Wednesday, March 02, 2011

Soms is God 'n onbekende God, maar tog bietjie bemind. Oor die verhouding tussen godsdiens en spiritualiteit (5).


Wanneer ‘n mens na die beeld van die opstande in die Arabiese wêrelddele kyk, raak dit ‘n mens. Op een of ander manier word hulle nood ander mense se nood. ‘n Mens is bekommerd en besorg oor hulle.

Deesdae gebruik mense dikwels die begrip “gedeelde menslikheid” of “common humanity” om iets weer te gee van die band wat tussen alle mense bestaan en wat ‘n mens laat omgee, selfs vir mense wat drasties van jou verskil.

Die begrip “menseregte” is ook ‘n belangrike voorbeel wat vertel van sekere fundamentele kenmerke van menswees, van sake waarop alle mense, wie en waar hulle ook al is, as mense aanspraak kan maak. Almal deel daarin en kan daarop aanspraak maak. Mense is deur sulke bande verbind aan mekaar.  

Schneiders vertel in haar artikel oor die verhouding tussen godsdiens en spiritualiteit dat hierdie eenheid van alle mense ook in die Skrif tot uiting kom. In Johannes 17:20-21 bid Jesus dat mense een mag wees soos wat God en Jesus een is.

En tog is dit godsdiens wat mense dikwels van mekaar skei of wat mense vyande van mekaar maak. Ten spyte van sommige wat deesdae al hoe meer vra dat godsdienste met mekaar in gesprek moet tree eerder as mekaar vernietig, is daar vele wat nog onverdraagsaam, bevooroordeeld en afgunstig is.

Ons is nog nie regtig ver gevorder met ons verstaan van ander godsdienste nie. Ons dra swaar aan ons oortuiging dat die Christendom gebou is op die absolute en eksklusiewe aansprake dat Jesus die Heiland van die wêreld is. Ons weet nog nie hoe om daaraan vas te hou en ook om dan nog te verstaan hoe ander mense vir eeue lank in hul eie godsdienstige tradisies spesiale godsdienstige ervarings gehad het wat hul lewens verryk het. Dink maar aan hoeveel Christene vir Gandhi bewonder as ‘n besondere persoon met spesiale gawes.  

Daar was en is wel van tyd tot tyd merkwaardige gelowiges wat begin het om met ander godsdienste in gesprek te tree, sonder om hul eie Christelike tradisie te verloën, maar hulle word soms gewantrou en verdag gemaak. Vir baie mense is dit al erg genoeg om mense in hul eie kerk te aanvaar wat anders as hulle dink, laat staan nog vir mense uit ander gelowe.

Dit is op hierdie punt, skryf Schneiders, dat die verhouding tussen godsdiens en spiritualiteit ter sprake kom. As dit van teologie afhang, is die kloof tussen godsdienste dikwels onoorbrugbaar. Mense kan onophoudelik stry oor allerhande teologiese en godsdienstige onderwerpe. Koue stellings, naakte feite kan soos kartetse in ‘n oorlog heen en weer geskiet word.

Tog, soms gebeur daar vreemde dinge. Dan ontmoet ‘n mens iemand wat nie ‘n Christen is nie. Maar hy of sy beïndruk ‘n mens met sy erns, haar opregtheid, sy eerlikheid, haar onselfsugtigheid. Soms is dit sulke mooi mense dat ‘n mens hulle amper onwillekeurig as gelowiges beskou.

En dit is waar spiritualiteit ‘n verskil maak wat godsdiens dikwels nie kan doen nie. ‘n Mens sien hoe mense van ander godsdienste baie opoffer en aangrypend praat oor hulle geloof, hulle aanbidding, hul verlange na ‘n sinvolle lewe en ‘n mens ontdek hoe hulle ‘n rein pad met diep geestelike kwaliteit loop. Dit sit jou soms aan die dink.

Spirituele ervarings kan mense nader aan mekaar bring soos teologie nie kan nie.

Maar wat hou dit verder in vir die verhouding van godsdiens tot spiritualiteit? Hieroor skryf Schneiders belangrike inligting. In moeilike tye van spanning, onenigheid en hatigheid, is dit mense wat diep geanker is aan hul vaste oortuigings wat hulle met ‘n geestelike diepte uitleef en ervaar, wat die grootste bydraes lewer. Vir hulle is dit nie maklik om in gesprek te tree met ander nie: hulle eie geestelike reis is vir hulle kosbaar en hulle kan nie ontrou daaraan wees nie. Maar hulle voel ook aangetrokke tot ander mense, juis vanweë hul gedeelde mensheid. En hulle wil ook ander nie onmenslik behandel in dinge van godsdiens wat vir hulle kosbaar en spesiaal is nie.

