In
‘n paar vorige skrywes het ek nagedink oor die aankondiging van Jesus se
geboorte aan Maria soos vertel in Lukas 1:26-38. Op allerhande maniere kan ‘n
mens hierdie vertelling se geestelike dimensies ontvleg.
‘n
Mens kry nog ‘n boeiende geestelike insig daarin as jy die verhaallyn van die
verse volg. Lukas se vertelling verraai naamlik die diepe betekenis wat hy aan
sy materiaal toeken en teken daarin Maria se mistieke weg:
Soos
‘n goeie verteller maak Lukas eers heel gou vir sy lesers duidelik wie by die
gebeurtenisse betrokke is. Die verhaal van die aankondiging begin met ‘n
vertelling in verse 26-27 oor die karakters in die verhaal: Lukas maak seker
dat sy lesers weet dit gaan om God wat die engel Gabriël na Maria stuur.
Dan
kom alles in beweging: Die engel, vertel vers 28 het by Maria aangekom. Hier
begin alles nou gebeur. Die verhaal word afgesluit in vers 38 wanneer Lukas
uitdruklik vertel dat die engel “van haar weggegaan het.” Die kom en die gaan
van God se engel rond hierdie verhaal af – dit is die raamwerk waarin ‘n mens
dit moet plaas en verstaan.
Hier
gaan dit om God se koms.
Heel
onvoorspelbaar, genadiglik, begin God die groot omwenteling in die lewe van
mense. God tree deur die Engel die land van sy liefde binne, strek sy hand uit
na die eenvoudigste van mense, na ‘n ongerekende vrou (vers 48!) in die klein
dorpie van Nasaret. God reik uit. So wil Lukas die verhaal van Maria aanbied:
dit staan in die teken van die verhouding van God met mense, gulhartig, uit
genade aangeknoop. Alle inisiatief begin by die onsienlike, die verborgene. ‘n
Mens ontdek eers sin wanneer ‘n mens dieper vind.
Dit is dus 'n mistieke verhaal: dit gaan om die koms van God in die eenvoud van ons bestaan.
Maria
se verhaal is dus ‘n verhaal oor God wat ‘n verhouding met mense uit vrye
genade aanknoop. God heilig (vers 49) die dor lewe van die ongerekendste mense.
Die Heilige Gees is aan die werk (vers 35). Dit gaan oor God se werk in die een
wat as die heilige gebore sal word (vers 35). Heilig, anders, afgesonder,
eenkant – daar ontdek ‘n mens betekenis en die Verborgene. Ook in hierdie heiligheid, 'n kernwoord in die mistiek, ontdek 'n mens die spesiale karakter van Lukas se verhaal.
Binne
hierdie verhaal van God vertel Lukas nou ‘n pragtige gestruktureerde dialoog
tussen die engel en Maria. Drie keer praat die Engel met haar. Drie reaksies
van Maria word dan elke keer op die drie aksies van die Engel uitgespel.
Heel
opvallend begin die Engel deur ‘n doodeenvoudige “begroeting” aan Maria in vers
28. Hierdie aankondiging bestaan ook uit drie dele! Die Engel sê: “Wees bly”;
“Begenadigde mens”; “Die Here is met jou.” Die Afrikaanse vertaling: “Gegroet”
mis die punt. Hierdie aankondiging van die Engel is gelaai met blydskap, met ‘n
boodskap oor genade, maar veral met ‘n versekering dat die Here daar, by Maria,
is. Dit is ‘n aangrypende mistieke oomblik waarin Maria bewus gemaak word van
die uitsonderlike teenwoordigheid van God by haar. "Wees bly,", dus.
Haar
eerste reaksie, wat Lukas dan in vers 29 beskryf, vertel dat sy deur die begroeting oorweldig is: “Sy was
verbysterd oor die woorde.” Sy het “gewonder oor wat die begroeting (!) kon
beteken.” In elke mistieke ervaring, waar ‘n mens ook al in die teenwoordigheid
van God kom, peil ‘n mens nie wat met jou gebeur nie. Waar God ‘n mens aanraak,
kom verwondering in spel, worstel ‘n mens om die diepte van die ontmoeting te
deurgrond. Jy is by die Verborgene, tas in die donkerte, soek om meer te begryp
en te deurgrond.
Maria
word opgeneem in ‘n intieme, noue verhouding met God en hartgrondiglik daardeur
getransformeer.
Dan
volg ‘n tweede woord van die Engel. Sy woorde, opgeteken in vers 30, “antwoord”
op haar reaksie. En sy woorde beskryf terselfdertyd wat met haar gebeur. Hy sê
vir haar om nie te vrees nie. Hier het ons te doen met die vrees vir die Here, ‘n
kernwoord in Spiritualiteit. Dit het niks met angs te doen nie, maar met ontsag
en verwondering, soos vers 29 bewys. Dit is wel vrees, want Maria skrik terug
oor die ontsagwekkende wat met haar gebeur. Teselfdertyd, soos Waaijman dit
partykeer verduidelik, is dit soos ‘n mot by ‘n kers. Vrees van die Here
beteken om te skrik, gebrand te voel, maar teselfdertyd trek dit ook aan, is
daar verwondering en toenadering. Die Engel verduidelik daarom in ‘n derde
moment, God se teenwoordigheid in haar lewe. Sy, die ongerekende vrou, sal die
seun, die koning in die wêreld bring – die sfeer van die Heilige en die werking
van die Heilige is hier te merk (vers 35).
Welzen
skryf aangrypend oor hierdie moment in die verhaal van die geboorte-groet. Hy
vergelyk Maria se reaksie met Jesus se lewe. Jesus hoor tydens sy doop dat Hy
die Geliefde Seun is in wie God ‘n welbehae het. God is bly en verheug God oor
Jesus – soos Maria ook oor haarself gehoor het. Baie later sou Jesus leer om sy
wil na God se wil te skik, toe Hy in die tuin van Getsemane gebid het dat God
se wil in sy lewe gebeur. Dit is wat Maria ook doen. Wanneer God haar op ‘n
mistieke manier aanraak en in haar lewe ‘n werklikheid word, worstel sy met God
se wil: “Hoe is dit moontlik?” vra sy in antwoord op die Engel se tweede woord.
Sy begryp nie. Haar geestelike weg, soos die Engel dit uitspel, maak vir haar
nie sin nie.
Sy
worstel om te begryp en sy luister na die goddelike woord, wat eindig met die
opmerking: “Niks is vir God onmoontlik nie.”
Die
verhaal het begin met die begroeting van die Engel aan Maria: “Die Here is met
jou!” Maria worstel om hierdie vreugdesgroet te deurgrond. Sy weet sy is in die
teenwoordigheid van God, maar weet nie wat dit vir haar inhou nie. Sin na sin
word hierdie worsteling oorvertel.
Maar
dan eindig die verhaal waar Maria sê: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat
met my gebeur wat u gesê het.” Sy is reg om die beker te drink.
Dit
is die derde vertelling van Maria se reaksie op die geboorte-groet. Skeepsreg.