om te sien dat Engeland nou krieketgewys deur Suid-Afrika gekoloniseer word. Om ook nie eintlik vir Nederland te vergeet nie. Die wiele, het die oumense mos gesê, draai stadig. Dink maar aan name soos die huidige vier in die Engelse span – Andrew Strauss, Kevin Pietersen, Matt Prior, Ian Trott, maar ook aan sulke grotes soos Basil D’Oliviera, Tony Greig, Ian Greig, Allan Lamb, Chris Smith en Robin Smith.

Dit is darem net tong in die kies gesê. Dinge is darem nie so eenvoudig nie, weet ek. Trott, byvoorbeeld, het ‘n pa wat uit Engeland gekom het. Hy het ook sy krieket in Engeland geleer en het reeds vir sy Engelse skool se onder twaalf span gespeel. Nietemin, bly dit interessant om so bietjie meer van sy manier van dink te lees.

Prior is nou nog hoog in roem omdat hy ‘n groot rol in Engeland se oorwinning oor Australië in die As-reeks gespeel het. Hy het 23 paaltjies geneem en ‘n hondertal geslaan. Sy toetsgemiddelde as kolwer is 43 en hy het vier honderdtalle in 40 toetse geslaan. Hy sukkel egter in eendag-krieket, waar sy gemiddelde 23 is. En hy weet self nie waarom nie.

Nietemin, hy word hoog geag in die harde, kompeterende krieket-toneel. En die genadelose kritiek op hom het stadig begin verander. ‘n Kommentator skryf watter spesiale gesig dit was om te sien met watter toewyding hy onlangs in die nette van elke moontlike hoek balle ontvang en geslaan het. Hy is ‘n sportman wat vasbyt. Meer nog, vertel sommige, het hy die afgelope tyd verander ‘n meer toeganklike, rustiger, volwasser mens. Die publiek het goeie gevoelens teenoor hom begin ontwikkel – al besef hy dit self nie altyd nie.

Terwyl ek dit bedink, geniet ek dit om die aksiefoto te sien waarop Brett Lee hom uitvang. Dit is mos sport uit die boonste rakke, om nie van die fotografie uit die boonste rakke te praat nie.

Prior kom nie uit ‘n ryk agtergrond nie, vertel hy in die onderhoud met die Financial Times. Mense wat arm groot geword het, kan op baie maniere hul nuwe rykdom hanteer. Prior doen dit nogal, as ‘n mens op sy woorde kan afgaan, op ‘n positiewe manier.

Vir my het hierdie positiewe benadering deels te doen met sy perspektief op sport. Op die vraag of hy ooit gedink het hy sal krieket op so ‘n hoë vlak speel, antwoord hy dat baie mense sulke drome het. Hy was meer ingestel op sy volgende krieketwedstryd – dit was wat hy graag gedoen het: “I never really thought beyond playing the next game, which I just loved doing.” Toe die onderhoudvoerder vir hom vra of hy ooit gedink het om bietjie af te skaal, reageer hy: Glad nie. As sportman speel ‘n mens vir baie meer as net geld. Hier bring hy self die geld-kwessie ter sprake. En dan sê hy verder: “In business, it seems people correlate how much money you make to your success. In sport, that is not necessarily the case. I felt I was well paid when I was able to buy my first family house in 2009. But the amount I’ve earned is pretty irrelevant as long as it keeps my family comfortable. What is relevant is my performance on the pitch and playing for England for as long as I can.” Later in die onderhoud vertel hy dat ‘n mens, as jy hard werk, tog ook weer jou geld moet kan gebruik en vreugde uit die lewe put sonder om met geld te mors. Hy het darem een luukse gril, voeg hy by. Hy hou daarvan om horlosies te koop. As hy uitgaan, het hy ‘n deftige een aan, en as hy speel, dra hy ‘n sport horlosie. En hy sal ook, as die span wen, ‘n bietjie op sy drinkgoed uitgee – soos ‘n Franse vodka met die naam Grey Goose.  

