Monday, June 08, 2009

Aanskouing van God as oneindige verlange. Oor kontemplasie.

Daar is soms in die teologiese wêreld allerhande groot woorde wat vir teoloë belangrike dinge sê. Net so is daar ook in spiritualiteit die woord meditasie as 'n sleutelbegrip. Maar baie mense hou nie eintlik van die woord nie, want hulle dink aan mense wat in ‘n trance gaan en hulle selfbewussyn heeltemal kwyt is. Selfs stywe, uitpeuloogkaste, stuiptrekkings en allerhande ekstatiese onnatuurlikhede kom as gedagtes by hulle op.

Die egte meditasie is juis so wonderskoon omdat dit die menslike kant van die verhouding met God nooit kwyt raak nie. Die Bybel praat deeglik van meditasie, al is dit in ‘n ander sin van die woord as wat soms bedoel word daarmee. Ek is nog altyd geraak deur Bybelgedeeltes waar meditasie in die sin van mymering wel bedoel word en glad nie in die sin van ‘n vreemde verlies van jou bewussyn nie. Die mooiste voorbeeld is vir my Lukas 1:19 waar Maria die vreemde verskynsel gehad het van ‘n engel wat Jesus se geboorte aan haar aankondig. As dit verby is, staan daar: Maar Maria het “al hierdie woorde” bewaar en “in haar hart oordink.” Meditasie is hier oordenking (nie nadenke nie). Ou mense en ouer dominees praat daarom dikwels eerder van “oordenking” as van preek, wat miskien iets is wat ons weer in ere moet herstel.

Om te mediteer beteken om, soos Maria, die woorde van die Here te bewaar en in jou hart te oordink. Die woorde van die Here moet jou eie word, dit moet bewaar bly. Dit moet in jou hart gaan lê en jy moet daaraan bly dink, steeds weer en weer: wat vra hierdie woorde van my, wat doen hulle aan my (nie net wat “beteken” hulle nie). Maria bedink ook nie die sensasionele nie: O, ‘n engel het aan my verskyn nie. Sy mediteer oor die woorde van God. Maria is in geen trance nie, maar sy is diep in haarself gekeer, in toegespitste aandag op wat God besig is om te doen.

Daar is tog ook eintlik iets diepers en groters as meditasie waarvan hier sprake is. Om die Here se woorde in jou hart te bewaar en te bedink is nog lank nie die einde van die geestelike reis nie. Dit is maar die begin van die reis. Want uiteindelik moet ons hartsgedagtes ons hartsgeheim word. Dit gebeur wanneer ons hierdie Woord begin bid – soos in die Psalms. En nog meer: die geheim van die hart is wanneer ons, terwyl ons bid, bewus word van iets grotes wat met ons gebeur. Dit gaan hier om kontemplasie. Kontemplasie kan in woordeboek-taal beskouing, oorpeinsing beteken. Maar dit is eintlik iets meer: dit is eerder aanskouing. Daardie direkte, onmiddellike ervaring van die teenwoordigheid van God.

As ons die Bybel lees, moet dit ons altyd weer iewers in God se teenwoordigheid bring. Die woorde van die Here moet ons by die Here self uitbring. Ons lees die Bybel (lectio), mediteer oor die betekenis (meditatio), bid daaroor (oratio) – want in gebed antwoord ons op wat God vir ons sê en raak ons betrokke in ‘n verhouding met God. Maar dan kom die diepste punt, verby gebed, verby ‘n verhouding met die Here, wanneer ‘n mens een is met God op die mees intieme manier. Dit is dan dat ‘n mens in God se liefde tot rus kom. Op ‘n kol gebeur dit dat jy die Bybel lees en dan weet jy jy kan nie meer verduidelik wat hier aan die gang is nie, maar jy is op heilige grond. Dit gaan nie meer om jy wat bid nie, maar om God wat by jou is. Alles word nou tot die ruspunt gebring: ons harte is gevul met die geheim van God se verborge teenwoordigheid.

Dit is daardie wete wat ons aantref by die digter van Psalm 118:6: “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie.” Ons het by ‘n punt uitgekom dat ons nie meer bid nie: Here, ek is bang, wil U by my kom woon nie. Nou is ons gebed beantwoordL “Ek weet, ek ken die verborge geheimenis: my vrees is verby, die Here is by my” (nie “ek is by die Here nie”).

Moet tog nooit dink hierdie reis is maklik en seepglad vir mense wat netjies nadink, mymer en bid nie. Hierdie psalm is vol lyding: die psalmis se vyande het “soos bye” om hom gepak, “maar hulle het verdwyn soos doringtakke in ‘n vuur” (Ps.118:12). Hy vertel die Here het hom swaar kasty. Dikwels, dikwels is die Here op ons geestelike reis weg en soek ons vervaard na die Here. Maar dan, op ‘n punt, vul ‘n wete ons en dan kan ons uitroep: “Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof”.

En dan volg die aanbiddings-uitroep, uitgespreek direk tot die Here: “Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het.” Die psalm eindig dan met die diepe wete: “U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing.” Jy weet, jy weet: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” (Ps.118:28-29). En daarom kan jy die Psalm begin met die woorde: “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie” (Ps.118:7).

Meditatio is mymering, diep nadink oor woorde van die Here. Oratio is wanneer daardie woorde van die Here in my my eie woorde losmaak. En contemplatio is verby alle woorde: ek hoef nie meer te dink nie, te praat nie. Ek kan ervaar: Ek is by God. Ek aanskou God. Ons het nou van alles vergeet: selfs van ons eie gebed. Ek ervaar met verrukking dat ek alleen maar een ding wil doen: ek wil uiting gee aan my oneindige verlange (infinite longing) om God te aanbid, God te loof, in die Here se teenwoordigheid met lof te skuil. ‘n Oorweldigende lofpsalm borrel by my uit. Dit is goed om te leef by die Here. Ek word losgemaak van al die ankers van tydelikheid en verganklikheid. Ek ervaar die oneindige verlange om vir ewig hier in die onverganklike teenwoordigheid van God te bly. Al waaraan ek kan dink, is om by God te wees. Al waaraan ek kan vashou is aan dit wat nooit sal ophou nie, dit wat vir altyd daar sal wees. Die verlange na die Oneindige – dit is contemplatio. En die diepste wonder is dit: dat ek, mens, die eindige, die verganklike, dat ek by God kan wees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive