In tye dat ‘n mens vas, is dit goed om steeds weer wyer te dink as bloot net die organisasie van die vastyd. Dit gaan lank nie net om wanneer ‘n mens weer eet of wat presies jy in die vastyd moet eet, waarvan jy jou onthou nie en hoe jy jou afsonder nie. Al hierdie praktiese dinge is die beginpunt van ‘n tyd van afsondering waarin ‘n mens jou geestelike reis in al sy rykheid en in al sy baie dimensies raaksien.
Dit is dus tyd om te kyk hoe vas ‘n mens se visie verbreed. Dit is ‘n tyd om te ontdek waar egte rykdom te vind is.
Wat my opval met vas, is hoe min ‘n mens nodig het om jou honger te versadig. ‘n Stukkie brood is genoeg om ‘n mens weer aan die gang te kry. En, vreemd genoeg, as ‘n mens gevas het, moet jy juis eenvoudig begin eet. Jou liggaam vra voedsame kos. Dit is nie dan tyd om ryk dinge te eet nie. En jy ervaar ook hoe goed jou liggaam voel as jy gesond geëet het.
Daarmee verbreed ‘n mens jou visie om te kan besef hoe oorlaai, eintlik gulsig en uitspattig ‘n mens se lewe kan raak. Jy raak los van aardse, materiële dinge. Meer nog, jy begin besef hoe onvry hulle jou eintlik maak. ‘n Mens begryp ook hoe jy eintlik ‘n hele rykdom van ervaringe misloop omdat ‘n mens so ingestel is op dinge wat jy nie eintlik regtig nodig het nie.
Verlede Sondag was daar ‘n televisie-insetsel oor ‘n 82 jarige non in Aliwal-Noord wat al haar hele lewe lank in Suid-Afrika sendingwerk gedoen het. Op ‘n stadium wys sy haar rondawel waar al haar aardse besittings staan. Sy haal ‘n skotteltjie uit waarin haar daaglikse kwota water skaars hand-diep is. Dit is vir haar genoeg. Sy was haar daarmee, sê sy en sy bly ordentlik skoon. Sy is dol-gelukkig in haar skoon, eenvoudige, netjies rondawel. Sy wil niks meer hê nie.
Dit is die soort lewensstyl wat ook in vas na vore kom. Wat saak maak is nie wat ‘n mens het of nie het nie. Wat tel is hoe jy God dien met wat jy het of doen. Ook daarom is in die vas nie belangrik presies hoe ‘n mens dit doen nie, maar hoe dit ‘n mens in jou afsondering en gerigtheid op God help.
Maar dikwels terwyl oor hier vas skryf, kom een gedagte herhaaldelik by my op. Terwyl ‘n mens vas, het ek gevind, dink ‘n mens dikwels aan mense wat honger ly en nie water het om te drink nie. Vir die eerste keer, ervaar jy wat hulle deurgaan. En dit skok jou eintlik. Des te meer omdat jy weet: jy kan weer begin eet en weer begin drink. Maar daar is baie mense wat nie die keuse het nie. Hulle het nie kos nie en hulle kan nie eers so iets soos water in die hande kry nie.
In ‘n mens se instelling op God, werk hierdie bewussyn van ander se nood om brood en water ook mee. Sulke gedagtes maak van ‘n mens iemand wat hom of haar oor ander ontferm. Vastyd is dus ook ‘n tyd van gebed waarin ‘n mens nader aan God, maar veral ook nader aan mense wat ly, kom. Op die manier wen ‘n mens deur los te raak van alles wat jou vasbind en deur uit te reik na hulle wat honger en dors het.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.