Dit
maak ‘n verskil hoe ‘n mens die Bybel lees as ‘n mens in ‘n verhouding met God
leef.
Anders
as in die kille wetenskap, lees ‘n mens nie die Bybel bloot om dit te
interpreteer nie. ‘n Mens, sê die woestynvaders al eeue terug, lees die Bybel
om die verhouding met God te verdiep. Die Bybel is die ewige voedsel wat die
honger om God versadig.
‘n
Mens tel nie die Bybel op en bestudeer dit nie.
Die
Bybel is ‘n gespreksvennoot. Gedurig praat die Skrif met mens en gedurig vra
die mens weer aan die Woord sy of haar lewensvrae.
Deur
die gesprek met die Bybel soek ‘n mens dat alles wat ‘n mens daarin lees, in jou
lewe beliggaam moet word. Die heiligheid van die Skrif word ‘n realiteit in ‘n
mens se lewe.
Daarom
het die woestynvaders die Bybel gememoriseer. Waaijman praat van die ruminasie
van die Bybel. Soos ‘n mens die woorde van die Bybel in jou mond, in jou geheue
herhaal en proe en praat, so word dit deel van jou lewe. Die woorde word
herkou.
Om
naby aan God te wees, om heiligmaking te jaag, beteken ‘n mens wil gedurigdeur hierdie
woorde van Bybelse tekste opsê, prewel.
‘n
Mens soek nie slim na allerhande nuwe betekenisse in die Bybel nie – so vertel
Green – maar soek om die woorde deel te maak van jou lewe. Die woestynvaders
leef in uiters barre, gevaarlike en harde omstandighede. In hierdie harde lewe
moet hulle gedissiplineerd leef, hul emosies beteuel, oefen om vir ander om te
gee en konsentreer om die regte besluite te neem. In hierdie moeilike omstandighede
moes die antwoorde, in Bybelse taal, uit hulle binneste opkom as ‘n fontein van
die lewe. Dit het daar in die binneste gekom alleen maar deur gedurig in die
Bybelse taal te leef. Wie versigtig luister, sal verander word. Die heiligheid
van God se dinge word die heiligheid van die leser se lewe.
Die
Bybel word gelees met hierdie doel voor oë – om in ‘n verhouding met God
versterk te word, want wie daarin sterk is, kan woestenye deurkruis.