Aswoensdag, wat gister gevier is, is tradisioneel die eerste dag van die Lydenstyd. Dit word Aswoensdag genoem omdat as, meestal in die vorm van ‘n kruis, op hierdie dag op mense se voorkoppe getrek word.
Aswoensdag simboliseer die koms van ‘n tyd gevul met gebed en inkeer – soos wat as in die Ou Testament op ‘n mens se kop uitgestrooi is as teken van rou en inkeer. Gewoonlik word Aswoensdag 46 dae voor Paassondag gehou. Hierdie lydenstyd van 40 dae, wat gehou word voor die Heilige Week van 6 dae lank, gedenk gedeeltelik Jesus se versoeking in die woestyn.
Wanneer die as op die voorhoof gesmeer word, word Genesis 3:19 opgesê: Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer. Maar tydens die byeenkoms word Psalm 51, die boetepsalm van Dawid, ook gelees. Met die Skriflesing word die gebed en inkeer verder onderstreep.
Die lydenstyd, waarvan Aswoensdag die begin is, staan in die verlengde hiervan. Dit is ‘n tyd van gebed en inkeer, maar ook ‘n tyd van vas en onthouding. In hierdie tyd sal vele gelowiges byvoorbeeld nie alkohol gebruik nie of nie na die teater gaan nie. Hulle lewe ‘n sober, ingetoë bestaan.
Soos enige tradisie, kan ‘n mens sekerlik Aswoensdag uit gewoonte vier. Maar indien ‘n mens dit doen met die regte instelling, kan dit ‘n belangrike manier word om ‘n mens bewus te maak dat die belangrikste deel van die kerklike jaar aangebreek het, dat dit inderdaad ‘n tyd is waarin die verwerping van God se genade bedink word – ook deur God se uitgesoektes. Juis daarom is berou en soberheid gepas. Sodat hulle wat die weg ken, dit ook sal bewandel.
Aswoensdag is nie net ‘n katolieke tradisie nie. In vele Prostestantse kerke, soos by die Lutherane, die Metodiste, die Presbiteriane en Anglikane, word die tradisie ook gevolg. In die Suid-Afrikaanse gereformeerde kerke is die tradisie van Aswoensdag redelik onbekend, maar die lydenstyd en veral Goeie Vrydag/Paassondag die belangrikste fees in die kerklike jaar is. Ek onthou goed hoedat die lydenstyd in die kerklike jaar in my eie tradise baie belangrik was. Elke predikant het geweet wannneer lydenstyd begin. Die prediking is ook noukeurig daarop ingestel. En tog is dit asof Aswoensdag met sy klem op boetedoening en berou ‘n mens herinner dat die lydenstyd ‘n mens nie net wil laat nadink oor Jesus se weg nie, maar ‘n mens wil herinner hoeveel gebed en berou nodig is in die lig van die mens se ontrouheid en oppervlakkigheid oor God se genade aanbod.
Die lydenstyd is dus in die meeste kerke ‘n tyd waarin gelowiges besig is om na te dink oor hul geestelike weg, hul geestelike groei en waarin hulle hul voorberei op Paassondag. In ons Gereformeerde tradisie, wil ek onthou, was dit bietjie anders: daar was ‘n buitengewone klem op die lydenstyd as die aanloop tot Jesus se unieke soenverdienste aan die kruis. In die lydenstyd is sterk gefokus op die weg van Jesus na die kruis. Die mens se eie geestelike reis was dalk nie so pertinent onder die loep geneem nie. Dat daar ‘n behoefte aan hierdie innerlike refleksie op ‘n mens se eie reis is, was duidelik – want Pinkster het meer die tyd geword waarin nagedink is oor ‘n mens se geestelike weg en die noodsaaklikheid van heiligmaking. Tye van gebed, wat in die lydenstyd met vas verbind word, assossieer ons eintlik ook meer met Pinkster as die lydenstyd.
Miskien kan hierdie twee lyne nader aan mekaar kom: lydenstyd is verbind aan die lydensweg van Jesus. Daarom is die prediking gerig op lydenstekste. En word nagedink oor al die aspekte van Jesus se offerdood. Maar die lydensweg van Jesus is ook ter wille van die mens se geestelike reis. Introspeksie is noodsaaklik. Die lydens weg was immers ‘n heilsweg – ter wille van mense se bevryding. Daarom is nadenke oor wie die mens is in die lig van die lydensweg belangrik.
Terwyl gelowiges in ander tradisies die nadenke oor hul geestelike weg ook met tye van vas verbind het, was die gebruik van vas in ons land in ‘n Gereformeerde konteks ook relatief onbekend of selfs ongewild.
Mense is soms versigtig vir vas, veral in die lig van Jesus se kritiek teen die Fariseërs wat met lang en mismaakte gesigte rondloop wanneer hulle vas “om deur die mense gesien te word.” (Matteus 6:16).
Dit is tog merkwaardig dat ons die teks so half lees. Matteus veroordeel glad nie die vas nie. Hy skets woorde van Jesus oor ‘n misvormde manier van vas, wat die krag daarvan totaal verloën. Matteus vertel eintlik presies die teenoorgestelde en beklemtoon dat Jesus gesê het mense moet vas, maar op die regte manier. En Jesus gee aan vas ‘n diep geestelike betekenis. Dit is iets wat gedoen word tot eer van God. God sal die vas van gelowiges raaksien. En vir God is dit so belangrik dat God mense wat vas, sal beloon (Matteus 6:17).
Dit is eintlik tragies dat die Fariseërs so geword het. Oorspronklik, weet ons, het juis hulle beklemtoon dat ‘n mens nie ‘n tempel of ‘n priester nodig het om heiligmaking te soek nie. Heiligmaking, het hulle beklemtoon, kom onder ander ook deur te vas. Deur te vas, ontdek ‘n mens watter krag daar in jou lewe teenwoordig is. Dit sou later die boodskap van Jesus ook word, terwyl die vas vir die Fariseërs sy innerlike krag verloor het en net in uiterlike pligpleging ontaard het.
Vas, soos enige godsdienstige gebruik, kan inderdaad oppervlakkig word. Dit kan ‘n afwys-geleentheid word waarin ‘n mens jou eie vroomheid uitstal. Vir Jesus is daar niks uiterliks aan die vas nie.
Maar vas kan ook ‘n besonder ervaring meebring. Dit is iets wat ‘n mens stilweg, op jou eie doen, om in God se teenwoordigheid te wees, vry van alle aardse bande. En waar ‘n mens dit doen, bly die loon nie weg nie, sê Jesus so duidelik soos daglig. Meer nog as ‘n mens in die tyd van vas nadink oor die een wie se Liggaam gebreek is om mense se honger na God te versadig.
Môre meer hieroor. En, later, oor Caravaggio se skildery van Judas se verraad deur 'n soen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.