Thursday, September 27, 2012

Vreugde bring vrede bo alle verstand

Die afgelope tyd bedink ek hoe belangrik vrede in Bybelse spiritualiteite is. 

Die ondertoon hiervan bly steeds om te begryp watter rol vreugde vandag kan speel in mense se geestelike pelgrimsreis.

Vreugde is immers 'n sleutelwoord in spiritualiteit. 

Mense se gedagtes kan dikwels vashaak op hul  teleurstellings, lyding, pyn en seerkry. Hulle ruim vir hierdie donker emosies veel plek in hul lewens in. 

Dit is goed, want die lewe bestaan nie net uit goeie dinge nie. 'n Mens moet immers ook rekening hou met die donker kante van jou bestaan en volwasse daarmee kan omgaan.

Sommige terapeute sê dit is belangrik om deur sulke ervarings te werk, juis om die impak op ons en die gevolge daarvan te beperk of te transformeer.

Maar lank, lank kan ons besig bly met die donker kante. 

Hieraan dink ek die afgelope tyd as ek onthou hoe Paulus sy lesers vra om bly te wees. 

Hy skryf in Filippense 4:4:  "Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!" Hy skryf dit uit die tronk, bewus van die donkerte van sy toestand. Dit is nie goedkoop raad nie, asof hy eenvoudig donkerte en swaarkry ignoreer of onderdruk.

Hy wil ook verby die donkerte, die swaarkry na wat groter en duursaam is. 

Dit is dringend, hierdie raad van Paulus om bly te wees. Hy herhaal sy opdrag, daarom, asof die lesers dalk net te maklik daaroor gaan lees. 

Paulus gee in hierdie deel prakties raad oor hoe 'n mens jou op die goeie dinge instel. Hy noem 'n hele lys van dinge waarop 'n mens jou instel. Wanneer dit alles gebeur, ook die fokus op die vreugde, skryf hy in vers 7, "sal die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus."

Jy moet jou kan inoefen in blydskap. 

Ek sien Anselm Grun skryf dat dit 'n goeie geestelike oefening kan wees om jou terug te dink in watter goeie dinge van die verlede vir jou vreugde verskaf het.

Dit is praktiese raad: watter tye, voorheen, was jy bly, uit jou vel, vol vreugde, innerlik vervuld met blydskap?

Dan kan jy daardie vreugde weer oor beleef.

As mense maar met hul vreugdes so besig sal wees soos met hul pyn en teleurstellings, word ons geslag veel gesonder mense. 'n Mens kan jou immers moeilik inleef in vreugde sonder dat dit oorspoel in jou hede. Net om aan vreugde te dink, bring 'n mens al in die lig.

Uiteindelik, as 'n mens jou hierin inoefen, bring dit jou in die vrede van God... 

'n Mens kan seker nie hieroor voorskriftelik wees nie. Spiritualiteit gaan immers oor die oop ruimte wat elke mens op sy of haar eie intree om uiteindelik op sy of haar manier 'n spesifieke reis met God af te lê. Elkeen sal vreugde uniek beleef. En vreugde sal nie noodwendig 'n oppervlakkige, sentimentele soet glimlag-bestaan wees nie. 

Dit het die vorige besinninge in die blogs al gewys: vreugde is veel eerder die diepe wete dat te midde van al 'n mens se omstandighede, hoe haglik ook al, 'n mens in God se wil leef.

Dat 'n mens vreugde kan vind, ook in die tronk, in tye van rou en dood, staan vas. Die vraag is nie of dit kan gebeur nie. Die vraag is eerder of 'n mens dit wil laat gebeur. 



Blog Archive