Tuesday, September 18, 2012

Vreugde - oor die wet!


Vreugde, vreemd genoeg vir huidige lesers van die Bybel, word in die Ou Testament sterk met die wet verbind.

Vir mense wat nie hou van ‘n “wettiese” lewenstyl en van moraliste wat vashou aan allerhande reels en regulasies nie, is dit byna ondenkbaar dat ‘n mens in die wet vreugde kan vind.

En mense wat Galasiërs lees, het nog teologiese rede’s ook om die wet op 'n afstand hou: Paulus waarsku, dink hulle, dat ‘n mens die vryheid wat in Christus aan mense geskenk is, kan prysgee vir ‘n hernude lewe onder die wet.

Maar in die Ou Testament het gelowiges ‘n groot vreugde in die onderhouding van die wet gehad. Kyk maar, skryf Barton, na Psalm 119:14-16 se uitbundige vreugde:

“Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. Ek verlustig my in u voorskrifte. U woord vergeet ek nie.”

Hier moet 'n mens goed lees: die vreugde is nie bloot maar net in die voorskrifte van die wet nie, Direk praat die Psalmdigter met God in die tweede persoon: 

Eintlik gaan dit om vreugde in God, die gewer van die wet.

‘n Mens word getref deur die fokus op die “U” in hierdie gedeelte. Die een wat die wet onderhou, wil alles wat God begeer, nastreef. Die hart en sy blydskap is verbind aan “U verordeninge”, “U bevele”, “die pad wat U aanwys”, “u voorskrifte”, “u woord.” “U” staan in die sentrum en word die hart van die saak.

Hier is die vreugde groot omdat die mens se lewe ingestel is en in lyn is met die wil en die weg van God. Dit is nie bloot die wet nie, maar die wet wat van God kom, wat saak maak. Die wet vertel van God se begeertes, waarna God verlang.

Die een wat die wet onderhou, doen dit om deel te kry aan wat God vir die skepping en vir die mens wil. Deur God se wil te doen, kom die beeld van God al hoe sterker in die mens na vore. Op die manier deel ‘n mens in die lewe wat God begeer.Die wet bring 'n mens nader aan God.

Deur hierdie ingesteldheid word die mens se lewe gevorm deur die verhouding met God. Deur aan God verbind te wees, word alle kante van ‘n mens se lewe gereinig, gesuiwer en geheilig.

Om die wet te gehoorsaam, bring ‘n diepe sin van vervulling. Dit is rede tot blydskap.

Monday, September 17, 2012

Vreugde in God. Oor 'n kernwoord in spiritualiteit.


'n Mens hoor dikwels kritiek oor die vreugdeloosheid van gelowige mense. Somss skrik dit mense af. Soms kwel dit gelowiges dat hulle self so min vreugde ervaar.  

In spiritualiteit speel vreugde inderdaad 'n groot rol en kan selfs as 'n kernwoord van die geestelike lewe beskou word. 

Dit is daarom die moeite werd om dit nader te bekyk. 

Die Ou Testament praat dikwels van vreugde en ken daaraan 'n besondere plek toe.

Dit is boeiend om te sien war vreugde orals voorkom. Daar is eerstens blydskap in God en in die verlossing wat God aan mense skenk, skryf Barton. Die Psalms praat dikwels hieroor. God gee ryklik aan mense en daardeur kom die volk van God tot stand. Vreugde is dus die gevolg van 'n verhouding met God.

“Laat almal wat by u skuil bly wees, laat hulle altyd jubel. U beskerm die wat by U skuil en hulle juig oor U,” vertel Psalm 5:12. God gee beskerming, skuiling en dit raak mense besonder diep.

God gee om en daarom juig mense.”Wie op die Here vertrou, die omvou die Here met liefde. Verbly julle in die Here en juig, geliefdes. Jubel alle opregtes” (Ps.32:11).

Vreugde is so belangrik dat gelowiges aangesê word om bly te wees. Wie aan God behoort, kan nie stilbly nie. Hulle moet hulle verbly. Dit is ‘n besondere, intense vreugde. Daarom kom die vreugde na vore in gejuig en wanneer gelowige mense jubel, sing of dans.

Wie aan God behoort, voel en ervaar dit. Dit bring pure, selfs uitbundige vreugde. As die vreugde nie daar is nie, moet dit gesoek word.

