‘n Man van deugde en iemand om geprys te word, was Bernard.
Maar daar is nog meer: Bernard was bekend daarvoor dat hy nooit toegelaat het dat sy besige lewe sy omgang met die Bybel sou belemmer nie. Hy het ‘n besondere kennis van die Bybel gehad. Sy werke is deurspek met Bybelse verwysings en hy skryf in Bybelse taal. Meer nog, een van die belangrikste werke was vir hom Hooglied, wat vir hom die besonder intieme verhouding van God met die mens beskryf het.
Pranger skryf sy artikel oor Bernard en geweld, wat nogal ‘n verrassende titel is – gegewe Bernard se bekendheid as die skrywer en mistikus van liefde. Eers vertel Pranger dat ‘n vaste voorskrif vir die monastieke lewe was dat ‘n mens vir altyd aan ‘n klooster verbonde bly. Dit is uitgedruk met die frase stabilitas loci. Hierdie reël het veral gegeld vir Bernard, want hy was die ab van sy klooster. Van hom sou ‘n mens juis verwag dat hy hom in sy klooster sou afsonder.
Maar Bernard, skryf Pranger, het hom nie by die reël gehou nie. Hy het nogal dikwels die klooster verlaat en op allerhande reise gegaan. In 1146 gaan hy weer op so ‘n reis, maar hierdie keer om mense aan te spoor om aan die Tweede Kruistog deel te neem. Op versoek van die pous reis hy deur groot dele van Europa om mense tot deelname aan te vuur.
Voordat hy verder op sy onderwerp ingaan, wys Pranger eers daarop dat "Jerusalem" in die Middeleeue verskeie betekenisse gehad het. Eers was dit, soos gebruiklik, 'n historiese verwysing na die letterlike stad in Palestina. Allegories is dit voorts as die Kerk uitgelê. Volgens die derde, mistieke betekenis was Jerusalem ook die hemelse stad en in tropologiese/etiese sin was Jerusalem die menslike siel.
‘n Mens sou dus verwag dat Bernard, vanuit sy monastieke bestaan, hoër oor Jerusalem sou gedink het.
Toe Bernard mense tydens sy rondreise aanspoor om teen die Moslems in die letterlike Jerusalem in Palestina te gaan baklei, het hy, volgens Pranger, skoon vergeet van die mistieke betekenis van Jerusalem as die hemelse stad. Trouens, hy preek vurig teen die heiligskennis dat die stad Jerusalem op lasterlike manier verontheilig word. Die Here ly weer op dieselfde manier as die eerste keer in die heilige stad, preek hy vurig. Die Here roep weer uit: Ek is op pad na Jerusalem om nog ‘n keer gekruisig te word. Hier gebruik Bernard die frase “vox claimanti” – Latyns vir ‘n stem wat roep. En hy gebruik dit om op te roep tot oorlog: Die swaard van die wêreldlike en geestelike magte moet getrek word om Jerusalem deur die kruistog te gaan bevry.
In Bernard se gebruik van die frase – vox claimanti (“Nou word ‘n stem gehoor van hom wat roep: Ek kom na Jerusalem om weer gekruisig te word”) sou vele van sy luisteraars besef het dat Bernard hier met taal van Hooglied vir mense oproep om te gaan oorlog voer. Die man van die klooster, wat hom afsonder om die hemelse stad op te soek, is op reis buite die klooster terwyl hy al wat leef en beef oproep om te reis na die letterlike stad Jerusalem om te gaan oorlog voer. En hy gebruik die Bybel en Bybelse taal om hierdie oorlogstaal so effektief as moontlik te maak.
Dit terwyl Bernard tog goed geweet het van Hooglied as liefdesboek.
Wat dit soveel gedenkwaardiger maak is die konteks van Hooglied: dit is ‘n liefdesverhaal waarin die bruidegom sy liefde vir sy bruid verklaar. Die bruidegom het die kamer van die bruid verlaat om in die veld te gaan rus, voordat hy sal terugkeer na haar. Maar in Bernard se prediking word die liefde uitgelaat en vervang met geweldstaal: die bruidegom is op pad om oorlog te maak, om dood en verwoesting te saai. Onskuldige liefdestaal word geweldstaal.
Die kruistog wat Bernard aangevuur het, was ‘n mislukking – al het Bernard voorspel dat dit sou goed gaan en dat die oorlog suksesvol sou eindig. Duisende het gesterf. God het hulle oorlog nie geseën nie.
Bernard het nie te kenne gegee dat die geweld en oorlog hom pla nie. Hy het Bybelse taal netjies omgekeer om sy oorlogspraatjies gesag te gee. Dit was maar die manier waarop mense soos hy met die Bybel gewerk het.
Waarom praat Pranger nou van “mistieke geweld”. Hy verwys na die manier waarop Bernard op ‘n “wrede” manier die oorspronklike, historiese konteks van Hooglied ignoreer vir sy oorlogspraatjies. Wanneer ‘n mens dinge uitlaat, belangrike dimensies eenvoudig ignoreer, tree jy gewelddadig op – en dit gebeur selfs onder die vroomste van vromes.
Hierdie artikel van Pranger bring my voor belangrike hermeneutiese vrae te staan. Die belangrikste daarvan is om te vra wanneer spirituele eksegese gewelddadig raak. Nie soseer omdat dit oorlogspraatjies maak nie, maar veral omdat dit beslissende insigte weglaat en ignoreer.
Dit is nogal iets wat na baie kante toe sny. Dit is nou iets om te bedink: monastieke geweld. Tekstuele geweld.
Maar: afgesien van hierdie monastieke geweld of tekstuele geweld, bly ‘n mens verslae staan oor die maklike manier waarop mense deur ‘n mistikus tot oorlog aangestig is. Dit is om van benoud te word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.