Sunday, June 07, 2009

God se afwesigheid vertel van God se teenwoordigheid

Die mistieke ervaring het as ‘n onderdeel daardie ekstatiese oomblik waarin jy alle sin vir die werklikheid verloor (sien elders op hierdie blog). Jy vergeet jouself en raak verlore in dit wat jy ervaar. Die ekstatiese oomblikke is egter so drasties dat dit by jou voortluier en jou oor ‘n lang tyd heen omvorm. Jy kan die nawerking daarvan nie ontkom nie. Selfs een maal se aanraking deur God is genoeg om jou lewenslank by te bly, selfs al besef jy dat dit net vir ‘n oomblik, vir ‘n tydjie was.

Wat dit ook ‘n harde ervaring maak. Want die verlange na God word sterker as ooit tevore as dit lyk of God weer uit jou lewe verdwyn het. Jy besef jy is maar net tydelik by God gewees. God bly maar steeds bloot ‘n besoeker (Cussons), wat jou be-soek.

Selfs Jesus het dit so ervaar. Die duif wat op Jesus neerdaal, hom aanraak en hom roep tot navolgelingskap, is weg, verby. En dan word Jesus die verlangende soeker, die een wat met bloedsweet gehoorsaamheid aanleer.

Hierdie onttrekking van God, God se weggaan, is, vreemd genoeg, ‘n genadegawe. Om deur God in ‘n genadige aanraking besoek te word, kan so maklik ‘n vanselfsprekendheid word. Ons kan maklik dink ons was geregtig daarop om die eenwording met God ervaar. (Laat ons vir U hier ‘n tentjie bou....) Wanneer God se aanraking verby is, word ons verbyster deur die feit dat ons tog nie vir God kan beheer nie, dat dinge nie nou netjies afgesluit is nie. Ons is weer terug by daardie punt waar ons was toe God ons onverwags, onvoorspelbaar en so uit suiwer genade die eerste keer besoek het. Deur van ons weg te gaan, trek God ons weer terug na God toe, om op God te wag . Na sy opstanding was Jesus tot die Emmausgangers se blydskap by hulle. En toe, meteens, was hy weg. Weg. Jesus se hemelvaart was opnuut weer ‘n afskeid, ‘n weggaan. Maar dit was ook ‘n tyd van biddende afwagting op die Heilige Gees.

Deur weg te gaan, maak God ons opnuut weer bewus van God se teenwoordigheid! As jy op soek is na 'n kosbare besitting, kom jy agter hoe belangrik dit in jou lewe is.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive