Die
kerkvaders soos Origines het die Bybel in die eerste plek as ‘n teks vir
geloofsgroei gelees. God spreek deur die Woord tot lesers om hulle op hul
geloofsweg te begelei. Vir hulle was die Bybel ‘n kragbron wat gesoek het om
mense te transformeer tot die dieper verborge lewe by God.
Dit
beteken nie dat die kerkvaders die letterlike betekenis van die Bybel geïgnoreer of geminag het nie. Hulle het wel
deeglik beklemtoon dat dit een van ten minste twee belangrike aspekte van die
Bybelse teks is. Maar, het hulle bygevoeg, ‘n mens kan nie daar ophou nie.
Origines
verduidelik dit, volgens Paul Decock, wanneer hy die episode van die
voetewassing in Johannes 13 bespreek. Die dissipels het alles wat Jesus tydens
die voetewassing waargeneem. Hulle kon sien wat Jesus doen. Maar wat hulle nie
kon sien nie, was waarom Jesus dit gedoen het. Hulle het die geestelike
betekenis daarvan nie begryp nie.
Dus
behoort ‘n mens sensitief te wees vir die dieper, geestelike betekenis van die
voetewassing. Vir Origines was die voetewassing ‘n beeld van hoe die Woord van
die Here die dissipels se voete gewas het. Die verhaal se krag lê in sy geestelike eerder as sy letterlike betekenis.
Net
so het die kerkvaders oor die besnydenis gedink: die besnydenis het vir hulle
‘n dieper betekenis gehad vir hulle nuwe tyd. Die kerk het bestaan uit heidense
Christene op wie die besnydenis nie meer toegepas kon word nie. Daarom het die
kerk die Ou-Testamentiese voorskrifte oor die besnydenis op ‘n nuwe, kreatiewe
manier uitgelê. Paulus praat
byvoorbeeld van die besnydenis van die hart (Rom.2:29). Op ‘n ingrypende manier
het die kerk verder die doop as nuwe sakrament naas die nagmaal ingestel en as
teken van die mens se lidmaatskap van God se nuwe volk.
Vir
die kerkvaders was dit belangrik dat die Bybel nuttig moet wees, sodat dit ‘n
krag tot verandering en transformasie sal word. Kennis, het Augustinus byvoorbeeld
geskryf, is maar net ‘n aspek hiervan. Sekere vorme van kennis kan ‘n mens selfs
opgeblase maak (1 Kor.8:1). Die skrif wil eerder liefde aanwakker (1 Kor.8:1)
deurdat dit ‘n mens nuut maak en bring tot geloof hoop en liefde (1 Kor.13). Wat
saak maak is wat die Skrif nou vir mense in die hede beteken. Die Bybel is nie 'n boek waaroor 'n mens nuttelose spekulasies kan uitwerk nie. Dit is 'n boek wat nut vir die geloof het.
Daarom
het die kerkvaders ook beklemtoon dat die Skrif vir die gehoorsame mens moreel
sterker maak. Die Skrif bou ‘n mens se karakter, vorm jou en maak ‘n verskil
aan jou lewe. ‘n Mens lees dus die Bybel met die openheid om gevorm te word na
God se wil, om in die krag van God te leef en om in gehoorsaamheid die beeld
van God uit te dra.
Dit
is eers in die moderne tyd dat mense die Bybel begin lees het om “feite” te
formuleer en om “sekerheid” vir hul geloof uit te spel. “Kennis” is wat tel en
die “regte” uitleg van eie Bybel het belangrik geword.
Nooit
kan ‘n mens die rol van kennis in geloof onderskat nie. Die Bybel is dikwels
betrokke by die ontmaskering van valse leringe. Maar net so moet ‘n mens kennis
nie oorskat nie. ‘n Mens kan alles weet: jy kan mooi netjies sien wat Jesus
alles doen wanneer hy die voete was. Geleerd kan jy dan vir Jesus selfs voorsê wat Hy verkeerd doen. En dan self heeltemal
buite God se wil wees….
Dit
is nie maklik om die Bybel uit te lê
nie. Gedurig moet ‘n mens jou afvra oor die verborge, dieper betekenis daarvan.
Een
ding weet ‘n mens: as jou uitleg van die Bybel jou geloof versterk, jou hoop
gee en jou in die liefde anker, is jy op die regte pad. Dan is ‘n mens op weg
in die teenwoordigheid van God.