Liefde vir die game, lees ek in hierdie reaksies.Maar ook : Die beperkte waarde van geld. Sport as spel om te geniet. Genoeg om van te leef is genoeg. Wat tel is jou familie en dat hulle gemaklik moet wees. Eenvoud. Gewone ideale. Iemand wat bietjie nadink oor wie hy is, wat hy doen, waarom die lewe gaan, wat werklik saak maak. So bietjie dieper delf. Rekening hou met die geestelike dinge. Bietjie meer by al die gewone goeie dinge - meer as net presiese balle boul, sierlike wenhoue slaan, koel bier sluk, met die boys braai, mooi vriendinne uitneem, ‘n blinknuwe model uit te soek by die motorhandelaar.

Maar dan kry jy in die onderhoud daardie Gary Player oomblik, wat ook weer ‘n hele kultuur van menswees onthul: Wat, vra die joernalis vir hom, is die geheim van jou sukses? Prior antwoord: “Daar is geen geheim nie. Dit is net harde werk. Ek is op ‘n oefendag gewoonlik die laaste een om op te hou. As ek nie tevrede met my spel is nie, pas ek ekstra sessies in. Voorbereiding is die sleutel. As ek nie reg is nie, het ek nie genoeg vertroue in ‘n wedstryd nie.”

En dan, behalwe vir die instelling, om sport as ‘n spel te sien, om nie ingestel te wees net op geld-maak nie, om vir familie om te sien en te sorg, behalwe vir die transformasie tot ‘n meer volwasse mens, die proses van inspanning, hard oefen, is daar uiteindelik ook by Prior ‘n einddoel. Die onderhoudvoerder vra hom oor sy strategie. Hy antwoord: “Ek het altyd ‘n einddoel voor oë gehad. Ek wou altyd die beste paaltjiewagter in die wêreld wees. ‘n Mens moenie bang wees om die hoogste moontlike doelwit vir jouself te stel nie. En dan, soos ‘n mens aangaan, hersien jy jou strategieë op die kort termyn. Dit help jou om te speel op die vlak wat jy graag wil speel.”

Iemand wat op die manier sport bedryf, besef ek, is in meer as een opsig ‘n heel mens. Toe die joernalis vir hom vra watter spaarwenke hy vir moeilike tye kan gee, is sy reaksie: “My vrou is baie goed om na te gaan dat die ligte afgeskakel is. Sy hou ons elektrisiteitsrekening laag.” Agter elke man...  En ook: spaarsamigheid. En dan volg, self-bewus oor sy eie rol wat hy moet speel: “Wat my betref, ek vra my altyd voor ek iets koop af: ‘Het ek dit regtig nodig?’”

Lekker gelees aan die onderhoud. In die keiharde sportwêreld kan ‘n mens werklik gelukkig wees. En heel. Dit is keuses wat ‘n mens maak – tot vreugde van hulle naby aan jou, maar ook tot vreugde van iemand ver van jou, kontinente ver, wat net bietjie lees hoe dink jy oor die lewe.

Wat my laat dink aan wat ek vroeër in ‘n blog oor Kaka, die sokkerster, geskryf het. Toe hulle hom vra of hy nie ‘n vreemde voël is in die sokkerwêreld deur so godsdienstig te wees nie, het hy gesê: dit is nie ek wat ‘n vreemde voël is nie. Dis die ouens wat so uithak  en opmors wat die vreemde voëls is.

Wat toe ook by my opkom nadat ek so pas die boek oor U2 gelees het, waarin Bono presies dieselfde gesê het. U2 se keuse om deur hul musiek ‘n geestelike boodskap uit te dra, is nie raar nie. Dit is die ander bands wat so raar is! Netjies gesê. Waarom moet ‘n mens dan altyd apologeties wees oor die natuurlike verlange om deur die dieper dinge en in ooreenstemming met jou eie gewete ‘n gelukkige lewe te soek?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive