Spiritualiteit en mistiek, weet ons te goed, is dikwels bewegings wat ‘n vervalle kerklike lewe wil hernuwe. Maar spiritualiteit self ken ook sy laagtepunte. Die geskiedenis wys duidelik uit hoedat spiritualiteitsbewegings telkens weer eb en vloed beleef.
Die invloedryke Benediktynse spiritualiteit het by tye ook sy insinkings beleef. Die Cisterciënsers is byvoorbeeld veral bekend as ‘n hervormingsbeweging wat die oorsponklike ideaal van die Benediktynse orde wou herstel en wat veral ‘n boodskap wou uitdra wat vir hulle tyd ter sake was.Hulle interesseer my veral omdat hulle spiritualiteit lig, eenvoudig en liefdevol is.
Die orde ontstaan in die elfde eeu, maar ontwikkel veral vinnig onder besonder begaafde leiers. Bernard van Clairvaux het byvoorbeeld daarby aansluit in 1112.
Hulle het so vinnig gegroei dat daar veertig jaar later al 352 kloosters was.
Hulle het ‘n paar belangrike fokuspunte gehad:
Hulle het ‘n paar belangrike fokuspunte gehad:
Eerstens was ‘n strenge eenvoud vir hulle belangrik. Soos baie ander bewegings (o.a. die Moderne Devotie / Nuwe Toewyding van Geert Grote), het hulle ervaar dat die kerk te blink geword het, vol prag en praal gestraal het. Hulle sny allerhande onnodige bykomstighede in die erediens, kerkgeboue en persoonlike lewens uit. Alle onnodige byvoegsels wat oor eeue heen aan die orde se leefwyse bygevoeg is, is weggestroop. Daar is ‘n duidelike Bybelse motivering hiervoor. Hulle volg die voorbeeld van Christus, het hulle geredeneer. Hy was vir hulle die toonbeeld van eenvoud, veral in sy minimum van aardse besittings en sy armoede. Maar dit was nie net bloot min besittings waarom dit gegaan het nie. Eenvoud het vir hulle ook beteken dat ‘n mens veral besig moes wees met handewerk. Armoede, eenvoud en handewerk het vir hulle hand aan hand gegaan – in ‘n mens se persoonlike lewe, maar ook in die lewe van ‘n gemeenskap.
Vir hulle was liefde ‘n tweede belangrike fokus. Liefde was vir hulle die metgesel van eenvoud. ‘n Eenvoudige leefstyl is vir hulle ‘n lewe in die liefde. Hul fokus op liefde het hulle met ‘n sentrale metafoor gekommunikeer: Die geestelike reis was vir hulle ‘n beweging van die menslike hart na die hart van God. In die mens groei die vermoë om lief te hê steeds weer dieper en dieper. Hulle spiritualiteit en mistiek was daarom positief: die mens het die innerlike vermoë om na God uit te reik en streef daarom na die vereniging met God. Die menslike verlange na God is ‘n begeerte na ‘n intieme verhouding met God. Daarmee het hulle aangesluit by Augustinus se beklemtoning van die menslike soeke na God. Vir hulle was, verstaanbaar genoeg, Hooglied daarom ‘n belangrike boek – soos blyk uit die geskrifte van Bernard van Clairvaux en Willem van St Thierry. Vir hulle was dit ook belangrik dat die kloostergemeenskap by uitstek ‘n liefdesgemeenskap wou wees. Daarom het hulle die ideaal van liefdesbetoning veral onder mekaar as lede van die kloostergemeenskap nagestreef.
Hulle het hulle veral besig gehou met kontemplasie, afsondering en liturgie. Hierdie sake het almal die verinnerliking van godsdiens bevorder. Liefde moes ‘n kenmerk word van die mens tot in die innerlike kern van sy bestaan.
Later sou die Cisterciënsers verkeie fases van ontwikkeling deurloop. Hulle het op ‘n stadium meer intellektueel geword, weg van ‘n lewe in die liefde (vanaf die 13e eeu) en het tydens die Reformasie het hulle groot teenstand beleef.
Behalwe Bernard van Clairvaux was dit Willem van St Thierry wat een van die bekendste Cisterciënsers uit die vroegste bestaan van die orde was. Hulle twee saam het deur hul uitleg van Hooglied ‘n groot invloed op die latere kerkgeskiedenis uitgeoefen. Beatrys van Nasaret, die Vlaamse mistikus uit die 13e eeu, en Hildegard van Bingen was twee van die beroemdste vroue-figure in die orde. ‘n Strenger vleuel van die orde was die Trappiste, wat in die twintigste eeu beroemd geraak het deur die werke van Thomas Merton.
Dit interesseer my altyd dat spiritualiteit so ‘n sterk band met sy konteks het. Juis daarom is daar iets dinamies aan spiritualiteit. Nog nooit kon mense een, enkele handboek of vorm van spiritualiteit as “die” regte een vaslê nie. Die geestelike reis loop nie vir almal dieselfde nie. Dit is bevrydend, want ons weet te goed hoedat dinge wat vir ons twintig jaar terug so belangrik was, in ons tyd verslete geword het. Dit is uitdagend om geestelik op reis te wees. Daar is nie ‘n gekarteerde pad nie. Elkeen moet die pad opnuut loop, maar gelukkig met die wete dat wat die vorige geslagte gedoen het, ten minste die rigting aanwys.
En dit boei my ook hoedat spiritualiteit steeds weer in sy vernuwingsfase soek na eenvoud, na stroping van alles wat blink en praterig is.
En dit boei my ook hoedat spiritualiteit steeds weer in sy vernuwingsfase soek na eenvoud, na stroping van alles wat blink en praterig is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.