Paulus staan dikwels
bekend as die kwaai apostel wat sy opponente lelik kan bykom. Soms lyk dit asof
hy selfs oorboord gaan in sy heftige teenkanting teen mense wat van hom
verskil.
Neem byvoorbeeld sy
brief aan die Galasiërs. Daarin verwerp hy die boodskap van ander gelowiges wat
die Evangelie verkondig het. Hulle “Evangelie” is nie ‘n Evangelie nie
(Gal.1:6-7). Die mense wat daardie boodskap verkondig is, skryf hy, vervloek en
dwaas (Gal.1:8-9; 5:10). Sterk en kwaai is Paulus se kritiek teen hierdie
mense.
As ‘n mens aan die
ander kant Paulus se brief aan die Filippense lees, is Paulus heel anders
teenoor mense wat van hom verskil. Volgens Filippense 1:15-18 is daar mense wat
Christus uit afguns en naywer verkondig. Hulle motiewe verskil van ander
predikers wat deur die liefde gedryf is. Maar, skryf Paulus, ten spyte van al
die verskille en van die bedenklike motiewe van sommige, is die belangrikste
dat Christus verkondig word.
Filippense is die
brief van liefde en vriendskap geskryf deur Paulus in moeilike omstandighede op
‘n laat stadium van sy lewe. Al is mense nie altyd suiwer in hul motiewe nie,
is die belangrikste dat die egte Evangelie gehoor word. In Galasiërs is dinge
anders: Paulus is die jong prediker wat die boodskap van bevryding in Jesus
moet beklemtoon. Niks moet gebeur wat mense van die Evangelie afsny nie.
In albei gevalle,
sien ‘n mens tog, is die belangrikste dat die lig van Christus se lewe en
boodskap onaangetas bly.
En tog: selfs al
verstaan ‘n mens dat Paulus kon sien en kon onderskei wanneer om mense aan te vat,
bly die verskil opvallend. Paulus is die mistagoog, die een wat mense op hul
geestelike weg begelei en wat daarop ingestel is om hulle tot geestelike
volwassenheid te bring. In die proses kan hy self buigbaar wees, verdraagsaam,
akkommoderend. Ander kere weer vreesloos. Maar steeds weer gaan dit om die
geestelike welsyn van mense wat saam met hom die geestelike weg loop.