Stel jou voor: ‘n godsdienstige verhoor waarin die beskuldigde so aangerand word.
Daar is baie verklarings vir hierdie verhaal van Jesus wat geblinddoek word en aangerand word. Agter die woorde skuil daar baie tradisies van interpretasie. Soos byvoorbeeld: Daar is verwag dat iemand wat sê dat hy die Messias is, met toegebinde oë in staat sou wees om iemand wat hom klap uit te ken. Dit gaan dan om ‘n Messiaanse toets.
Maar Jesus is klaar veroordeel. Sy aanranders wou nie meer uitvind of hy die Messias is nie. Daar was nie twyfelende Thomasse onder daardie opgewende klomp godsdienstige leiers nie. Hulle het soos een man besluit Hy moet uitgewis word.
Daar was op daardie dag net maar mense wat baie kwaad was. En daarom met vuishoue op Jesus wou toesak. Die Sanhedrin se woede was deur hul godsdienstige wanopvattings gedryf en is gerig teen Jesus wat nie in hulle idee van godsdiens ingepas het nie. Hulle het met brutale geweld hulle woede op Jesus uitgehaal deur op hom te spoeg en hom met vuishoue by te kom.
Alles wat vir hulle oor God belangrik was, het in teenspraak met die lewe van Jesus gestaan. Hy laster God, roep hulle geestelike leier uit, dankbaar dat hy 'n rede gevind het om Hom te veroordeel. Dit was dus vir hulle God se wil dat hulle Jesus uit die weg sou ruim.
Alles wat vir hulle oor God belangrik was, het in teenspraak met die lewe van Jesus gestaan. Hy laster God, roep hulle geestelike leier uit, dankbaar dat hy 'n rede gevind het om Hom te veroordeel. Dit was dus vir hulle God se wil dat hulle Jesus uit die weg sou ruim.
Eintlik, in my leestyd gisteraand, vang vers 65 se einde my oog: “Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat.” Ek sien baie vertalings vertaal dit eerder met “Ook die slawe het Hom geklap”.
Slawe, die ongerekendes, hulle wat op die laagste sosiale vlak gereken is, het Jesus ook bygedam.
Die woord vir “klap” beteken om met die oop palm van jou hand iemand anders te slaan. Dit is meer as net ‘n poging om iemand pyn aan te doen. Dit is ook ‘n intense vorming van vernedering. Vir Markus was dit nie net genoeg dat die Sanhedrin Jesus met die vuis bygedam het nie. Selfs die wagte of die slawe, die buitestaanders, wou hom bykom.
Waarom het Markus hierdie verhaal vertel? Wat, sou ‘n mens ook kon vra, het deur Jesus se gedagtes gegaan toe hy met vuishoue aangerand is en met ‘n oop hand deur die gesig geslaan is? Die evangelies vertel almal hierdie verhaal. Só het dit gebeur, daardie laaste dae van Jesus se lewe.
Jesus sê nie ‘n woord nie. Dit is, in Markus opvallend dat Hy hier, maar ook later tydens sy verhoor nie veel te sê het nie. Markus 15:5 vertel dat Jesus, nadat hy in enkele woorde op Pilatus se vraag antwoord, “egter niks meer gesê het nie, sodat Pilatus verbaas was.” Jesus kies doelbewus om te swyg. Sy dissipels het dit opgemerk. Hulle sou dit later bly oorvertel. Hulle het dit so belangrik gevind dat hulle dit spesifiek in hul evangelies neergeskryf het.
Jesus wou niks sê nie. Hy kon praat. Hy was by sy volle bewussyn. Hy kon maklik op vrae antwoord – soos Hy een keer antwoord op Pilatus se vraag of hy die Messias is (Mk.14:62).
Die opmerklikste is juis die meedeling van Markus 14:60. Tydens die verhoor van Jesus weerspreek die getuies mekaar. Twee keer word vertel hoe die getuies nie kon saamstem nie. Die Hoëpriester vra toe vir Jesus of hy dan nie gaan antwoord oor die getuienis nie. Dan volg die opmerking: Maar Jesus het geswyg en niks geantwoord nie.
Hy het nie teruggeslaan nie. Nie met sy vuiste of met sy woorde nie. Hy het nie geraas of geskel nie. Hy het nie eers die teensprake in die getuienis uitgewys nie.
Selfs toe die wagte, die slawe, die wat nie regtig betrokke was nie, hom bygedam het.
Hy wou Hom nie verweer nie. Al het hulle hom, die Een wat naby aan God was, van Godslastering beskuldig. Hy het nie kwaad met kwaad vergeld nie.
Die helderste lig op hierdie stilte van Jesus kom egter uit Jesaja 53:7. Die kneg van die Here is mishandel, hoewel hy onderworpe was. En Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders – ja hy het sy mond nie oopgemaak nie.
Die lydensweg van Jesus is nie heeltemal nuut nie. Die Kneg van die Here in die ou bedeling het ook daardie pad geloop. Die volk Israel ken daardie pad. Maar die Messias sou ook die pad loop.
In die geval van Jesus, was die lydensweg gelaai met ‘n verborge betekenis. Markus 14:32-41 vertel hoe Jesus in Getsemane nog gebid het dat die beker van Hom weggeneem sou word. Nogtans, het hy bygevoeg, laat nie my wil nie, maar U wil geskied.
Drie keer. En dan, aan die einde, roep hy sy slapende dissipels: Staan op, Kom ons gaan! Hier kom my verraaier!
Toe is Hy klaar gepraat. Jesus bly daarna stil, verdra die aanranding en die vernedering, sê niks nie omdat dit die pad is wat God wil hê Hy moet loop. Hy gehoorsaam God volledig, totaal en al, wat ook al oor sy pad kom. Hy loop die weg wat God van Hom vra. Op die ou end, toe dit verskriklik met Hom gegaan het, kon Hy nog in die wil van die Vader bly: My God, roep Hy uit. U aan wie ek behoort, hier is ek. Waarom het U my dan verlaat?
Getrou tot die dood, verby alle woorde. Onherroeplik gebonde aan God. Dit is die tyd dat woorde nie meer tel nie. Dit is nie meer tyd om te praat nie. Dit gaan om getrouheid aan wat God wil, om gehoorsaamheid aan wat God vra.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.