Terwyl
ek Barbara Green se hoofstuk oor die interpretasie van die boek Jona oor vele eeue
heen lees, verwonder ek my weer aan Augustinus se uitleg daarvan. Elke keer weer tref dit my en roep dit nuwe gedagtes by my op.
Dit is woorde wat die hart van Bybelse Spiritualiteit raak.
Wanneer
Augustinus oor Psalm 139:1 skryf (“uit die dieptes het ek na U geroep, o Here!”),
maak hy die volgende opmerkings:
"Jona
het uit die dieptes van die vis se maag geroep. Hy was nie net in die dieptes
onder die waters nie, maar boonop in die dieptes van die vis se maag. Maar
daardie waters en daardie binnegoed van die vis kon nie keer dat sy gebed deur
God gehoor word nie. Sy gebed het deur alles gedring. Dit het dwarsdeur alle
dinge gebars. Dit het God se ore te hore gekom."
Wanneer
Augstinus by hierdie punt uitkom, herhaal en brei hy uit: “ons moet eintlik sê:
terwyl die gebed van Jona deur alle ding heen beur en bars, het dit God se ore
bereik – want die oor van God is in die hart van die een wat bid."
Weer
‘n keer wil ek oor hierdie mistieke opmerking van Augustinus oor die oor van God in die hart van die bidder, skryf: so naby is
God aan mense, aan hulle wat bid. Terwyl die woorde van gebed uitgespreek word,
hoor God al. Selfs voor die woorde oor mense-lippe kom, is hulle al gehoor.
Dit
is nog ‘n dimensie van wat bekend is as die mistieke antifrase: mense bid,
spreek woorde uit, en wag om te kyk of die woorde gaan werk. Sal daar ‘n
reaksie kom? Hoe gaan God die woorde beantwoord? Die sukses van gebed word aan die uitkoms gemeet.
Maar
die wonder is dat die blote uitspreek van daardie woorde al ‘n teken is van God
se teenwoordigheid in ‘n mens se binneste binnekant. Om te wil bid, om die woorde
na Bo te rig, is ‘n teken van verlange wat nie sommer vanself in ‘n mens se
binneste opkom nie.
Die
verlange na God, die woorde wat uit daardie verlange gebore word, is woorde wat
geskenk word. Hulle is genade-woorde. Wie bid, wie op God wag, is deur God
geraak en geroer.
Verlange is gerig op wat skynbaar afwesig is. Maar tog is God op een of ander manier aanwesig, selfs waar gedink word dat God nie daar is nie.
Vele
erger as die wanindruk dat God nie gebede antwoord nie, dat God nie ook
aanwesig is in die plekke van ons grootste donkerte nie, is wanneer ‘n mens nie
meer bid nie. As die woorde verstom het, die verlange opgedroog het… dan is die duisternis volkome en ewig. Dit is hel.
Daarom
hierdie goue wete: in die verlange, in die gebede, is vreugde: want die gebede
en die begeerte vertel van die Stille teenwoordigheid.
Augustinus
het op ‘n boeiende manier Psalm 139:1 met die verhaal van Jona gekombineer.
Vele “deeglike” eksegete sal dit as allegorie bestempel en bietjie wenkbroue
optel.
Maar
wie die geestelike reis ken, sal weet: Augustinus praat uit die hart van die
genade uit. Hy weet van ‘n genadige God wat nader aan mense is as hulle aan
hulself is. En dit is daardie nabyheid en genade wat die verlange laat
ontbrand. Die pelgrim, verlangend op weg, soms in donkerte, weet bly: daar is 'n Reisgenoot wat saam op weg is, al sien 'n mens dit nie...