Mondvol.

Sunday, September 16, 2012

Soms is dit nodig om kwaai te wees. Soms moet 'n mens uitstyg bo die kleinlike. Oor die gawe van onderskeiding


Paulus staan dikwels bekend as die kwaai apostel wat sy opponente lelik kan bykom. Soms lyk dit asof hy selfs oorboord gaan in sy heftige teenkanting teen mense wat van hom verskil.

Neem byvoorbeeld sy brief aan die Galasiërs. Daarin verwerp hy die boodskap van ander gelowiges wat die Evangelie verkondig het. Hulle “Evangelie” is nie ‘n Evangelie nie (Gal.1:6-7). Die mense wat daardie boodskap verkondig is, skryf hy, vervloek en dwaas (Gal.1:8-9; 5:10). Sterk en kwaai is Paulus se kritiek teen hierdie mense.

As ‘n mens aan die ander kant Paulus se brief aan die Filippense lees, is Paulus heel anders teenoor mense wat van hom verskil. Volgens Filippense 1:15-18 is daar mense wat Christus uit afguns en naywer verkondig. Hulle motiewe verskil van ander predikers wat deur die liefde gedryf is. Maar, skryf Paulus, ten spyte van al die verskille en van die bedenklike motiewe van sommige, is die belangrikste dat Christus verkondig word.

Filippense is die brief van liefde en vriendskap geskryf deur Paulus in moeilike omstandighede op ‘n laat stadium van sy lewe. Al is mense nie altyd suiwer in hul motiewe nie, is die belangrikste dat die egte Evangelie gehoor word. In Galasiërs is dinge anders: Paulus is die jong prediker wat die boodskap van bevryding in Jesus moet beklemtoon. Niks moet gebeur wat mense van die Evangelie afsny nie.

In albei gevalle, sien ‘n mens tog, is die belangrikste dat die lig van Christus se lewe en boodskap onaangetas bly.

En tog: selfs al verstaan ‘n mens dat Paulus kon sien en kon onderskei wanneer om mense aan te vat, bly die verskil opvallend. Paulus is die mistagoog, die een wat mense op hul geestelike weg begelei en wat daarop ingestel is om hulle tot geestelike volwassenheid te bring. In die proses kan hy self buigbaar wees, verdraagsaam, akkommoderend. Ander kere weer vreesloos. Maar steeds weer gaan dit om die geestelike welsyn van mense wat saam met hom die geestelike weg loop.

Saturday, September 15, 2012

Teenwoordig in afwesigheid. Oor die mistieke antifrase


In spiritualiteit word soms gepraat van die "mistieke antifrase" om na te dink oor die geestelike weg. Dit is 'n onbekende begrip, maar dit is 'n uitdrukking wat groot waarde inhou vir 'n baie algemene aspek van mense se geestelike lewe: Dikwels praat mense oor die donker, minder opwindende tye in hul lewens as 'n groot kwelpunt. Hoewel hulle ‘n verlange het na ‘n vervullende geestelike lewe, ervaar hulle eerder ‘n geestelike droogte.

Hieroor voel hulle skuldig. Asof geloof net altyd goeie tye moet inhou.Vir sommige bring dit wanhoop en intense gevoelens van mislukking.

In vele gevalle het hierdie negatiewe ervarings egter 'n spesiale dimensie. ‘n Mens kan dit heel eenvoudig verduidelik aan die hand van die geskiedenis van die Emmausgangers.

Die twee dissipels van Jesus is droefgeestig. Na die goeie tye saam met Jesus, was daar sy kruisiging en dood. Dinge, het hulle gevoel, het heeltemal skeef geloop. Met ontstelde harte gaan hulle daarom terug na hul ou bestaan, na Emmaus. Dit is waar hulle vandaan gekom het voordat hulle Jesus gevolg het. Hulle, voel dit vir hulle self, is terug by die ou paaie.

Tog kan hulle Jesus nie vergeet nie. Hulle bly praat oor Hom, al is dit in ‘n donker, negatiewe sin van die woord.

In die geval van die twee Emmausgangers is dinge nogal anders: Jesus sluit by hulle aan terwyl hulle op reis is. Hulle is in die teenwoordigheid van Jesus. Maar hulle herken hom nie.