Hoe nou gemaak? Schneiders skryf: dit alles beteken nie dat hatigheid tussen godsdienste deur so ‘n vae neutraliteit of ‘n niksseggende gemeenskaplikheid of ‘n swewende lewenspraktyk oorkom word nie. So ‘n oppervlakkige sinkretisme word deur ernstige soekers na waarheid vermy. Hulle pik-pik nie stukkies uit al die godsdienste wat almal kan verdra en forseer dan ‘n gemeenskaplikheid tussen godsdienste nie. Hulle probeer ook nie om heel vrygewig almal wat voorkom sonder veel vrae in so ‘n gemeenskaplikheid in te sluit nie.

Dit alles beteken net een ding: ‘n mens moet vanuit die vreugde en sekerheid van jou eie geloofslewe, met ander wat ander ervarings het in gesprek tree. Spritiualiteit verryk ‘n mens en maak jou sterk, ystersterk. Jy kan na enige mens kyk, wie hy of sy ook al is, aan watter geloof hy of sy ook al behoort, van watter kerk hy of sy ook al ‘n lidmaat mag wees, en in daardie persoon iets raaksien van die soeker na die dieper dinge. Sonder om jou eie godsdienstige tradisie te verraai of uit te verkoop, kan jy met ‘n openheid na daardie persoon kyk, kan jy eerlik vir daardie persoon aanhoor,  kan jy met respek daardie een se godsdienstige ervaringe waarneem. En selfs van daardie persoon leer. Of deur daardie persoon geraak word.

Dit vra van ‘n mens baie om ander mense buite jou eie godsdienstige tradisie as ‘n geskenk te sien, as iemand wat jou lewe kan verryk sonder dat jy daarmee aan jou eie geestelike ervaring ontrou word.  ‘n Mens kan selfs die ander as ‘n geskenk sien, iemand by wie jy ook spesiale dinge kan raaksien.

Die gevolg hiervan is dat ‘n mens van jou eie rykdom aan die ander een gee. Daardie een lusiter ook na jou en sien jou ook as iemand met wie hy of sy ‘n openheid moet waag.

Dit is nie maklik om die grense van godsdiens tussen mense te oorkom nie. ‘n Mens moet so met godsdiens omgaan dat ‘n mens nooit die kosbare inhoud uit jou eie tradisie kwyt raak of te maklik opoffer nie. Schneiders verwys na opmerkings van Paul Lakeland. Hy skryf dat ‘n mens in gesprek tree met ander godsdienste sonder dat jou eie tradisie ‘n swaard is waarmee jy die ketterye of heidendom van die ander gelowiges verpletter. Net so min laat ‘n mens jou eie godsdienstige tradisie agterbly wanneer jy met ander in gesprek tree. ‘n Mens gaan in diegesprek in met die waarheid van jou oortuigings wat jy deur ‘n lang geestelike reis diep in jou wese laat insak het. Dit het so deel geword van in jou geestelike mondering dat niks, niks jou waarheid kan bedreig nie. Al wat onder druk sou kon kom, is die minder noodsaaklike dinge wat op die rand lê. En dikwels help juis die dialoog ons om te verstaan hoe ons onbelangrike dinge belangriker gemaak het as wat hulle werklik is. Juis dit gaan help om die waarheid beter te begryp en te beleef. As ‘n mens se hart in jou godsdiens is, as jou godsdiens jou lewenservaring is, sal niks jou daarvan kan losmaak of beroof nie. Nie eers die duiwel self nie – soos Jesus maar al te goed bewys het.

Wanneer ‘n mens ander ontmoet uit ander godsdienste, word ‘n mens soms verras deur die aantreklikheid van hulle geloof. Al die kwaadpratery van baie eeue oor ander gelowe kon nie keer dat baie mense hierdie ervaring gehad het nie. Selfs op die Areopagus was daar, het Paulus ontdek, onder al die oppervlakkigehede ook iewers ‘n stuk waarheid. Hy begin ook sy gesprek met hulle so: “Ek het gesien julle aanbid die onbekende God. Julle het ‘n altaar vir hom. Daar gaan julle soms staan, bring offers en dink na oor Hom.” Hy het dus hulle spritualiteitspraktyk herken. Hy weet dit is die plek waar hulle geestelike verdieping gaan soek het. Paulus het nie gehuiwer om hierdie waarheid dat God iewers ook reeds in hulle lewe aanbid is, uit te lig nie, al het hy daarna hulle geestelike weg met die Onbekende God in lig van die evangelie bekyk en Hom aan hulle in diepte verkondig. Paulus het geweet hy deel met hierdie mense ‘n gemeenskaplike mensheid en hy skuld hulle ‘n getuienis oor wat vir hom in sy lewe kosbare geestelike ervarings was wat hom gebring het om die Waarheid te ontmoet en te verkondig. Spiritualiteit en godsdiens, elk met ‘n eie karakter, kom op hierdie manier reeds in die Nuwe Testament sinvol bymekaar uit.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive