Lukas
is saam met Matteus die twee skrywers wat verhale oor Jesus se geboorte in hul
Evangelies opneem.
Lukas 1:26-38 is deel van hierdie verhale. Dit is hoogs opmerklik, want daar vertel Lukas hoe ‘n
engel aan Maria verskyn en haar oor die geboorte van Jesus inlig. Nêrens anders lees ons hiervan nie.
Dit is 'n mooi verhaal - bloot net deur die manier waarop dit vertel word.
Bybel-uitleggers
het verduidelik hoe pragtig die verhaal opgebou is aan die hand van ander, ouer
verhale in die Ou Testament. Gerhard Lohfink, wat so ‘n fyn aanvoeling hiervoor
gehad het, vertel dat ‘n mens Gabriël se besoek aan Maria kan vergelyk met
Genesis 16:7-12 waar Hagar hoor van Ismael se geboorte. ‘n Mens dink ook aan
Genesis 17:15-19 waar Abraham verneem van die geboorte van Isak.
In hierdie
drie Aankondigingsverhale in Lukas en Genesis, merk ‘n mens ‘n mooi patroon met presies vier elemente: ‘n hemelse wese
verskyn, kondig die geboorte van ‘n seun aan, noem die naam van die seun en
onthul die toekomstige lot van die seun. Gabriël, die hemelse wese, verskyn en
vertel vir Maria van die geboorte, meld die naam van Jesus en onthul die
toekoms van Jesus.
Maar,
voeg Lohfink by, Lukas sorg dat sy verhaal in nog 'n opsig netjies gevorm is. Vir die tweede deel van die geboorte-verhaal in Lukas, is dit
nodig dat ‘n mens kyk na Roepingsverhale in die Ou Testament waarin mense tot diens van
God geroep word. In sulke verhale soos die roeping van Moses (Eks. 3:10-12) en
van die profeet Jeremia (Jer.1:4-10), is daar ook ‘n patroon met vier elemente: God praat en roep ‘n mens, die mens maak
beswaar, God verwerp die beswaar deur ‘n verdere verduideliking en God gee ‘n
teken om sy roeping te bevestig.
Dit is nou wat Lukas ook doen. In
Lukas 1 word Maria geroep, sy stribbel teen (Lk.1:34), Gabriël praat verder met
haar (Lk.1:35) en gee dan aan haar die teken van haar swangerskap (Lk.1:35).
Lukas bied sy verhaal oor Maria dus aan deur twee verhaalvorme uit die Ou Testament te gebruik. Hy maak daarvan 'n Aankondigingsverhaal en 'n Roepingsverhaal. Lukas
doen dus veel moeite om sy verhaal uit te skryf. Hy bied dit eers aan as ‘n Aankondigingsverhaal waarin Gabriël verskyn, die geboorte van Jesus aankonding, die naam van
Jesus noem en onthul wat met Hom sal gebeur.
Na hierdie Aankondiging, volg die res van die Roepingsverhaal: Maria maak beswaar, maar word deur die Engel oortuig en sy ontvang ‘n teken.
Na hierdie Aankondiging, volg die res van die Roepingsverhaal: Maria maak beswaar, maar word deur die Engel oortuig en sy ontvang ‘n teken.
Wat
is nou die waarde van so ‘n patroon en van Lohfink se versigtige lees van die
teks?
Lohfink is hieroor duidelik. Uit die patroon kom ‘n mens Lukas se eintlike punt agter.
Lukas wil naamlik
in sy verhaal fokus op verse 32-33. Hoe weet ons dit? In enige roepingsverhaal word gewoonlik
gefokus op God se roeping van ‘n mens. Dit is hoe roepingsverhale begin en dit is waarop die klem val. Moses en Jeremia is dus mense wat deur
God geroep is. Lukas beklemtoon in die hoofstuk hierdie moment: dit gaan om die
roeping van Jesus deur God. Jesus is deur God Self aangewys.
Maar,
vervolg Lohfink, hierdie klem op God se roeping werk Lukas nou meer presies uit as ‘n Aankondigingsverhaal. En in so 'n Aankondigingsverhaal is dit die laaste deel oor die
toekoms van die baba, waarop die klem val.
Daarom is die hart van die gedeelte
oor Gabriël in Lukas die onthulling van die toekomstige lot van Jesus in verse 32-33: Jesus
sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Hy sal van die
Here die troon van Dawid ontvang. Hy sal vir ewig koning oor die huis van Jakob
gemaak word.
Lukas
vertel die verhaal van die verskyning aan Maria om die geloof van sy lesers in
Jesus te versterk. Jesus, die Seun van God, die Messias, word as koning verhef.
Hy is die vervulling van die beloftes van die Ou Testament.
Lukas
maak van hierdie roeping van Jesus ‘n geloofsbelydenis. Deur die verhaal word lesers gehelp om die
inhoud van hulle geloof te bely en uit te druk. Jesus is Seun van God, Messias,
Ewige koning.
‘n
Mens kan nou oor hierdie verduideliking opgewonde raak en verwonderd staan hoe kunstig Bybelskrywers oor Jesus praat en hoe patrone 'n mens help om die eintlike punt van gedeeltes te verstaan.
In Bybelse
Spiritualiteit, skryf Welzen wanneer hy die gedeelte bespreek, moet ‘n mens
egter bietjie dieper kyk. Lukas 1 is meer as net ‘n geloofsbelydenis. Dit is
goed en wel en belangrik dat Lukas Jesus as ‘n besondere figuur beskryf wat
hoog bo ander verhewe is. Maar wat doen dit aan ons? Hoe raak dit ons
verhouding met God? Hoe word die leser aangeraak en getransformeer deur die
verhaal? Waarom is hierdie geloofsbelydenis belangrik?
Met
ander woorde: ‘n mens kan mooi dinge, soos Lohfink, oor die Bybel skryf, terwyl
dit nie regtig enige verskil maak aan wie jy is en hoe geloof werk nie.
Bybelse
Spiritualiteit gaan dus om meer as net teologiese inhoude en
geloofsoortuigings.