Later sou hulle verduidelik dat hulle tydens hulle gesprek met Jesus gevoel het hoe hulle harte brandende in hulle was terwyl Hy met hulle gepraat het. Hoe meer hulle na Hom geluister het, hoe sterker was hulle verlange na Hom.

Dit is asof Lukas deur die vertelling sy lesers se aandag wil vestig op die nodigheid om nie in hul trane vas te val nie. Die geestelike reis kom soms tot 'n einde deurdat die reisiger in die donker vaskyk en vasval. 

Lukas se verhaal is dus ironies: Hy vertel dat Jesus op ‘n Verborge manier teenwoordig is in die lewens van die Emmausgangers. Terwyl hulle alleen maar praat oor Jesus se afwesigheid, is Hy wel deeglik by hulle teenwoordig.  En mense kan in die Emmausverhaal hulle eie verhaal herken - en daaruit leer.

Op een of ander verborge manier, in hul harte, word die goddelike teenwoordigheid ook bevestig. Hierdie teenwoordigheid van Jesus en die Emmausgangers se verbondenheid met Hom is die mistieke kant van die verhaal. Maar die brandende gevoel van die Verborgene se teenwoordigheid is terselfdertyd die teenoorgestelde van die afwesigheid van Jesus wat hulle sê hulle ervaar (antifrase).

Lukas vertel hierdie verhaal oor die Teenwoordigheid van die Afwesige Jesus om sy lesers op hul moeilike, wisselvallige geestelike reis te begelei: Daar sal tye kom dat hulle, soos die Emmausgangers, net afwesigheid ervaar. Wie verby die afwesigheid kyk, sal iets anders ontdek, naamlik die stil stem van 'n mens se verlangende hart. Die verlange na God bly by ‘n mens, ook wanneer ‘n mens deur die donker dele van jou geestelike reis moet gaan. 

Hierdie verlange is ‘n teken dat God daar is en in 'n mens se lewe aan die werk is.

Daarom gee ‘n mens die geestelike reis nie op nie. Dit sou "onverstandig" wees. 

Lukas se boodskap aan sy lesers deur sy vertelling van die Emmausgangers is om terug te keer na Jerusalem, om te bly woon in die woorde en wêreld van Jesus. Die geestelike reis moet ‘n mens, al is dit in donker tye, steeds in herinnering aan Jesus bly voortsit. Daarom sal ‘n mens Lukas se Evangelie lees, want hy vertel die verhaal van Jesus. 

Vir Lukas beteken dit ook dat ‘n mens steeds weer aan die tafel van die laaste maal sal gaan aansit. In Lukas se verhaal oor Jesus sal hulle die geestelike weg van nader leer ken. Dit is die verhaal wat hulle sal help om die Teenwoordigheid van die Verborgene te leer ken. 

Dit alles beteken dat ‘n mens ook en veral in die donker, droë tye, ingestel is op die Verborge Teenwoordigheid van God deur verbondenheid aan die Here.

Lukas is die mistagoog wat sy lesers bystaan om God se weg vir hulle lewe te herken. Dit is nie maklik nie, soos die Emmausverhaal wys. Dit vra dat 'n mens diep na binne kyk, maar ook naby aan Christus bly.
   
Dit is ook die rede vir Lukas se slot en vir sy beginverhaal in Handelinge: Jesus is aan God se regterhand. 'n Mens moet in Hom die goddelike werking en teenwoordigheid herken wat verby alle menslike gedagtes en voorstellinge strek. Daarom moet ons luister na ons harte, wat soms vinniger en deegliker is in die herkenning van God se teenwoordigheid. En daarom moet die lesers ingestel wees daarop dat dit God is wat die verlange in ons harte aansteek en laat brand. 

Die een wat ingestel is op die onsigbare Jesus, is die een wat uiteindelik sal groei in die geestelike reis.  

Friday, September 14, 2012

Goeie bokke. Oor die skok van die geloofstoets

Brenda de Wet bring die volgende pittige voorbeeld onder my aandag. Sy vertel:


In the Linns’ book Good Goats: Healing our image of God, they recount the story of their presenting a seminar about healing our image of God as a strict, unloving judge to a group of elderly retired nuns.

