Wednesday, March 09, 2011

Deur my, in wie Christus leef, word Christus 'n teenwoordigheid in my naaste....


Simone Weil, in haar boek, Waiting for God, het ‘n hoofstuk waarin sy praat oor die implisiete liefde van God.

Sy begin die gedeelte met ‘n bespreking van naasteliefde. Hiervoor sluit sy aan by Jesus se uitspraak in Matteus 25 waar Jesus aan sy weldoeners sê dat hy eendag vir hulle dankie sal sê. “Ek was honger en julle het my iets gegee om te eet.”

Dit is ‘n boeiende vers, meer as wat ek ooit gedink het, besef ek toe ek Weil se verdere uitleg lees: As ‘n mens hieroor nadink, is dit Christus self wat iets te ete aan Christus gee, skryf sy. ‘n Mens kan tog nie, soos Christus in Matteus 25 sê, aan Christus iets te ete gee as ‘n mens nie eers geword het wat Paulus  in Galasiërs skryf nie: “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my”. ‘n Mens word aan Christus gelyk en dit stel jou in staat om vir Christus (in jou naaste) iets te ete te gee!

Jy word ‘n dissipel van Jesus. En as volgeling verteenwoordig en beliggaam ‘n mens Christus in die wêreld. En reik jy in naasteliefde uit – na Christus.

Die Evangelie fokus duidelik op hierdie een boodskap: die mens wat ly, die mens wat iets te ete ontvang, is iemand in wie Christus is. Die lydende mens is iemand wat Christus beliggaam of verteenwoordig. Wie hom of haar voed, voed Christus self! Hy of sy is Christus.

Een ding is duidelik: Die mens wat ly is in Matteus 25 nie iemand wat dit werd is om gevoed te word nie. Hy of sy “verdien” nie die voedsel nie. Hy of sy het nie besondere geestelike kwaliteit wat hom of haar kwalifiseer om gevoed te word nie.

Hoe word Christus dan nou ‘n teenwoordigheid in die lewe van mense wat swaarkry? Dit gebeur wanneer ‘n gelowige mens in wie Christus lewe (soos in Galasiërs), ‘n weldoener word. Die oomblik wanneer hy of sy iets te ete gee aan iemand wat ly, is hy of sy as gelowige die rede waarom Christus nou in die lewe van die een wat ly teenwoordig word. Die mens wat ly, word Christus deur die voedsel wat aan hom of haar gegee word in sy of haar lyding.

Die gelowige deel Christus deur die voedsel uit aan die lydendes. Die teenwoordigheid van Christus in ander hang van hierdie voedsel af.

Die mens wat ly moet die gawe sekerlik aanvaar of verwerp. Dit is hoe dit ook werk met die sakrament van die nagmaal. ‘n Mens kan dit aanvaar of nie. Maar as die gawe op die regte manier gegee word en op die regte manier ontvang word, dan word die uitdeel van die brood soos die nagmaal.

Ek lees hierdie woorde en besef hoe baie moet ek nog nadink oor Matteus 25. En hoe sakramenteel ons naasteliefde is. Dit word ‘n saak van lewe of dood.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive