Tuesday, March 22, 2011

Die uitverkoping van God. Bybelstudie oor Openbaring (22)

Die middelste van die sewe briewe aan die kerke in Asië, geskryf aan Tiatira, begin mooi (Open.2:18-29). Die gemeente word geprys vir ‘n hele paar mooi eienskappe, het ons in die vorige blog gesien. Vers 19 maak die lysie: liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding.

Maar dan kom daar die minder mooi kwessie in vers 20. “Ek het dit teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan”.  Johannes se taal word skerp. Die gemeente kom kwaai onder skoot.

Johannes raak meer spesifiek oor sy klagte: Isebel is die profeet wat die gemeente "onsedelikheid" laat doen en "afgodsoffers laat eet". Om afgodsoffers te eet is min of meer ‘n sinoniem met onsedelikheid. Die twee is ook in Openbaring 2:14 met mekaar gekombineer. Dit vertel albei van ontrouheid, dubbelhartigheid en selfgerigtheid.

Om onsedelik te wees, is die Ou-Testamentiese beeld vir iemand wat afgode in sy of haar lewe duld. Isebel was die heidense vrou van Koning Agab (1 Kon.16-22). Sy was die profeet Elia se vyand. Sy was berug daarvoor dat sy Israel tot afgodsdiens verlei het.  Sy het daarin geslaag om ‘n hele volk agter haar aan te verlei.

In die heidense konteks van die Nuwe Testament was daar ryk Christene wat dit kon bekostig om vleis te koop wat aan afgode geoffer is. Die vleis was normaalweg te duur vir arm mense. As ‘n mens vleis geëet het, was dit ‘n teken dat jy welaf was.  Ryk mense was boonop gewoond aan ‘n algemene gebruik in hulle tyd: deur vir die afgode en hul tempeldiens geld te gee, kan ‘n mens verwag dat jy deur die gode geseën sal word.

In die gemeente van Korinte, weet ons uit Paulus se eerste brief aan hulle, was daar hieroor probleme. Want terwyl sommige gedink het ‘n mens het vryheid in Christus en die afgode kan daardie vryheid nie bedreig nie, was ander minder seker. Vir hulle eet ‘n mens die vleis en deel dan ‘n geestelike verhouding met die afgode aan wie die vleis geoffer is. Dit is nie maar net ‘n kwessie dat jy hulle ‘n bietjie geld gee en dat jy jou godsdiens nog getrou beoefen nie. Nog meer, wanneer 'n mens betaal, met al die verwagtinge wat daarmee gepaard gaan, word 'n mens se verhouding met God aangetas.

Paulus was hieroor nie so liberaal as wat hy lyk nie. Hy sê vir sy gemeentelede in Korinte dat hulle wel die vleis kan eet, solank as wat hulle ander nie laat struikel nie. Sommige mense is sterk. Hulle verhouding met God word nie bedreig nie. Ander weer, waarsku hy egter, struikel maklik – en dan volg die punt: hulle struikel as gevolg van die voorbeeld van mede-Christene wat meen daar is geen probleem om vleis van afgodsoffers te eet nie. (1 Kor. 8).

Diep in hulle houding oor afgodsoffers skuil daar in die gemeente van Tiatira ‘n stuk selfsug. Isebel en haar groep wil die beste van alle wêrelde hê. Hulle soek om van die Evangelie te getuig. Maar hulle wil ook nog by die godsdiens van hulle tyd inkoop.  Iewers geld God se wil nie meer vir hulle in alle omstandighede nie. Daar is perke, darem: ‘n mens dien wel graag vir God. En tog, as dit by jou eie voordeel kom, is daar ander gode wat vir jou sorg en vir wie jy ook ‘n gebaar van erkentlikheid laat blyk.

Op die manier stel ‘n mens godsdiens op jou eie voordeel in. Wat saak maak, is jou geseënde, gemaklike, lewe en voorspoed.

Hierteenoor vra Johannes dat gelowiges nie net aan hulle self sal dink nie. Hulle moet aan God bly dink – aan wat God van hulle vra, aan geregtigheid, aan gelykheid, aan omgee, aan onwrikbaar getuig. Hieraan moet hulle vashou. Dit is al wat hy vra. Geen ander verpligting wil hy op die gemeente van Tiatira lê nie (Open.2:25).

Wie dit doen, sal die môrester ontvang (Open.2:28). Hulle sal by die Lam as die Môrester (Open.22:16) wees, as sy bruid. Hulle wat tronk toe is, in hospitale ingestap het, klere weggegee het, kos uitgedeel het. Hulle wie se lewens ingestel was op ander.

Hulle sal getooi word in bruidsklere en sal aansit by die bruilofsfees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive