Wednesday, September 26, 2012

Die sakdoek in plaas van die doodskoot. Oor die sagte kant van oorlog.




In die bekende fotograaf, Obie Oberholzer, se merkwaardige foto-boek: Long Ago Way, het hy ‘n foto van die boere-soldaat by die Kruger-monument op Kerkplein in Pretoria.

Die boek het, soos 'n mens kan verwag, die allerbeste foto's, geneem deur een van ons land se voorste fotograwe. 

Maar dit is Oberholzer se vertellinge aan die ander kant van sy foto's wat my boei.  Op een bladsy publiseer hy sy foto en aan die oorkant, op die ander bladsy, gee hy die interessantste inligting, gevatte kommentaar, of, soms diepsinnige insigte. Sosiale, politieke, godsdienstige en kulturele kommentaar vorm 'n ryke kaleidoskopiese leserservaring. 

Wat my veral boei is die spirituele insigte wat Oberholzer se kommentare by tye oplewer. Hy, erg krities teenoor die kerk van sy jeug weens die genadeloosheid in die preke van sy destydse dominee, asook duidelike afkerig aan die apartheidsverlede met sy droewige onmenslikheid, wys sy lesers by tye die ligte, lig kant van die menslike gees.

Hy vertel in sy historiese oorsig, byvoorbeeld, drogerig, hoedat die standbeeld van Kruger deur die koloniale Kitchener as oorlogsbuit na Engeland geneem is (in 1902).  Die beeld het nogal 'n hele geskiedenis.  Na vele omwentelinge het die beeld uiteindelik in 1954 op Kerkplein beland.

Maar Oberholzer met sy skerp, oplettende oog, stel minder in Kruger se standbeeld as in die standbeeld van die soldaat aan sy voete belang. Sy foto wys nie Kruger se beeld nie, maar die soldaat wat verlangs tuur.

Die beeld van die starende soldaat laat hom dink, skryf hy in sy boeiende byskrif by die foto, aan sy oupa wat ook dikwels so in die verte gesit en staar het.

Op die punt onthou Oberholzer verder: 

Somtyds het sy oupa sy bewerige hand op sy skouer gesit en vir hom vertel van sy wedervaringe as kommando-ryer saam met Generaal de Wet.

Sy oupa, onthou hy, het ‘n koeëlmerk langs sy voorkop gehad en boonop, voeg hy by, kon sy neus heen en weer beweeg.

“Oupa”, het hy op ‘n keer gevra, “vertel my wat met daardie neus gebeur het. Hoe kan oupa dit so rond-beweeg?”

Met ‘n glimlag vertel sy oupa hom toe hoe hy op ‘n keer in ‘n skermutseling met Engelse betrokke was en deur sy neus geskiet is. 

Hy het koers gekies na ‘n spruit om die bloed af te was.

Skielik het ‘n Engelse offisier op die wal bokant die spruit opgedaag.

Oupa was duidelik benoud: “Ek het my oë toegemaak en gebid, want ek het gedink laat ek dan maar eerder in die teenwoordigheid van die Here  sterf.”

Toe hy weer opgekyk het en besef dat hy nog in die lewe is, sien hy die offisier van sy perd afklim, die wal afklouter, afbuig en vir hom sy gevoude sakdoek aanbied.

Oberholzer skryf: “My oupa het stil geraak, asof hy in sy gedagtes kerse aansteek van vergete herinneringe."

En dan, sy gerekonstrueerde jeugdige karakter: "Ek het my hand in sy hand gesit en dit saggies gedruk.”

Ek lees die storie en bedink: Van jonks af, dus, is Oberholzer die oplettende waarnemer. Maar ook die een wat omgee. 'n Oupa-kind. En duidelik 'n oomblik van intensiteit. Oupa wat die dood in die oë staar, jare daarna nog getraumatiseer, met kleinboet wat weet en aanvoel van angs.

Sy oupa, skryf hy, hervat die vertelling oor die Engelse soldaat: “Sy sakdoek was so wit, so mooi, skoon en wit. Ek het gedink wit sou die laaste kleur wees wat ek sien voor die swart wat sal kom wanneer die koeël my tref."

Die wit sakdoek was besig om rooi te raak van die bloed.

Oorlog, besef ek by die lees van Oberholzer se vertelling, wys sy genadelose gesig veral in angs. 

Maar toe salueer die offisier en sê: “ 'Ek is so jammer, boere-soldaat, dat ek jou deur die neus geskiet het.' Toe het hy op sy perd geklim en weggery, terwyl ek agtergebly het met my rooi sakdoek langs die Wilgeboomspruit.”

Oberholzer sluit die storie af: “Toe het ek vir die eerste keer verstaan waarom my Oupa so in die verte gestaar het, net soos die soldaat op Kerkplein.”

‘n Boeiende storie oor menslikheid, selfs in tye van oorlog… 

Spiritueel vertel. In nadenke oor wat mense mekaar aandoen, en nie aandoen nie...

Blog Archive