-->
Dikwels vra mense wat spiritualiteit is.
In antwoord daarop sal ‘n mens ‘n groot klomp aspekte kan lys van sake wat in spiritualiteit na vore kom.
In Christelike spiritualiteit speel duidelik en veral blydskap ‘n belangrike rol. Spiritualiteit in 'n Bybelse konteks kan nie daarsonder verstaan word nie.
In Christelike spiritualiteit speel duidelik en veral blydskap ‘n belangrike rol. Spiritualiteit in 'n Bybelse konteks kan nie daarsonder verstaan word nie.
Die verhouding met God het mense se lewens eerstens lig gemaak,
deurtrek met vreugde in die teenwoordigheid van die Here in hul lewens. Dit het
hulle, tweedens, bly gemaak om te kan vasstel wat God vir hul lewens wou gehad het. Nie hulle
begeertes nie, maar God se begeerte was in hul fokus. Daarom was dit vir hulle
sinvol om te soek na hoe hulle God se wil kan ken en kan uitlewe.
Dit was maar twee kante van hul
geloofsvreugde. Ten nouste hiermee saam het gelowiges ook, derdens, vreugde
gehad in die kultus en die feeste. Hulle “eredienste”, hulle tye van offerandes
in die tempel en hul gereelde rituele het ook vir hulle bly gemaak. Dit kom
sterk na vore in hulle geskrifte.
Daardeur het vreugde eintlik 'n instelling geword, 'n gereelde en kenmerkende aspek van hul gemeenskaplike byeenkomste.
Wanneer gelowiges bymekaar was om hul geloof
te vier, het dit steeds weer met blydskap gepaard gegaan.
Barton verwys byvoorbeeld na Psalm 95:1-3 wat
uitroep: “Kom, laat ons vir die Here sing. Laat ons vreugdevol uitroep tot die
rots van ons heil. Laat ons in sy teenwoordigheid met dankbaarheid ingaan. Laat
ons vreugdevol uitroep met prysliedere. Want die Here is ‘n groot God en ‘n
groot Koning bo alle gode.”
Hiermee word duidelik dat die tempel-byeenkomste,
die bring van offers intens beleef is as tye van blydskap. Veral wanneer hulle
die offermaaltyd geëet en gedrink het, was dit vir hulle ‘n vreugdevolle
ervaring.
Die offers en offermaaltye het gereeld
plaasgevind. Dit was hulle rituele wat hul vreugde in hul verhouding in en
vertroue op God versterk het en wat hulle keer op keer herhaal het.
Vir die gewone gelowige was hierdie vieringe
en hul godsdienstige handelinge wat daarmee saamgehang het, besonders. Die gee
van hul tiendes, die viering van loofhuttefees en die hou van Pinksterfees wat met die vieringe gepaard gegaan het, was vir hulle nie
‘n plig of inspannend nie.
Spontaan het vreugde hulle gebring tot vieringe en spontaan het die vieringe vir hulle bly gemaak.
Dit was ‘n aktiwiteit waarin elkeen,
ook saam met ander, elke keer weer, opnuut, die eenheid tussen God en die skepping, die gawe van
verlossing en die ontvangs van die beloofde land uit God se hand gevier het.
Keer op keer het hulle by hierdie tye en geleenthede hulle daaraan herinner
hoe nou hulle aan God verbonde was.
Maar dit was nie ‘n vreugde wat hulle uit die
wêreld laat ontvlug het nie. God was aan hulle, in hulle tyd en in hulle plek
verbonde. Hier noue, intieme verhouding met God het hulle met nuwe oë laat kyk
na hulle self, hul tyd en hul wêreld.
Dit is ook om hierdie rede dat, veel later, in 'n Nuwe-Testamentiese konteks, die
nagmaalsformulier uitdruklik uitspel dat die nagmaal ‘n vreugdefees is. Hier, ook in die somberheid van die Laaste Maal,
word gevier, geprys, gesing, en op vele maniere uitdrukking gegee aan die groot
gedagte van God se noue verhouding met die mens. Uiteindelik kan ‘n mens verby
die dood van Jesus, verby die offerandes heen, die groter, dieper realiteit
vier dat ‘n mens nader kom aan God, dat alles wat ‘n mens herdenk vertel van
God se koms in liefde tot die skepping.