Die
aankondiging van die geboorte van Jesus in Lukas 1:26-38 is een van die min
plekke in die Bybel waar Maria prominent genoem word. Dit is dus vir
Rooms-Katolieke eksegete ‘n gewilde hoofstuk. Een van hulle, Rene Laurentin,
wat bekend is as ‘n kenner op Maria-studies, het ook die geboorte-verhaal
ontleed.
Hy
wys daarop dat die twee gedeeltes oor die aankondiging van Jesus en Johannes se
geboortes parallelle verhale is. Maar origens, skryf hy, verskil die twee
verhale hemelsbreed.
Dit
is interessant hoe hy die teenstellings uitlig:
Sagarias,
Johannes se pa, is ‘n bevoorregte, ryk priester wat gerekend in sy tyd was. Die
engel verskyn ook daarom aan hom in die tempel as ‘n spesiale plek. Maria,
daarenteen, het nie veel waarop sy haar kan roem nie. Lukas sê niks oor haar
sosiale status nie. Anders as Sagarias het sy nie ‘n familie wat ‘n trotste
geskiedenis het nie. Die aankondiging van die geboorte gebeur ook in ‘n
onbekende plekkie en nie in die belangrike hoofstad Jerusalem nie.
Tog
kies God juis vir hierdie ongerekende vrou om die Verlosser se ma te word.
Laurentin
lig ander kontraste uit:
Sagarias
is ‘n vroom mens wat uitblink in gehoorsaamheid. Maria kan maar net genade
ontvang.
Sagarias
ontvang die nuus, terwyl Maria, volgens Lukas, die nuus van die engel in haar
binneste opneem en daaroor reflekteer.
Sagarias
glo nie die aankondiging nie. Maria se reaksie laat die engel vir haar ‘n
belofte maak.
Sagarias
is aan die einde van die verhaal stom. Maria sing ‘n besondere lied waarin sy
haar geloof uitdruk.
Hierdie
verskille, volgens Laurentin, wys daarop dat Maria ‘n simbool is van die volk
wat uit genade bevry word en God se beloftes ontvang.
In
sy bespreking van Laurentin se uitleg van die Bybel het Welzen goed ingeligte
kritiek. Hy wys daarop dat Maria en Josef ook deur Lukas as gehoorsame mense
geteken word (Lk.2:22-24) en dus as wetsvrome mense. In die opsig is daar geen
kontras tussen Sagarias en Maria nie.
Wat
wel waar is, is dat daar ‘n definitiewe verskil is tussen Johannes as die
profeet van die Allerhoogste en Jesus as die Seun van die Allerhoogste. Die
verhaal gaan dus nie daarom dat Maria as die eenvoudige, nederige mens verhoog
word in sosiale status nie.
Dit
is op hierdie punt dat Bybelse Spiritualiteit beslissend inwerk: hier begin ‘n
mens raaksien dat die gedeelte te doen het met die geestelike dimensie van die
mens se verhouding tot God eerder as bloot net sosiale kwessies.
Daarmee
word belangrike geestelike aspekte van die verhaal beklemtoon. Dwarsdeur die
Maria-verhaal neem God die inisiatief. God stuur die boodskapper. God verhoog
Maria. God is dus die een wat die verhouding met Maria aanknoop.
En,
soos met enige verhouding, het dit sterk invloed op Maria en haar mens-wees. Sy
word geestelike vernuwe en getransformeer. Sy word deel van God se metamorfose
van mense op die rand van die samelewing.
Lesers
van Lukas se evangelie word deur Lukas opgeneem in die groot geestelike
vernuwingsproses wat in Jesus begin het. God bevry mense van hul bande. Sosiale
konvensies word geïgnoreer en eenkant geskuif. Wat tel is nie wat die posisie
van mense in ‘n samelewing is nie. Wat tel is of hulle hul volledige menswees
in Christus ontdek en dus verander word tot vry, sterk en volwasse persone.
Want vir Lukas kan ook arm mense deel wees van God se werking. Vroue, geminag
deur vele, is in Lukas se verhaal steunpilare in Jesus se bediening.
Niks,
nie eers die sterkste kulturele, sosiale en politieke vooroordele en konvensies
kan God se werking en God se transformasie van mense stuit nie.
Bybelse
spiritualiteit open ons oë vir die geestelike dimensies in ‘n teks en verhinder
ons om ‘n teks bloot net in terme van sosiale prosesse te lees. Hoewel die
Bybel duidelik politieke implikasies het, help Bybelse spiritualiteit ‘n mens
om die belangriker dimensies raak te sien en om nie die geestelike te
verpolitiseer nie.
Dit
is nogal ‘n belangrike aspek wat baie meer aandag verdien as wat tans die geval
is.