Ek het al in ‘n vorige blog oor Jesaja 58 geskryf. Dit is ‘n ryk teks, met interessante, maar ook belangrike inligting.
Jesaja 58 laat blyk duidelik hoe belangrik vas in die godsdiens van Israel was. Dit was duidelik 'n gewilde gebruik in Jesaja se tyd.
En dit was 'n gebruik wat mens op die oog af heeltemal reg gedoen het: In die gedeelte word vas op ‘n boeiende manier verbind met die soeke na God se wil. En dit het mense dikwels gedoen. Wanneer hulle vas, het hulle vertel, wou hulle God se wil vir hulle lewe ontdek.
Baie mooi.
‘n Mens kry die prentjie van werklik vroom mense. Hulle soek nie net God se wil nie, maar doen ook al die ander dinge: Hulle hou by God se voorskrifte en soek om te doen wat reg is (vers 2). Van God soek hulle regverdige uitsprake. “Hulle vra elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag.” ‘n Mens kan jou in hierdie tekening van gelowiges goed inleef: vroom mense, wat graag die regte dinge wil doen.
Daar is byna 'n stuk mistiek in hul gewoonte om te vas: Dit lyk asof hulle dikwels ingestel was op God se teenwoordigheid: "Hulle vra My wel om regverdige beslissings asof hulle van my teenwoordigheid hou."
Maar wat loop dan verkeerd?
Uiteindelik doen hulle nie God se wil nie, maar hulle eie wil. Hulle lewens weerspreek alles waarna hulle so mooi verlang. Hulle baklei onder mekaar en slaan mekaar. En dit alles terwyl hulle so getrou vas....
Meer nog, hulle laat hulle werkers nog harder as normaalweg swoeg en sweet. Om te vas sonder om ‘n mens oor ander te ontferm, kos te gee vir die hongeriges, klere vir die naaktes, blyplek vir die dakloses, maak van die vas ‘n bespotting.
‘n Mens kan volgens Jesaja 58 nie God se teenwoordigheid vind sonder om na jou naaste uit te reik nie. Matteus 25:42-43 is Jesus se lectio divina van Jesaja 58.
Die Ou en die Nuwe Testament praat uit een mond: om te vas, is om God se teenwoordigheid te soek. En dit bring jou by jou naaste. Vas is asof jy die voedsel wat jy nie inneem nie, uitdeel vir ander....
God vra ‘n sekere tipe vas, sê die slotverse 6-7 in hierdie gedeelte.
Die vas van ontferming – dit is die vas wat God vra.
Hier is die gedeelte weer:
Die Here sê: Roep uit volle bors, moet niks verswyg nie! Laat jou stem hoor, duidelik soos 'n ramshoring! Wys my volk op hulle oortredinge, die afstammelinge van Jakob op hulle sondes. 2 Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag. Hulle gee voor dat hulle 'n nasie is wat doen wat reg is en hom aan die bepalings van sy God hou. Hulle vra My wel om regverdige beslissings asof hulle van my teenwoordigheid hou. 3 Hulle vra: “Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?” Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk. 4 Julle vasdae loop uit op twis en rusie, julle dam mekaar met die vuis by. Julle kan nie op hierdie manier vas en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie. 5 Is dit ál wat Ek op 'n vasdag wil hê: net dat 'n mens homself verneder, dat hy sy nek buig soos 'n biesie en in sak en as sit? Noem jy dít 'n vasdag, 'n dag waarvan die Here hou? 6 Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? 7 Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses 'n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.