In
Lukas 15 is daar drie gelykenisse oor ‘n verlore seun, ‘n muntstuk en ‘n skaap.
Dikwels word die verlore seun byvoorbeeld as ‘n bekeringsverhaal gelees – wat
dit ook is. Tog is dit ‘n verhaal wat veel dieper inhoud het as bloot net ‘n
bekering van ‘n sondaar.
Dit
is veelseggend dat hierdie verhaal van die verlore seun oorloop van vreugde.
Vrolikheid oor die ommekeer in die verlore seun se lewe word herhaaldelik en
baie intens oorvertel in verse 23, 24, 29, 32. Die gelykenis eindig met die
opmerking van die pa dat die vrolikheid gaan oor die seun wat dood en verlore
was, maar lewend gevind is. Dit is dus ‘n gelykenis van vreugde oor God se ryke
gawe van die lewe, oor God wat die dood en verlies kan ombuig in die lewe en in
‘n fees.
Al
drie hierdie gelykenisse word vertel as ‘n reaksie op die verwyt van die
Fariseërs dat Jesus sondaars ontvang en met hulle eet. Vir hulle, in hul
toewyding en godsdienstigheid, was hierdie solidariteit met sulke mense
ondenkbaar.
Jesus
antwoord op die godsdienstigheid heel direk. Hy wyk nie ‘n duim terug nie. Wat
hy doen in sy uitreik na ongerekende en onrespektabele mense, sê hy helder en
duidelik, is gedryf deur sy begeerte om “verlorenes” te vind. Sondaars het
weggeraak, verdwyn in die wye ruimtes van verwerping en verval. Jesus sien hierdie
mense in hul nood raak. Hy kyk verby hulle sonde en wetteloosheid. Hy herken in
hulle mense wat eintlik by God hoort en eintlik by God wil wees. Hy is bly as
hulle ook uiteindelik hul weg na God terugvind.
Jesus
doen egter meer as om net oor verlorenes te praat: om sulke verlorenes te vind,
redeneer Hy, lei uiteindelik tot egte vreugde. Want wat is aangrypender as dat
mense wat in die donkerte van die kwaad verdwaal het, terugkom na die lig.
Hulle vind hul tuiste waar hulle hoort.
Jesus
wil met sy lesers oor egte vreugde praat. Egte vreugde is om saam met ander by
God fees te vier. Egte vreugde word gebore uit die wete dat God die onmoontlike
doen – God skep lewe uit die dood, God soek en vind die verlorenes.
In
Lukas 15:5-6 vind die man sy een verlore skaap, sit dit “met blydskap” op sy
skouers. Tuis sê hy vir sy vriende en bure: “Wees saam met my bly, want ek het
my skaap gekry wat verlore was.” Die vrou wat haar muntstuk kry, doen dieselfde
met haar vriendinne en bure (Lukas 15:9). Die pa van die verlore seun sê ook
dat sy diensknegte fees gereed moet maak sodat hulle vrolik kan wees (Lukas
15:22-24). Die verlore seun is gevind. Dit is rede om vrolik en bly te wees
(Lukas 15:32).
Jesus
ontferm hom oor die armes en die verlorenes. Hulle wat nie hoop het nie, kan sy
teenwoordigheid geniet. Geen verwytende vinger van beskuldiging word na hulle
kant geswaai nie. God gee ook aan hierdie vervallenes, uitgeworpenes ‘n plek
waar hulle kan gaan rus. Dit is suiwer ontferming. Dit is pure omgee. Dit is genadige uitreiking.
Jesus
doen nog meer. Hy vertel dat daar in die hemel en by die engele van God ook
blydskap is (Lukas 15:7 en 10). Dit is wat God wil – dat alle mense sal
terugkom huis toe en weer eens geborgenheid ervaar. En dit kan gebeur deur na hulle uit te reik, vir hulle om te
gee, aan hulle vergifnis aan te bied, deur nie te verwyt en verder te verguis
nie, deur hulle met rykdom te beklee en met liefde tuis te laat voel. God bring
hulle in in die groot Fees. Uiteindelik, einde ten laaste, kom die groot nuwe
tyd. Mense stroom terug en vind hul blydskap in God. Op aarde en in die hemel
sal daar groot vreugde wees.
Dit
is die hemelse perspektief: vreugde kan gevier word waar ongerekendes waardig
op genade en feesviering geag word.
Teenoor
hierdie vrolikheid oor die lewe en oor die terugkeer van die verlorenes, staan
die totale gebrek van die Fariseërs en die Oudste Seun. Hy staan “kwaad” buite
die huis waar feesgevier word (vers 28). Meer nog: in sy lewe het hy nooit kans
gehad om vrolik te word nie (vers 29). Barton vestig die aandag daarop dat sy
optrede baie ooreenstem met die Fariseërs wat staan en “murmureer” oor Jesus se
vrolike gekuier saam met die sondaars.
Hier is koue harte, leeg aan die teenwoordigheid van God en vol van eie vroomheid. Koud, kwaad en krities is die mens se lewe wat nie 'n hart van ontferming kan herken en hê nie.
Vreugdeloosheid
en godsdiens gaan dikwels hand aan hand. Vir baie jare kan ‘n mens in die
vaderhuis getrou werk en leef, maar nie ‘n dag lank enige blydskap ervaar nie.
“Ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie” (vers 29). ‘n Mens
kan jou gees versmoor onder allerhande goeie en mooi goed wat jy “moet” doen.
Al die tyd staan jy buite die feesmaal, bitter en verwytend oor die goeie dinge wat ook
uitgedeel word aan ander, aan die sondaars, wat besef het hoe hul hul eie lewens verwoes het.
Wat
gaan fout? Die fout kom in wanneer ‘n
mens swoeg en sweet, goed doen, beloning soek, vroomheid begeer en dan in die
proses wil verdien wat jy reeds het.
Wanneer ‘n mens sien hoe geseënd jy is,
watter oneindige gawes jy geniet deur by die Vader te kan wees, dat 'n mens uit genade alles besit wat die Vader het, kom die vrolikheid. Maar as ‘n mens alleen maar jou
eie vroomheid en ander se slegtheid bekyk, kyk ‘n mens maklik die goedheid mis van die
Vader, die guns wat so ryklik vir almal daar is, vir jouself ingesluit - en dan kom die onvergenoegdheid, die woede en die afguns.
Egte vreugde is om by God te wees en dankbaar bly te wees wanneer ander ook die goddelike teenwoordigheid opsoek en vind.
Dit is die blye evangelie: 'n Mens vind vreugde in God se teenwoordigheid.