Right at the end one sister raised her hand and asked, “But what about the story of the sheep and the goats?” Dennis Linn responded by asking the group, “How many of you, even once in your life, have done what Jesus asks at the beginning of that passage and fed a hungry person, clothed a naked person or visited a person in prison?” All the sisters raised their hands. Dennis said, “That’s wonderful! You’re all sheep.” Then he asked, “How many of you, even once in your life, have walked by a hungry person, failed to clothe a naked person, or not visited someone in prison?” slowly, all the sisters raised their hands. Dennis said, “That’s too bad. You’re all goats.’

The sisters looked worried and perplexed. Then, suddenly one very old sister exclaimed, “I get it! We’re all good goats!”

And so we are, by the grace of God. 

Dus, besef ek by die lees hiervan, moet 'n mens maar altyd daardie vinger wat so rondswaai en bokke om ons raaksien - almal op pad hel toe, nederig laat sak en hande vou, biddend.

Dit is hoe die verhaal van die laaste oordeel werk: Matteus vestig die aandag daarop dat 'n mens, wanneer jy jouself teen die lig van die genade toets, met skok jou eie harteloosheid, en, dan, jou lewe sonder God, sal ontdek. Toets jouself gedurig, vra Matteus. of jy nog in God se wil leef. Onderskei die teenwoordigheid van Christus in jou lewe. Sonder dat 'n mens dit weet, kan 'n mens buite God se wil leef. Deur self-ondersoek ontdek 'n mens hoe skeef dinge geloop het en watter hartelose magte loskom - en dit is 'n oordeel wat 'n mens oor jouself bring. Daardie oordeel kan, sonder dat jy dit besef, allervernietigends wees.

 

Thursday, September 13, 2012

Maria se mistieke weg


In ‘n paar vorige skrywes het ek nagedink oor die aankondiging van Jesus se geboorte aan Maria soos vertel in Lukas 1:26-38. Op allerhande maniere kan ‘n mens hierdie vertelling se geestelike dimensies ontvleg.

‘n Mens kry nog ‘n boeiende geestelike insig daarin as jy die verhaallyn van die verse volg. Lukas se vertelling verraai naamlik die diepe betekenis wat hy aan sy materiaal toeken en teken daarin Maria se mistieke weg:

Soos ‘n goeie verteller maak Lukas eers heel gou vir sy lesers duidelik wie by die gebeurtenisse betrokke is. Die verhaal van die aankondiging begin met ‘n vertelling in verse 26-27 oor die karakters in die verhaal: Lukas maak seker dat sy lesers weet dit gaan om God wat die engel Gabriël na Maria stuur.

Dan kom alles in beweging: Die engel, vertel vers 28 het by Maria aangekom. Hier begin alles nou gebeur. Die verhaal word afgesluit in vers 38 wanneer Lukas uitdruklik vertel dat die engel “van haar weggegaan het.” Die kom en die gaan van God se engel rond hierdie verhaal af – dit is die raamwerk waarin ‘n mens dit moet plaas en verstaan.

Hier gaan dit om God se koms.

Heel onvoorspelbaar, genadiglik, begin God die groot omwenteling in die lewe van mense. God tree deur die Engel die land van sy liefde binne, strek sy hand uit na die eenvoudigste van mense, na ‘n ongerekende vrou (vers 48!) in die klein dorpie van Nasaret. God reik uit. So wil Lukas die verhaal van Maria aanbied: dit staan in die teken van die verhouding van God met mense, gulhartig, uit genade aangeknoop. Alle inisiatief begin by die onsienlike, die verborgene. ‘n Mens ontdek eers sin wanneer ‘n mens dieper vind.

Dit is dus 'n mistieke verhaal: dit gaan om die koms van God in die eenvoud van ons bestaan.

Maria se verhaal is dus ‘n verhaal oor God wat ‘n verhouding met mense uit vrye genade aanknoop. God heilig (vers 49) die dor lewe van die ongerekendste mense. Die Heilige Gees is aan die werk (vers 35). Dit gaan oor God se werk in die een wat as die heilige gebore sal word (vers 35). Heilig, anders, afgesonder, eenkant – daar ontdek ‘n mens betekenis en die Verborgene. Ook in hierdie heiligheid, 'n kernwoord in die mistiek, ontdek 'n mens die spesiale karakter van Lukas se verhaal.

Binne hierdie verhaal van God vertel Lukas nou ‘n pragtige gestruktureerde dialoog tussen die engel en Maria. Drie keer praat die Engel met haar. Drie reaksies van Maria word dan elke keer op die drie aksies van die Engel uitgespel.

Heel opvallend begin die Engel deur ‘n doodeenvoudige “begroeting” aan Maria in vers 28. Hierdie aankondiging bestaan ook uit drie dele! Die Engel sê: “Wees bly”; “Begenadigde mens”; “Die Here is met jou.” Die Afrikaanse vertaling: “Gegroet” mis die punt. Hierdie aankondiging van die Engel is gelaai met blydskap, met ‘n boodskap oor genade, maar veral met ‘n versekering dat die Here daar, by Maria, is. Dit is ‘n aangrypende mistieke oomblik waarin Maria bewus gemaak word van die uitsonderlike teenwoordigheid van God by haar. "Wees bly,", dus.

Haar eerste reaksie, wat Lukas dan in vers 29 beskryf, vertel dat sy deur die begroeting oorweldig is: “Sy was verbysterd oor die woorde.” Sy het “gewonder oor wat die begroeting (!) kon beteken.” In elke mistieke ervaring, waar ‘n mens ook al in die teenwoordigheid van God kom, peil ‘n mens nie wat met jou gebeur nie. Waar God ‘n mens aanraak, kom verwondering in spel, worstel ‘n mens om die diepte van die ontmoeting te deurgrond. Jy is by die Verborgene, tas in die donkerte, soek om meer te begryp en te deurgrond.

Maria word opgeneem in ‘n intieme, noue verhouding met God en hartgrondiglik daardeur getransformeer.

Dan volg ‘n tweede woord van die Engel. Sy woorde, opgeteken in vers 30, “antwoord” op haar reaksie. En sy woorde beskryf terselfdertyd wat met haar gebeur. Hy sê vir haar om nie te vrees nie. Hier het ons te doen met die vrees vir die Here, ‘n kernwoord in Spiritualiteit. Dit het niks met angs te doen nie, maar met ontsag en verwondering, soos vers 29 bewys. Dit is wel vrees, want Maria skrik terug oor die ontsagwekkende wat met haar gebeur. Teselfdertyd, soos Waaijman dit partykeer verduidelik, is dit soos ‘n mot by ‘n kers. Vrees van die Here beteken om te skrik, gebrand te voel, maar teselfdertyd trek dit ook aan, is daar verwondering en toenadering. Die Engel verduidelik daarom in ‘n derde moment, God se teenwoordigheid in haar lewe. Sy, die ongerekende vrou, sal die seun, die koning in die wêreld bring – die sfeer van die Heilige en die werking van die Heilige is hier te merk (vers 35).

Welzen skryf aangrypend oor hierdie moment in die verhaal van die geboorte-groet. Hy vergelyk Maria se reaksie met Jesus se lewe. Jesus hoor tydens sy doop dat Hy die Geliefde Seun is in wie God ‘n welbehae het. God is bly en verheug God oor Jesus – soos Maria ook oor haarself gehoor het. Baie later sou Jesus leer om sy wil na God se wil te skik, toe Hy in die tuin van Getsemane gebid het dat God se wil in sy lewe gebeur. Dit is wat Maria ook doen. Wanneer God haar op ‘n mistieke manier aanraak en in haar lewe ‘n werklikheid word, worstel sy met God se wil: “Hoe is dit moontlik?” vra sy in antwoord op die Engel se tweede woord. Sy begryp nie. Haar geestelike weg, soos die Engel dit uitspel, maak vir haar nie sin nie. 

Sy worstel om te begryp en sy luister na die goddelike woord, wat eindig met die opmerking: “Niks is vir God onmoontlik nie.”

Die verhaal het begin met die begroeting van die Engel aan Maria: “Die Here is met jou!” Maria worstel om hierdie vreugdesgroet te deurgrond. Sy weet sy is in die teenwoordigheid van God, maar weet nie wat dit vir haar inhou nie. Sin na sin word hierdie worsteling oorvertel.

Maar dan eindig die verhaal waar Maria sê: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Sy is reg om die beker te drink.

Dit is die derde vertelling van Maria se reaksie op die geboorte-groet. Skeepsreg.



Blog Archive